top of page

1965 - Die Springbokke verloor sewe uit agt toetse

Updated: Mar 29, 2021

Die jaar 1965 was in vele opsigte kontroversieel vir die Springbokke en meestal negatief. Om by te voeg tot die titel hierbo het Suid Afrika reeds vanaf 1963 begin sukkel toe hulle nie de reeks teen Australië kon wen nie en ook nog teen Frankryk op eie bodem verloor het in 1964. Waar die foute ingesluip het kan ons probeer ontrafel sodat die nageslag kan weet hoekom dit so gebeur het. Die skuld van die swak vertonings in 1965 het egter niks te make gehad met die nuwe Springbok kenteken of embleem wat verander is nadat die vorige embleem vir net twee jaar in gebruik was nie.


Die Maori naam vir Nieu Seeland is: Aotearoa "The Land Of The Long White Cloud"



The Springbok rugby touring team to Australia and New Zealand, 1965.
Springbok toerspan





Dit was 'n instelling dat wanneer toere na Nieu Seeland gereël word, Australië ook by die reisplan ingesluit word omdat daar in elk geval in Australië geland word oppad na Nieu Seeland en omdat Australië ook 'n Internasionale rugby land is.


 

2 Toetse

(101) Australasië, Saterdag, 19 Junie 1965

Sydney Krieket Veld, Sydney - Eerste Toets

Suid Afrika 11, Australië 18

Toeskouers (45 946)

Skeidsregter: Craig Ferguson (Australië)






Voorwoord deur die bekende Suid Afrikaanse sport skrywer A.C. Parker: "I have never seen a South African team prepare so inadequately for a test match." Op die Donderdag voor die toets het die spelers net 'n ligte oefening gehad want afrigter Muller wou nie geheime weggee aan die belangstellendes uit die opposisie kamp nie en daar was meer gepraat deur Nelie Smith en Abie Malan as geoefen.


EERSTE HELFTE:


Voor 'n rekord skare van oor die 45 000 mense was dit Australië wat binne die eerste 17 minute hulle stempel op die wedstryd afgedwing het. Die Wallabies was toe al klaar voor met 9-0 en kon verder voor geloop het as Marks nie Ellwood se aangee laat val het nie. Die Wallabie voorspelers het balle na willekeur gewen en Hawthorne wat uitstekende diens van Catchpole gekry het, het die Springbokke verleë gehad met goed geplaasde skoppe na oop spasies.


Australian rugby union fullback, Jim Lenehan scores a try against South Africa in Sydney, 1965.
Jim Lenehan duik oor

In die sewende minuut het Ellwood 'n strafskop oorgesit na 'n lynstaan oortreding deur die Springbokke (0-3). Die Springbokke het 'n goeie kans vir punte verbrou toe Jannie Barnard verby Hawthorne gebreek het maar sy goeie aangee in die "25" is deur Gainsford aangeslaan. Na 13 minute was dit 6-0 toe Mannetjies Roux onkant betrap is voor die pale en Ellwood het oorgeskop.


Vier minute later het Australië se drie gekom toe hulle die bal in die skrum gehou het voor die pale en toe laat loop het na Hawthorne wat na die steelkant omgehardloop het en met 'n oorslaan aangee verby vleuel Boyce vir heelagter Lenehan in besit gestel het wat in die hoek oorgeduik het. Sy drie kon nie vervyf word nie (0-9). Tommy Bedford is "ge-trip" deur Stewart Boyce en sodoende verhoed om by Lenehan te kom op die verdediging. Die volgende 10 minute was Suid Afrika steeds op die verdediging en ook nie gehelp deur swak skopwerk deur Barnard nie.


Springbok winger Jannie Engelbrecht scores a try during the first test against Australia in 1965.
Jannie Engelbrecht se tweede drie

Die Springbokke se drie het wel gekom nadat die einste Barnard 'n lang skop veldop gegee het en Lenehan wat 'n bietjie stadig was om by die bal te kom en die spring van die bal het hom ontwyk maar in die hande van Jannie Engelbrecht beland wat oopgelê het doellyn toe vanaf die 10-treë lyn en onder die pale gaan druk het met Tiny Naude wat die vervyfskop oorgesit het (9-5).



Die Springbokke het onmiddelik beter gespeel na die drie en gevorder tot op die kwartlyn van Australië. Dit was egter van toe af dat die skeidsregter Ferguson aanhoudend fout gevind het met die Springbokke se voorspeler spel en hulle kort-kort gestraf het. Hy het hulle kwaai gestraf vir lynstaan oortredings wanneer die stutte vir die slot wat die bal gevang het ondersteun het, maar wat hy as onkant gesien het, iets wat nooit in Suid Afrika of Nieu Seeland gebeur het nie. Die skeidsregter het die sleutelfiguur geword en die Springbokke van die veld afgeblaas. Selfs die Australiërs was verleë hieroor.


The Australian flyhalf Phill Hawthorne being led off the field with an injury during the first test against South Africa in Sydney, 1965.
Phill Hawthorne beseer

Die Springbokke was so frustreerd met die skeidsregter wat hulle aanmekaar opgeblaas het hoewel baie mense wat 'n vloeiende wedstryd wou sien, simpatie en ontevredenheid getoon het. Hawthorne moes die veld verlaat na 'n lelike skop teen die kop in 'n losskrum nadat hy na bewering die bal vasgehou het. Piet Botha was aangepraat deur die skeidsregter en 'n stafskop is aan Australië gegee wat Ellwood oorgesit het om hulle teen rustyd met 12-5 te laat omdraai. Van die toeskouers was so kwaad dat polisie moes keer omdat hulle Botha as die sondebok uitgesonder het.


TWEEDE HELFTE:



Nadat Hawthorne terug gekom het in die vyfde minuut, sy kop verbind, het die Wallabies beheer oorgeneem in die lynstane en losgemale. Tommy Bedford met sy spoed was uitstekend op verdediging. Mannetjies Roux het toe vêr gehardloop vanaf sy kwartgebied maar kon nie aansluiting kry by Barnard nie en weer was Stewart Boyce die skuldige met terughou. Nog steeds was die Springbokke in die lynstane gestraf en in die 23ste minuut was dit Australië wat feitlik seker gemaak het van 'n oorwinning. Die bal is oor die Springbok doellyn geskop en agterna gesit deur Boyce en Wilson, wie se enkel beseer was. Wilson het blykbaar met Boyce se poging interveer en is gestraf waarna Ellwood die strafskop oorgesit het (15-5).


Australian scrumhalf Ken Catchpole runs at full speed against South Africa in 1965.
Catchpole op volle vaart

Toe Brynard 'n goeie aangee van Roux laat val was Stewart Boyce by en hy het die bal met kundigheid beheer en gedribbel vir 35 treë voordat hy in die hoek oor is vir sy drie wat hyself nie kon vervyf nie (18-5). Met net sewe minute oor het die skeidsregter die spel meer laat vloei en die Springbokke het by tye gevaarlik gelyk. Johan Schoeman was naby die lyn gestuit deur 'n smoorvat van heelagter Lenehan mmar ses punte het in die laaste drie minute gekom.


Springbok scrumhalf Nelie Smith about to pass the ball against Australia, 1965.
Nelie Smith

Eers het Tiny Naude 'n redelike maklike strafskop oorgesit toe Dick Marks onkant betrap is om die telling 18-8 te maak en feitlik op die einde was dit Nelie Smith, die kaptein wat wyd gebreek het vanaf 'n losskrum. Hy het toe vir heelagter Lenehan getrek voor hy vir Jannie Engelbrecht in die hoek oorgestuur het vir die laaste punte van die toets. Tiny Naude se vervyfskop uit die hoek was mis en die eindfluitjie het hierna geblaas. Australië het geskiedenis gemaak met die telling van 18-11 deurdat dit die eerste tuis oorwinning oor Suid Afrika was in 28 jaar van kompetisie.


Die Suid Afrikaanse bestuurder Mnr. Kobus Louw het geen geheim daarvan gemaak hoe ongelukkig hy en die Springbokke was met die skeidsregter wat 18 strafskoppe vir Australië en net vyf vir Suid Afrika toegeken het nie.


 

2 Toetse

(102) Australasië, Saterdag, 26 Junie 1965

Lang Park, Brisbane- Tweede Toets

Suid Afrika 8, Australië 12

Toeskouers (10 000)

Skeidsregter: Kevin Crowe (Australië)




The Springbok rugby team that played in the second test against Australia in Brisbane, 1965.
Springbokspan, 2de toets

AGTER: Boet Mulder, Trix Truter, Piet Botha, Tiny Naude, Lofty Nel, Hambly Parker, Hannes Marais. SITTENDE: Frik du Preez, Jannie Engelbrecht, Abie Malan, Kobus Louw (Bestuurder), Nelie Smith (Kaptein), Hennie Muller (Afrigter), John Gainsford, Lionel Wilson, Tommy Bedford. VOOR: Jannie Barnard, Mannetjies Roux.


Boet Mulder was saam met die span afgeneem omdat hy sou gespeel het as Lionel Wilson se enkel besering nie betyd sou herstel het nie, maar dit het. Trix Truter het vir Gert Brynard vervang, Hannes Marais op vaskop vir Andy Macdonald en Lofty Nel vir Haas Schoeman.

Die enigste verandering vir Australië was dat Jules Guerassimoff vir Greg Davis vervang het wie se knie besering nie herstel het nie.


EERSTE HELFTE:


Die Australiërs van John Thornett het verkies om eers saam met die wind te speel op Lang Park, wat die hoofkwartier is van "Queensland Rugby Leaque" in Brisbane. Queensland Rugby Unie het nie sy eie veld gehad nie. Die Springbokke het so indrukwekkend begin dat Ken Catchpole agterna gesê het dat hy gedink het hulle gaan met 30 plus punte verloor. Met Botha wat meeste balle in die lynstane gewen het het die Bokke lekker hardloop rugby gespeel. Naude se strafskop vanaf net 32 treë moes oor gewees het, maar in die 9de minuut het die Springbokke 'n drie gedruk.


Springbok lock forward, Piet Botha wins a lineout against Australia in Brisbane, 1965.
Piet Botha wen 'n lynstaan

Toe Hawthorne weer vinnig opskiet om Jannie Barnard te merk, toe systap Jannie hom en hy was ook verby nog twee verdedigers voor hy 'n lang aangee vir Jannie Engelbrecht gegee het. Engelbrecht was op volle vaart en met heelagter Lenehan voor hom het hy die bal aan die binnekant na John Gainsford gegee wat vyf treë van die hoekvlag af oor is vir sy sesde drie in 26 toetse. Naude kon egter nie die skuins vervyfskop oorkry nie (3-0). Die voorsprong was van korte duur toe Ellwood twee minute later 'n strafskop van 35 treë oorgesit het (3-3).


In die veertiende minuut was dit weer so toe Suid Afrika se tweede drie gekom het. Vanaf 'n skrum op die Wallabies se tien treë lyn het Jannie Engelbrecht ingesny aan die buitekant van Jannie Barnard. Dit het 'n man oor bewerkstellig en met vinnige hand-tot-hand bewegings is die bal in die agterlyn af tot by vleuel Truter wat in die hoek gaan druk het. Die slag het Naude se skuins skop hoog oor die dwarslat geseil om dit 8-3 te maak vir die Springbokke wat op daardie stadium in beheer was.


Maar soos in Sydney was dit weer die skeidsregter, die keer was dit Mnr. Kevin Crowe wat 'n klip in die pad van die Springbokke was toe hy die een strafskop na die ander teen die Bokke begin toeken het. Wanneer Australië die bal gewen het was dit losskakel Hawthorne wat met lang skoppe saam met die wind veld gewen het. In die 22ste minuut was daar 'n strafskop vir 'n skrum oortreding aan Australië toegeken en Ellwood het geslaag met 'n goeie skop van 40 treë om dit 8-6 te maak. Nog 'n strafskop in die losgemaal aan Australië het vir Lenehan kans gegee om van 45 treë af sy strafskop oor te sit (8-9). Met 'n sewende strafskop aan Australië het Lenehan in staat gestel om die voorsprong te vergroot na 8-12 vir Australië.


TWEEDE HELFTE:


Die Springbokke het in die tweede helfte die meeste gebiedvoordeel geniet en Australië vasgepen. Daar was na berig word vier redes hoekom Suid Afrika nie kon punte aanteken met soveel gebiedsvoordeel en met die wind van agter nie. Eerstens was dit Australië se rotsvaste verdediging, onoordeelkundige skopwerk van Barnard op losskakel, spelers wat kop verloor het en laastens die skeidsregter se strafskoppe elke keer dat die Springbokke in die kwartgebied van Australië geskrum het.


Springbok Abie Malan and Ron Heming of Australia, 2nd test, Brisbane, 1965.
Malan en Heming op die grond

Die Wallabies was ook 'n irritasie toe hulle 'n paar keer wanneer die Springbokke sterk op die aanval was, "'n besering" opgedoen het. Gainsford het gebreek en Roux het vorentoe geskop met Lenehan wat die rollende bal agter sy doellyn aangeslaan het maar met die vyf treë skrum is Suid Afrika weer gestraf. Naude se lang skop van 'n volle 60 treë was mis.


Truter het 'n goeie kans gehad met 'n oop doellyn voor nadat O'Gorman nie kon uitskop nie met Bedford en Marais op hom, maar die vleuel het aangeslaan. Met net 'n paar minute oor het kaptein Nelie Smith besluit om 'n tikskoppie te vat naby die lyn maar dit was gesmoor deur die Wallabies wat wakker was. Die toeter het die einde van die wedstryd aangedui met Australië wat die tweede toets met 12-8 gewen het en daardeur hulle eerste reeks oorwinning tuis of oorsee behaal het. Suid Afrika het hulle vyfde toets op 'n ry verloor, nie iets om op trots te wees nie.


 

NIEU SEELAND 1965

"The Land of the Long White Cloud"





 

4 Toetse

(103) Australasië, Saterdag, 31 Julie 1965

Athletic Park, Wellington - Eerste Toets

Suid Afrika 3, Nieu Seeland 6

Toeskouers (46 200)

Skeidsregter: Pat Murphy (Nieu Seeland)




The Springbok rugby team that played against the All Blacks in the first test of 1965 in Wellington.

The All Black rugby team that played against South Africa in Wellington, 1965.


TREMAIN SE DRIE - NOG 'N SKEIDSREGTER SE FOUT


EERSTE HELFTE:


Dit was 'n klipharde eerste toets wedstryd op 'n nat veld met 'n 50 m.p.u. wind wat die koue in jou beendere laat voel het, gespeel op Athletic Park in Wellington wat verdienstelik deur Nieu Seeland met 6-3 gewen is, hoofsaaklik omdat hulle voorspelers in die tweede helfte spel beheer het toe dit saak gemaak het en die bal weg gehou het van die gevaarlike Springbok agterspelers. Daar was wel 'n kontroversiële voorval net voor rustyd wat die ganse perskorps laat gons het en van die Springbokke sprakeloos gelaat het. Ja jy het reg geraai, weer 'n skeidsregter's fout wat die Springbokke nie net punte nie, maar die toets gekos het.


Kelvin Tremain, flank forward of the New Zealand rugby team scores a controversial try against South Africa in 1965.
Tremain se omstrede drie

Die Springbokke was agter met 0-3 teen die wind en toe gebeur die voorval op die 40 minute merk. Die All Blacks het met mening voorlangs ingeklim veral omdat hulle losskakel Murdoch balle weggeskop het en naby die Springbokke se doellyn is die bal gehaak. Skrumskakel Laidlaw het steelkant om geharloop en na heelagter Williment laat loop maar hy is onmiddelik hard deur Dawie de Villiers geduik, soveel so dat die bal vorentoe los gespat het (foto lings). Kelvin Tremain die All Black flank was by om die bal op te raap en in die hoek oor te duik. Tot die verbasing van die pers (dit het reg voor hulle gebeur) het die skeidsregter Mnr. Pat Murphy van Nieu Seeland die drie toegeken instede van 'n strafskop want Tremain was onkant. Selfs die televisie film het dit na die tyd gewys, maar die skeidsregter het beweer die bal is van Williment se bene af vorentoe, maar hy was nie in 'n goeie posisie om te oordeel nie. Hy moes eers die vlagman geraadpleeg het en in 'n belangrike toets wedstryd waar die telling net drie punte verskil was, het hy die Springbokke net daar van 'n ten minste gelykop uitslag beroof.


Two rugby players, Engelbrecht (South Africa) and Smith of New Zealand chase after the ball.
Engelbrecht en Smith jaag die bal

Na net vyf minute was die All Blacks voor met 3-0 toe Bill Birtwistle gaan druk het nadat heelagter Mick Williment aan die steelkant ingekom het vir die man oor, maar die drie kon nie vervyf word nie. Die Springbokke moet krediet kry dat hulle halftyd net 0-6 agter was teen die sterk wind en ook teen die aanslag van die All Blacks wat genoeg balle voorlangs gewen het in nat kondisies wat hulle beslis beter gepas het.


TWEEDE HELFTE:


The All Blacks wedge in tightly to secure a ball against South Africa in Wellington, 1965.
All Blacks beskerm die bal

Kaptein Wilson Whineray het gesien dat sy binne agterspelers met veral Murdoch en Collins die goeie bal wat die voorspelers aan hulle besorg het, doelloos weggeskop het en het toe besluit op 10-man rugby waar die voorspelers moes dryf om oor die voordeellyn te kom en dan met sy skakels veld te wen deur die bal uit te skop.


Die agterstand het met die helfte gekrimp toe die Springbokke in die agste minuut van die tweede helfte 'n skrum binne die All Blacks se kwart gebied gekry het en Keith Oxlee 'n skepskop kon oorsit (3-6). Spel het van toe af slordig geword aan beide kante toe eers die All Blacks swak hanteer het en toe weer die Springbok agterspelers wat stadige bewegings uitgevoer het en die skare het begin skree "Black, Black, Black soos wat die einde nader gekom het en die gespook en gespartel al harder geword het in die koue en nat toestande.


Frik du Preez of South Africa has won the ball in the lineout against the All Blacks in Wellington, 1965.
Frik du Preez het die bal

Die drama van die tweede helfte het eintlik gegaan om gebiedsvoordeel te kry en die titaniese stryd tussen die voorspelers aan beide kante om veld te wen met dryfbewegings en deur te probeer om iewers 'n gaping te soek. Twee keer was dit Naude wat nie kon slaag met strafskoppe nie en toe weer Oxlee met twee skepskop pogings waarvan een naby was.


Suid Afrika het toe met speeltyd omtrent verby gekom met 'n amperse drie. Soos soveel kere in die verlede was dit weer Gainsford wat gebreek het en met spoed om Collins gehardloop het en die bal is hanteer deur Roux, Brynard en laastens Wilson. Toe Wilson die bal gekry het was daar minder as twee treë om te gaan maar uit die bloute, uit die niet het die blonde flank van die All Blacks, Red Conway gekom en met 'n duikslag die bal uit Wilson se greep laat val tot oor die kantlyn en dit was neusie verby. Nieu Seeland 6, Suid Afrika 3.


FOTOS:


 

4 Toetse

(104) Australasië, Saterdag, 21 Augustus 1965

Carisbrook, Dunedin - Tweede Toets

Suid Afrika 0, Nieu Seeland 13

Toeskouers (35 000)

Skeidsregter: Pat Murphy (Nieu Seeland)






Die Springbokke het twee veranderinge gemaak vir die tweede toets op 'n sopnat veld op Carisbrook in Dunedin. Dawie de Villiers wat in die vorige wedstryd teen Auckland 'n lelike sny bokant die oog opgedoen het, kon nie speel nie en Nelie Smith is gekies asook as kaptein. Dan was Piet Goosen verkies bo Tiny Naude op slot. Vir Nieu Seeland was die enigste verandering op binne senter waar Ray Moreton vir John Collins vervang het.


EERSTE HELFTE:


So vroeg soos in die vierde minuut van die eerste helfte was Nieu Seeland voor nadat Chris Laidlaw vir Nelie Smith agter die skrum lastig geval het en die bal losgespat het. Die groot en vinnige Kelvin Tremain was by om dit op te raap en oor te duik in die hoek vir 'n individualistiese drie. Heelagter Mick Williment het baie mooi met die skuins vervyfskop geslaag (0-5).


Die Springbokke het toe vir 'n tyd goed terug geveg na die vroeë terugslag en Oxlee en Gainsford (wat Johan Claassen se rekord van 28 toetse geëwenaar het) het die All Blacks onder druk gehad met goeie taktiese skoppe. Toe Colin Meads onkant gaan in die 10de minuut het Oxlee kans gehad teen die wind van 35 treë af maar hy was kort.


Frik du Preez het goeie lynstaan balle op die Springbokke se ingooie gevat maar in die nat omstandighede het die All Blacks munt geslaan uit die foute van die Springbokke. Toe Brynard 'n bal van Smith laat val was Birtwhistle en Whineray daar om dit 40 treë verder te dribbel.


Die All Blacks was beter daaraan toe in die modder toestande, nadat dit Vrydag voor die toets baie gereën het. Hulle het die bal op die grond gehou en gedribbel en dit was opmerklik dat hulle losvoorspelers meestal voor die van die Springbokke by die losballe was. Op heelagter het die Springbokke 'n rots gehad in Lionel Wilson wat telkemale vreesloos onder die balle wat na sy kant toe gekom het ingekom het en verligting gebring het. Mannetjies Roux het 'n slag sy humeur verloor en 'n hou geswaai na 'n All Black voorspeler en toe Colin Meads een van sy stormlope uitvoer moes die Springbokke keer so al wat hulle kon.


Springbok fullback Lionel Wilson.
Lionel Wilson

Een van die uitstaande kenmerke van Lionel Wilson op heelagter was sy onwrikbare moed en durf onder die hoë bal. Of dit nou op harde of sagte velde was, hy was altyd koel en kalm wanneer balle op hom geskop was, 'n rots van Gilbraltar waarop sy spanmaats kon staatmaak. Hy was miskien nie 'n hardlopende heelagter soos wat H.O. de Villiers wat na hom gekom het was nie, maar hy het die laaste vesting met veilige hande en goeie buitelyn skoppe verdedig. Die tweede toets teen die All Blacks op Carisbrook in Dunedin in 1965 sal bekend staan vir sy brawe en heldhaftige heelagterspel. Daar word beweer dat as dit nie vir Lionel was nie, die Springbokke die Saterdag in die modderbad nog verder sou verloor het as die pynigende eindtelling van 13-0.




VIDEO: Lionel Wilson se onverskrokke spel in die tweede toets.


Springbok scrumhalf struggles to control a wet ball against the All Blacks in Dunedin, 1965.
Nelie Smith se nagmêrrie

Kort voor rustyd het die All Blacks weer toegeslaan toe Nelie Smith, wat 'n moeilike wedstryd beleef het, van die bal afgestamp was naby sy eie doellyn deur Ken Gray wat veroorsaak het dat die losbal vorentoe en oor die Springbokke se doellyn gerol het.


Die All Black haker, Bruce McLeod het soos blis die bal agterna gesit en toegeval. Daar was twyfel of hy die bal gedruk het maar die skeidsregter het die drie toegeken wat eintlik 'n sagte drie was maar met 8-0 voor teen rustyd, was dit 'n geweldige berg wat die Springbokke sou moes klim in die tweede helfte in toestande wat eerder die All Blacks gepas het.


All Black Bruce McLeod dives on the ball for a try in Dunedin, 1965.
McLeod se drie

Regs kan gesien word hoe haker McLeod reg maak om op die bal te duik vir sy drie en die All Blacks se tweede van die eerste helfte. Die arme Nelie Smith was so deur 'n sameloop van omstandighede gepla dat hy beswaarlik sy agterlyn kon wegkry. Die geklappery in die lynstane en die stadige balle uit die skrums het hom nagmêries besorg en dit nog met 'n gladde bal wat gelei het tot die All Blacks se eerste twee drieë.


Springbok scrumhalf in 1965, Nelie Smith.
Nelie Smith

Die onder kaptein van die Springbok toerspan na Australië en Nieu Seeland was Nelie Smith van die Oranje Vrystaat. Toe Dawie de Villiers beseer was teen Auckland voor die tweede toets, moes Nelie speel en net soos Dawie, was hy as kaptein gekies. Ongelukkig vir hom was dit 'n toets wat hy seker self sou wou vergeet omdat niks vir hom en sy span wou regloop nie. Die nat veld en gladde bal tesame met sy voorspelers wat 'n verloor stryd teen die All Blacks gevoer het, het veroorsaak dat twee van die drieë gekom het waar hy regstreeks by betrokke was soos op die fotos gesien kan word.



TWEEDE HELFTE:


The All Black captain Wilson Whineray talks to his players during halftime during the second test in Dunedin, 1965.
Wilson Whineray die kaptein

Daar was net een span op die veld in die tweede helfte en die Springbokke het net met tye weerstand gebied in omstandighede wat hulle opponente soos 'n handskoen gepas het. Stan Meads en in 'n mindere mate Ken Gray het die botoon gevoer in die lynstane. In die 12de minuut van die helfte het die Springbokke 'n seldsame kans gehad toe die bal deurgeskop is tot naby die All Blacks se doellyn, maar die groot flank Tremain het duidelik obstruksie gepleeg wat oor die hoof gesien was deur die skeidsregter Pat Murphy.


Die All Black voorspelers het die druk volgehou en Lochore het 'n slag geduik vir die doellyn maar die bal laat val. Die enigste ligpunt soos reeds genoem vir die Springbokke was die puik spel van Wilson op heelagter. In die 17de minuut kon Oxlee aanlê pale toe van 38 treë af maar die nat bal kon hy nie oor kry nie. Dit was eers in die 29ste minuut van die tweede helfte dat die All Blacks se volgende punte gekom het.


All Black center Rangi scores their third try in the second test in Dunedin, 1965.
Rangi se drie

Die Springbok agterlyn het uit desperaatheid uit hulle eie kwartgebied probeer hardloop maar van 'n lynstaan het 'n losgemaal ontstaan voor die pale. Die bal is vinnig uit na die sterk senter Rangi vanaf Laidlaw en Murdoch en met Gainsford wat te stadig opgekom het, het hy skuins gehardloop hoekvlag toe met Brynard en Smith te laat om die derde drie van die All Blacks te keer. Williment het kalm die modder van die bal afgevee en die bal tussen die pale deurgejaag met sy skuins vervyfskop om die telling 13-0 te maak.



Springbok flanker Jan Ellis.
Jan Ellis

Die Springbokke het nog 'n laaste heldhaftige poging aangewend met Sakkie van Zyl aan die voorpunt en 'n sterk lopie van John Gainsford wat na Jan Ellis gegee het wat eers so tien treë van die doellyn af uitgeforseer is by die kantlyn. Ellis in net sy tweede toets was een van die beste Springbok voorspelers op die veld.



 

4 Toetse

(105) Australasië, Saterdag, 4 September 1965

Lancaster Park, Christchurch - Derde Toets

Suid Afrika 19, Nieu Seeland 16

Toeskouers (53 500)

Skeidsregter: Pat Murphy (Nieu Seeland)







Dr. Danie Craven, President of the South African Rugby Board
DR. Danie Craven

Dr. Danie Craven het die Woensdag voor die Derde toets in Christchurch aangekom en is onmiddellik deur joernaliste toegedam oor die vraag of hy dink dat die Maoris ingesluit sal kan word vir die beplande toer van die All Blacks in 1967 na Suid Afrika.


UITEINDELIK! - 'N SPRINGBOK OORWINNING


EERSTE HELFTE:


Dawie de Villiers het gekies om teen die wind in die eerste helfte te speel en hulle was met 0-3 agter so gou soos in die tweede minuut. Die All Blacks het diep ingegooi in 'n lynstaan binne die Springbokke se "25". Mannetjies Roux het te vinnig opgekom vir 'n onderskep poging en 'n gaping gelaat wat deur Colin Meads, wat in sy 32ste toets gespeel het en daarmee die rekord van Don Clarke van 31 toetse vir Nieu Seeland gebreek het, uitgebuit is wat die bal na Kelvin Tremain laat loop het en hy het deur die middel gestorm met spoed om te gaan druk. Williment kon nie vervyf nie (0-3).


Springbok senter John Gainsford scored a good try against the All Blacks in Christchurch, 1965.
John Gainsford oppad doellyn toe

Tog het Suid Afrika die voortou geneem drie minute later. Dawie de Villiers het die Springbokke op die aanval geplaas met 'n hoë skop en daar was 'n vyf treë skrum. Die Springbok voorspelers het die All Blacks terug gestoot en Barnard het vir Gainsford gegee. In sy 29ste toets het die groot senter die All Blacks en veral vir Conway laat huiwer en 'n gaping gesien. John moes 'n hele paar All Blacks klop maar hy was deur vir sy sewende drie en sy eerste teen Nieu Seeland. Tiny Naude het die vervyfskop oorgesit (5-3).


VIDEO: Hoogtepunte van die derde toets.



All Black Kelvin Tremain with the ball in the third test against South Africa in 1965.
Kelvin Tremain in 'n lynstaan

Vir die volgende 15 minute het Suid Afrika die oorhand gehad en die voorspelers het met vuur gespeel. Frik du Preez het goeie lynstaan balle gewen en Mannetjies Roux was een wat dopgehou moes word toe hy 'n losbal opraap en verskeie opponente geklop het.


In die 21ste minuut het die All Blacks weer die voortou gevat teen die verwagting in toe Moreton 'n hoë skop gelos het wat gehop het. Alhoewel Wilson genoeg tyd gehad het om dood te druk toe die bal oor die doellyn gerol het, was hy ietwat traag en intussen het Birtwhistle en Rangi opgevolg en Rangi het voor Wilson by die bal gekom om te druk. Dit was 'n seldsame fout van Wilson wie se spel in die algemeen uitstekend is onder die hoë bal. Williment het vervyf om dit 8-5 te maak.


Hierna het iets baie seldsaam gebeur toe die skeidsregter Mnr. Murphy 'n dyspier beseer het en hy moes die veld verlaat. Die vlagman wat ook 'n skeidsregter was, Mnr. Taylor het toe die fluitjie by hom oorgevat. Vyf minute later is Sakkie van Zyl onkant betrap by 'n lynstaan en Williment het 'n moeilike strafskop vanaf 45 treë met die swaar nat bal oorgesit (11-5). Die druk het opgelaai teen die Springbokke en die geklap in die lynstane van Du Preez en Naude het die lewe vir Dawie de Villiers baie moeilik gemaak, amper soos die geval was in die tweede toets.


Springbok rugby captain, Dawie de Villiers.
Dawie de Villiers

Na nog 'n klapbal waar 'n losskrum gevorm het binne die Springbokke se "25" het Laidlaw vir Murdoch gegee wat steelkant om is en op die regte tyd vir Moreton gegee het wat Wilson se duikslag ontduik het en in die regterkantse hoek gaan druk het. Weer was dit Williment wat met 'n goeie skop uit die hoek vervyf het (16-5).


In die laaste sewe minute voor rustyd het die Springbokke amper punte aangeteken met 'n drie en 'n maklike strafskop gemis. Engelbrecht het 'n losbal wat by die skrum uitgeskiet het opgetel en vir Naude oorgestuur maar die skeidsregter het 'n vorentoe aangee aangedui.



TWEEDE HELFTE:


Springbok winger in 1965, Gert Brynard.
Gertjie Brynard

Dawie de Villiers, die Springbok kaptein het 'n besielende praatjie met sy span gehad rustyd en gesê dat as die voorspelers genoeg balle aan die agterlyn besorg kan hulle die telling nog inhaal met die wind van agter. Die belangrike punte het in die 4de minuut van die tweede helfte gekom vanaf 'n skrum net buite die All Blacks se "25". Terwyl Hopwood na die steelkant weggebreek het in 'n fopbeweging het Dawie vinnig na Jannie Barnard laat loop. Toe is Gainsford tussen Moreton en Rangi in voor hy vir Roux gegee het. Mannetjies het vir Birtwhistle getrek en toe na Brynard laat loop wat oop was en sy spoed het hom na die linkerkantste hoek gevat vir 'n mooi drie (sien video). Tiny Naude se skop het net gemis (16-8).


Die Springbok agterspelers het toe gekliek en hulle hantering van die nat bal was foutloos en in die laaste 40 minute het hulle 14 onbeantwoorde punte opgestapel en wat gelyk het na nog 'n swak verloor omskep in 'n spog oorwinning. Gainsford en Roux het as senterpaar top gehalte rugby gespeel. Die All Blacks het twee keer punte gemis met skoppe maar elke keer dat die Springbokke aan die hardloop gegaan het, het die sportiewe skare luidkeels toegejuig.


Springbok winger Gert Brynard scores his second try in the third test against the All Blacks in Christchurch, 1965.
Gert Brynard se tweede drie

Eers het Engelbrecht en toe Ellis so byna gedruk maar die plaasvervanger skeidsregter het anders gedink. Toe kom 'n merkwaardige drie deur Gertjie Brynard, sy tweede. Eers het De Villiers na die steelkant van 'n skrum gehardloop maar met Tremain en Dick in sy pad het hy weer binnetoe gebreek en aansluiting gekry van Barnard. Die All Blacks se verdediging's lyn was stadig en oneweredig. Barnard het skuins gehardloop en halpad deur 'n gaping gekom en toe 'n boog aangee na Brynard gegee wat eers moes vassteek om die bal te kry. Daar het hy reguit op die doellyn afgepeil en tussen omtrent drie All Blacks deur geduik. Williment kon hom net verder oor die doellyn stoot in die lug (foto regs) en Brynard het een van die skouspelagtigste drieë nog vir die Springbokke langs die pale gedruk. Naude se maklike vervyfskop het die Springbokke dramaties naby aan die All Black telling van 16-13 gebring. Dit was 'n herstel poging soos min en een van durf en daad toe die manne besef het dis nou of nooit.


Springbok center John Gainsford scores his second try against the All Blacks in the third test, 1965.
John Gainsford

In die 23ste minuut het die gelykmakende drie gekom vanaf 'n skrum op die All Blacks se "25". Die Springbok agterlyn het na regs beweeg en Mannetjies Roux het sy aangee na Gainsford perfek bereken. Groot John was op spoed en met krag en vaardigheid vanaf die kwartlyn het hy eers skuins gehardloop en toe vir Williment laat stilstaan met 'n buite swenk en in die hoek gaan druk om sodoende ook sy tweede drie van die toets aan te teken. Naude kon nie vervyf nie (16-16).


Die Springbokke was 'n ander span, ten spyte van die modderveld en gladde bal. Voorlangs het Hopwood reuse werk verrig gehelp deur Ellis, MacDonald, Nel en Naude. Die All Blacks het lusteloos voorgekom ast'ware verslane. Hulle het wel vir 10 minute alles ingesit en Williment was kort met 'n 45 treë strafskop.



The penalty kick by Tiny Naude that sealed the third test match for South Africa against New Zealand in 1965.
Tiny Naude se skop

Met drie minute oor kan Laidlaw se buiteskop nie die lyn vind nie en toe Wilson die bal vat word hy in 'n onkant posisie deur Meads vasgevat. Kaptein de Villiers besluit om pale toe te skop terwyl Brynard die bal afgevee het van die modder en vir Tiny Naude gesê het dat hulle moet hardloop omdat die All Blacks traag doellyn toe gestap het, maar die teken vir die skop was klaar gegee.


Die skop was vyf treë van die kantlyn op die kwartlyn en Tiny het sy stewel in die modder gekap om die bal te stel. Met groot konsentrasie het hy vorentoe gekom en geskop, die bal het laag getrek maar was oor. Loftie Nel het gehardloop en Naude omhels terwyl ander Springbokke hulle hande in die lug gegooi het van blydskap. Die eerste van sewe toetse van 1965 is gewen in omstandighede wat eerder die All Blacks moes gepas het. Die eindtelling van 19-16 was getuienis van hoe 'n span met durf en samespel van 'n oënskynlike verloor posisie kon kom om die toets wedstryd te wen.


 





Recent Posts

See All
bottom of page