top of page

1964 - Frankryk skok die Bokke

Updated: Mar 5, 2021

Die Franse het net een toets op hulle kort toer deur Suid Afrika gespeel en dit nie op een van die gewone toets velde nie, maar op Springs. Meer tekortkominge van die Springbokke is deur die woelige Franse uitgewys. Die verlies aan 'n besering van Keith Oxlee was 'n groot slag vir die Springbokke en die groentjie Lawless wat sy skoene moes volstaan, het 'n moeilike vuurdoop gehad. Die toer was gereël tesame met die Walliese toer om aan te vul by die Suid Afrikaanse Rugbyraad se 75-jarige Fees Vieringe in 1964.


  • Die Bestuurder van die Franse span, Serge Saulnier was ook die Bestuurder van die eerste Franse toerspan na Suid Afrika in 1958.

  • Dit was die eerste keer dat die Franse in Internasionale wedstryde teen die Springbokke 'n drie kon druk.

  • As 'n teken van waardering vir die gasvryheid van die Suid Afrikaners het die Franse gevra vir 'n ekstra wedstryd teen Transvaal op Ellispark.

  • Die toets wedstryd op Springs was die eerste internasionale wedstryd wat daar gespeel is.



The French rugby touring team in South Africa 1964.
Die Franse toerspan, 1964


The captain of the French rugby team in South Africa 1964, Michel Crauste.
Michel Crauste - Franse Kaptein



 

1

(98) Suid Afrika, Saterdag, 25 Julie 1964

Pam Brink Stadion, Springs - Enigste Toets

Suid Afrika 6, Frankryk 8

Toeskouers (57 000)

Skeidsregter: Bertie Strasheim (Suid Afrika)



The Springbok rugby team that played against France, 1964
Springbokspan

AGTER: Don Walton, Trix Truter, Hannes Marais, Mike Lawless. STAANDE: Tommy Bedford, Frik du Preez, Gawie Carelse, Stompie van der Merwe, Mof Myburgh. SITTENDE: Dave Stewart, John Gainsford, Nelie Smith (Kaptein), Johan Claassen (Afrigter), Doug Hopwood, Jannie Engelbrecht, Lionel Wilson.


EERSTE HELFTE:


Frankryk het dit weer gedoen, net soos in 1958, het hulle 'n groot skok gelewer deur die Springbokke op Pam Brink stadion in Springs met 8-6 te klop in die enigste toets van die kort toer van ses wedstryde insluitende die toets. Die Franse voorspelers het beter gedoen as die Springbok pak voorspelers en veral hulle los-trio was eerste by die losbal met net Tommy Bedford wie se spoed kon saamgesels. Losskakel Pierre Albaladejo het spel met sy skoen dikteer.


French forward Spanghero tackles a Springbok during the test match in Springs, 1964.
Spanghero op Smith se rug

Suid Afrika het vanaf 1951-52 se toer deur Britanje en Frankryk, vier keer teen Frankryk gespeel en twee was gelykop terwyl hulle twee verloor het. Daar was agterna geen twyfel nie dat die beste span gewen het. Die Springbokke kon in die toets nog gelykop gespeel het, maar Stewart kon sy eie drie nie vervyf nie.


Frankryk se plan om die Bokke voor die stryd aan te sê en dan met hulle skakelpaar, Laborde en Albaladejo se taktiese skoppe veld te wen, het geslaag. Nelie Smith het nie 'n goeie debuut as kaptein gehad nie en sy spel met Lawless, wat goeie en slegte dinge gedoen het, het veel te wense oorgelaat. Die Springbok senters, Gainsford en Stewart was ook geen beweegruimte gegun deur Capdouse en Pique nie. Alhoewel nuweling haker Don Walton sy stryd met Menthiller met 10-3 gewen het, is dit ook waar dit geindig het. Die Franse voorspelers met kaptein Krauste aan die voorpunt het het die Springbok voorspelers ore aangesit.


Springbok lock forward jumps high in this lineout with France in 1964.
Frik rank hoog

Dit was in perfekte weer dat Albaladjo afgeskop het met die son van agter en skaars twee minute later het hulle voorgeloop. By 'n losskrum op die Springbokke se tien-treë lyn is Mof Myburgh onkant betrap en losskakel Albaladejo het 'n goeie strafskop vanaf 45 treë af oorgesit (0-3). Toe skop die Franse vêr en hoog na die linkerkant en die spring van die bal flous vir Wilson. Darrouy het gekry en vir Pique gegee wat naby die doellyn gestuit is.


Springbok flyhalf stumbles during the French test at Springs, 1964.
Lawless struikel met die bal

Frik du Preez was van koers af toe hy 'n 55-treë skepskop probeer het nadat die Franse gestamp het in die lynstaan. Die Springbokke was uiteindelik naby die Franse se doellyn en toe Walton nog 'n vaskop haak, moes die Franse verdedig so al wat hulle kon. Toe kry Wilson die bal van 'n voretoe skop deur die Franse en was laat geloop deur Lira toe hy probeer uitskop. Skeidsregter Strasheim het 'n strafskop beveel waar die bal van Wilson geland het. Stewart het die moeilike skuins skop van so 38-treë goed getref en oorgeskop (3-3).


Die groot skare op Pam Brink stadion was nie gelukkig met die treurmare van die Springbokke nie en het by tye aan die bal vasggehou wanneer dit in die pawiljoen geskop was. Gachassin was onkant en Wilson se buitelyn skop het die Springbokke op die aanval geplaas. Met die vlak Franse agterlyn voor hom het Lawless 'n skop na buite gegee in Engelbrecht se rigting maar Truter wat ingekom het het aangeslaan.


Mike Lawless the Springbok flyhalf is cornered by a Frenchman at Springs, 1964.
Lawless word vasgevat

In die 37ste minuut was dit so amper 'n drie vir die Springbokke toe Wilson hoog geskop het vanaf 'n strafskop en die losbal deur Smith gekry was. Hy het 'n skop agter die vlak agterspelers van die Franse gelos waar Stewart die bal gekry het en toe 'n skop na die regterkantste hoek gelos het vir Engelbrecht. Darrouy en Engelbrecht het vostoom agter die bal aan afgesit maar die skeidsregter het 'n kwartlyn inskop beveel.


Christian Darrouy
Christian Darrouy

In die 42ste minuut van die eerste helfte was dit die Franse wat uit 'n fout van Suid Afrika munt geslaan het. Mike Lawless was onder druk en het na Frik du Preez laat loop en alhoewel Crauste hom gevat het, het hy sy aangee na Engelbrecht weggekry. Die vleuel het egter aangeslaan en in 'n oogwink was Dauga by om vir Darrouy weg te stuur doellyn toe. Hy het goed 40 treë gehardloop vir sy drie in die hoek wat uitmuntend deur Albaladejo vervyf is om die Franse teen rustyd met 8-3 te laat voorloop. Dit was 'n gevoelige knou toe die Springbokke seker al aan die lemoene van rustyd gedink het.



TWEEDE HELFTE:


Die Springbokke het vroeg kans gekry pale toe nadat Frankryk by 'n lynstaan gestraf is, maar Stewart se langerige skop van 45 treë was net lings verby. Hierna het Nelie Smith se kantlyn skop in spel gebly en Dedieu se skepskop poging van 50 treë was heel van die merk af.

Toe skrumskakel Laborde wegbreek van 'n skrum af het Lawless hom platgetrek maar die Springbokke se agterlyn pogings wou net nie werk nie. In die 16de minuut het Herero uit 'n losskrum gesteier en skeidsregter Strasheim het 'n strafskop aan die Franse toegeken. Die Springbokke was onder druk maar Lawless het verligting gebring met 'n lang lynskop.

French rugby forward Spanghero on the ground during the test against South Africa at Springs, 1964.
Waar's die bal? Spanghero op die grond

Die Springbokke het toe aangeval nadat Smith vanaf 'n skrum weggebreek het en aansluiting by Lawless gekry het wat deurgebreek het en vir Stewart met spasie weggestuur het maar in sy goeie lopie het die bal verlore geraak en 'n kans was daarmee heen.


Twee minute voor die einde het die Springbokke 'n drie gedruk teen die verloop van die spel in. Na nog 'n vaskop wat Walton gehaak het, het Lawless 'n perfekte skoppie oor die Franse senters se koppe gelos vir Stewart om dit in die hande te kry en deur te hardloop vir 'n drie. Die belangrikke vervyfskop het op Stewart se eie skouers gerus om die Springbokke gelykop te laat trek, maar helaas dit was rakelings mis (8-6). Die eindfluitjie het net hierna geblaas.


 

452 views0 comments

Recent Posts

See All
bottom of page