top of page

1963 - Australië se vierde toer na Suid Afrika

Updated: Feb 27, 2021


1963 was die jaar dat die springbok embleem verander is om te "pronk". Die idee het gekom van Dr. Danie Craven omdat hy nie daarvan gehou het dat ander sporte ook dieselfde embleem as rugby gehad het nie, hy wou iets spesiaals vir rugby gehad het. Dus het hy voorgestel dat die springbok moet pronk bo die rugbybal. Die nuwe logo was nie 'n sukses nie, nie op die lapel nie en ook nie op die veld nie.


 
  • Sewe Wallabies van hierdie toerspan het ook in 1961 op die kort toer Suid Afrika besoek naamlik, John Thornett, Beres Ellwood, Ken Catchpole, Peter Johnson, Ted Heinrich, John O'Gorman en Rob Heming.

  • Springbok losskakel Keith Oxlee het die rekord van Gerry Brand (55 punte) verbeter na 73 punte in internasionale wedstryde.

  • Abie Malan het die rekord wat Bertus van der Merwe as haker gehou het van 12 internasionale wedstryde verbeter na 13.

  • John Gainsford het die vorige rekord wat deur Bennie Osler gehou was van 17 toetse as agterspeler verbeter na 20.

  • Die Australiese toerspan van John Thornett is die derde toerspan na die 1928 All Blacks en die 1955 Britse Leeus om twee internasionale wedstryde in Suid Afrika te wen.

  • Nuweland in Kaapstad het sy reputasie as die veld van skepskoppe gestand gedoen toe Beres Ellwood sy naam gevoeg het by vorige spelers wat daar met skepskoppe geslaag het gedurende internasionale wedstryde. Die ander was, Kennie Starke vir die Springbokke (1924), Mark Nicholls vir die All Blacks (1928), Charles Grieve vir die Britse Leeus (1938), Jim Kearney vir die All Blacks (1949), Pierre Danos vir Frankryk (1958) en Don Clarke vir die All Blacks (1960).


AGTER: John Wolve, Jim Miller, Rob Heming, John O'Gorman, Peter Crittle, Jim Boyce, Jon White. DERDE RY: Terry Casey, Ian Moutray, Greg Davis, Dave Shepherd, Bruce Baily, Dallas O'Neill, Dick Marks, Ken McMullen. TWEEDE RY: Beres Ellwood, Phil Hawthorne, Jules Guerassimoff, Peter Ryan, John Freedman, Peter Jones, Mick Jenkinson, Les Austin. VOOR: John Klem, John Williams, Keith Walsham, Bill McLaughlin (Bestuurder), John Thornett (Kaptein), Alan Roper (Onder-Bestuurder), Ted Heinrich, Peter Johnson, Ken Catchpole.



The captain of the Australian rugby touring team in South Africa in 1963, John Thornett.
Kaptein John Thornett





Springbok rugby captain in 1963, Abie Malan.
Abie Malan, Kaptein



 

1

(93) Suid Afrika, Saterdag 13 Julie 1963

Loftus Versfeld, Pretoria - Eerste Toets

Suid Afrika 14, Australië 3

Toeskouers (52 000)

Skeidsregter: Eddie Hofmeyr (Suid Afrika)






EERSTE HELFTE:


Voorspellings van 'n goeie oorwinning deur Suid Afrika is gestand gedoen toe die Springbokke gemaklik die eerste toets van die 1963 reeks met 14-3 gewen het. In die lynstane was Avril Malan en Frik du Preez, gehelp deur Loftie Nel, in beheer.


Springbok lock forward wins a lineout during the first test against Australia in 1963.
Frik du Preez wen 'n lynstaanbal

Behalwe vir opfilkkerings hier en daar het die toets wedstryd nooit vlam gevat om die skare van by die vyftig duisend opgewonde te maak nie. Die Wallabie agterspelers het heeltyd vlak gelê met die gevolg dat wanneer hulle aanval's-kans gekry het, hulle nooit op spoed was nie.


Hawthorne en Ellwood het dus meestal binne toe gebreek, maar hulle dan vasgeloop in die voorspelers. Eers het Keith Oxlee met twee strafskoppe misluk en Ryan was net kort met 'n 45 treë strafskop vir Australië. In die negentiende minuut het Oxlee wel geslaag toe die Wallabies by 'n skrum net binne hul kwart gebied gestraf is (3-0). Met die skop het Oxlee ook die punte rekord in internasionale wedstryde vir die Springbokke verbeter na 56 punte, 'n rekord wat gehou was deur Gerry Brand met 55 en wat vir 25 jaar gestaan het.


Springbok winger Gert Cilliers in the first test of 1963 against Australia.
Gert Cilliers

Vir die Springbokke het die bal aanvanklik stadig agtertoe gekom en Oxlee moes meer verdedigend speel met boog-aangeë wat hy van sy skrumskakel Uys ontvang het. Dit het gelyk of dinge gaan gebeur elke keer dat regtervleuel Gert Cilliers die bal gekry het. Met een so 'n sterk lopie teen die kantlyn af het hy die heelagter Ryan mooi getrek en toe vir Dave Stewart aan sy binnekant oorgestuur, maar die vlagman het beslis dat Cilliers uitgetrap het.


In die 37ste minuut het Cilliers wel 'n baie goeie Springbok beweging afgerond met 'n drie. Oxlee het aan die steelkant om beweeg en toe na Stewart laat loop wat neergetrek was. Vanaf die losskrum het die bal vinnig uitgekom en Uys het na die oopkant laat loop waar Hopwood in die lyn was as ekstra man. Hy het vir Gainsford gegee wat mooi gehardloop het en toe hy geduik word, het hy na Cilliers laat loop wat met spoed die orige Wallabies geklop het vir 'n baie mooi drie. Oxlee se vervyfskop was mis (6-0). Dit was ook die rustyd telling.

Springbok rugby centre Gainsford pass the bal to winger Gert Cilliers during the first test in Pretoria, 1963.
Gainsford laat loop na Cilliers

TWEEDE HELFTE:


Die Wallabies het 'n gulde geleentheid om punte aan te teken na twaalf minute van die tweede helfte verspeel. Skrumskakel McMullen se goed geplaasde vorentoe skoppie is mooi gevat deur vleuel Williams en hy was op volspoed. Toe hy by Wilson, die heelagter kom met McMullen aan sy buitekant, het hy 'n wilde aangee verby McMullen oor die kantlyn geslinger en 'n seker drie was daarmee heen.


Phill Howthorne the Australian flyhalf runs with the ball during the first test in Pretoria, 1963.
Phill Howthorne op die aanval

John Gainsford soos talle vorige kere was die gevaarman van die Springbok agterspelers. Die groot senter het mooi gebreek en gesystap en Stewart en Truter het hanteer en met 'n oop doellyn net 30 treë vêr kon Gainsford nie die aangee van Truter vashou nie. In die sestiende minuut het Australië wel punte gekry toe Truter nie 'n steelkant aangee van Uys kon vashou nie en die losbal was deur Williams opgepik. Hy het Nel agter gelos en toe vir Wilson laat twyfel voor hy vir McMullen in die hoek oorgestuur het vir die Wallabies se enigste punte, Ryan kon die vervyfskop nie oorkry nie (6-3).


Springbok rugby winger Gert Cilliers pass to Uys in the first test of 1963.
Cilliers laat loop na Uys

Twee minute later was dit die Springbokke se volgende drie. Abie Malan het 'n vasskop op die Wallabies se kwartlyn gewen en Hopwood het agter die skrum opgetel en hoog geskop op die heelagter Ryan. Net toe Ryan 'n merk wou vang, was hy onderstebo geloop deur Hopwood en die bal het losgespat. Tommy Bedford was by om die bal oor die doellyn te dribbel en toe te val. Oxlee het met 'n moeilike vervyfskop geslaag (11-3). Dit was dan ook Cilliers en Bedford se eerste drieë in hulle eerste verskyning in 'n Springbok trui.


Met tyd wat besig was om uit te hardloop het die Wallabies probeer om die bal rond te gooi maar dit was tevergeefs. Hulle was 'n verslane span en teen die einde het Oxlee nog meer sout in die wonde gevryf met sy laaste strafskop om die eindtelling op 14-3 te staan te bring.


Springbok lock forward, Avril Malan in possession in the first test, Pretoria, 1963.
Avril Malan word vasgevat
 

2

(94) Suid Afrika, Saterdag 10 Augustus 1963

Nuweland, Kaapstad - Tweede Toets

Suid Afrika 5, Australië 9

Toeskouers (34 000)

Skeidsregter: Toy Myburgh (Suid Afrika)



AGTER: Jannie Engelbrecht, Stompie van der Merwe, Lofty Nel, Doug Hopwood, Fanie Kuhn. MIDDEL: Mannetjies Roux, Lionel Wilson, Dick Putter, Tommy Bedford, John Gainsford, Wang Wyness, Piet Uys. SITTENDE: Keith Oxlee, J. Bosman (Bestuurder), Abie Malan (Kaptein), Hennie Muller (Afrigter), Avril Malan.



EERSTE HELFTE:


Dit was 'n kleinerige skare van 34 000 wat op Nuweland was vir die tweede toets van 1963 teen die Wallabies van John Thornett. Die Wallabies het hulle oorwinning van 9-5 terdee verdien. Dit was ook op Nuweland wat die Springbokke drie jaar tevore teen die All Blacks verloor het in wat gedoop was "Don Clarke se wedstryd". Die keer was dit nie 'n skopskoen wat die Springbokke gekelder het nie, maar goeie aanval's bewegings met 'n houding van "ons het niks om te verloor nie" waarin twee Wallabies 'n groot rol gespeel het naamlik, Ken Catchpole en Greg Davis.


Australian scrumhalf Ken Catchpole feeds the backline at Newlands, 1963.
Catchpole laat loop na agter

Niks kan egter weggevat word van die poging wat die Wallabies ingesit het nie. Davis, in Nieu Seeland gebore, was veral knaënd op die verdediging van die Springbok binne-agterspelers en Catchpole het sy spel meesterlik afgewissel. Daar kan ook geen twyfel wees dat beserings aan drie van die Springbokke en veral die skouer besering van Piet Uys, die Springbokke kwaai gekortwiek het. Dit was egter nie voorgehou as verskoning vir die Springbok verloor nie.

Springbok lock forward, Stompie van der Merwe wins a lineout for South Africa at Newlands, 1963.
Stompie van der Merwe wen 'n lynstaanbal

Die weer het opgeklaar alhoewel daar nog nat kolle was toe die Wallabies van die begin af ingeklim het en die Springbokke laat steier het. Hierna het 'n "eerste" gekom in Suid Afrika toe kaptein Myburgh, die skeidsregter die eerste strafdrie in Suid Afrika toegeken het.


Oxlee het gewaag toe hy vanuit sy eie kwartgebied begin hardloop het en direk na Jannie Engelbrecht laat loop het, wat goed sewentig treë gehardloop het voor Casey hom half gestuit het. In die proses is die bal vorentoe geskop en Tommy Bedford wat agterna gesit het, is teruggehou deur Ellwood en die skeidsregter het onmiddelik 'n strafdrie onder die pale gegee. Oxlee het die maklike skop oorgesit en die Springbokke was met 5-0 voor.


Springbok Piet Uys kicks over the lineout at Newlands, 1963.
Piet Uys skop

Hierna was dit net die Wallabies en in die 18de minuut het senter Wyness die bal en vir Davis gelyk gekry en in die proses was hy duidelik ontsenu. Hy het plekke omgeruil met Mannetjies Roux. In die 21ste minuut moes Piet Uys die veld verlaat toe hy onder druk op 'n bal geval het en sy skouer uit potjie geval het. Hy moes die veld in erge pyn verlaat. Hopwood het oorgevat agter die skrum, maar met net sewe voorspelers, was dit opdraënde vir die Springbokke.


Toe Boyce in die Wallabie agterlyn inkom om die ekstra man te bewerkstellig, was daar amper moeilikheid maar Wilson het gegaan vir 'n onderskepping en in die proses is die bal aangeslaan. In die 26ste minuut het heelagter Casey 'n maklikke strafskop van voor die pale skeefgetrek. Piet Uys het weer op die veld verskyn en 'n heldhaftige poging aangewend om te druk toe hy geduik het vir die doellyn, maar is in die proses deur Moutray by die kantlyn uitgeduik en weer het hy sy skouer beseer en is hy vir 'n tweede keer van die veld af.


Australian flyhalf, Hawthorne kicks away in a hurry during the second test at Newlands, 1963.
Hawthorne raak haastig van die bal ontslae

Net toe dit lyk of die Springbokke teen rustyd gaan omdraai met hulle voorsprong, toe slaan die Wallabies toe. Catchpole het steelkant om gebreek en Ellwood het aansluiting by Howthorne gekry wat oor 'n uitgestrekte Springbok gespring het en toe die verdediging oorhoops was, het hy vir Wilson getrek en vir Boice weggestuur op 'n 25 treë wedloop doellyn toe. Casey se skop was net mis (5-3). Met Oxlee wat 'n hou op sy oor gekry het op vleuel, het Hawthorne 'n swak uitgee van Catchpole opgepik en 'n vinnige skepskop oorgesit toe rustyd al moes aangebreek het om die voorsprong teen rustyd te vat (5-6).


TWEEDE HELFTE:


Springbok lock forward misses the ball in a lineout at Newlands, 1963.
Stompie mis die bal

In die kleedkamer het 'n spsialis die beseerde skouer van Piet Uys weer "in potjie" terug gekry en hy kon weer spel hervat. Oxlee kon nie slaag met 'n moeilike strafskop poging van 30 treë nie en die gladde nat bal het skopwerk baie bemoeilik. Die gevaarman van die Springbokke, John Gainsford het die bal vanaf 'n lynstaan gekry en vir Moutray aan sy buitekant geklop en spoed verminder om vir Casey aan sy binnekant te klop, maar daar was geen ondersteuning nie. Die film het agterna gewys dat Engelbrecht deur Boyce "getrip" is en Gainsford was naby die doellyn deur Hawthorne gestuit.


Referee Myburgh blows the whistle at Newlands in the second test of 1963.
Skeidsregter Myburgh blaas sy fluitjie

Met Uys beseer (skouer), was Oxlee onder druk van veral Davis en dus kon die Springbok agterlyn nie op volspoed funksioneer nie. Dit was verbasend om te sien dat die voorspelers steeds die bal agtertoe gestuur het en dat daar vanuit die kwartgebied teen vlak verdediging probeer hardloop is.


Die Springbokke kon net nie uit hulle gebied kom nie en Catchpole het of met slim skoppies oor die skrum of sy agterlyn vinnig weggestuur wanneer hy skoon bal gekry het. Die Wallabies was elke keer 'n tree of twee voor die Springbok voorspelers wat moeg geword het en dus het die Wallabies genoeg bal gehad om te beheer.


Die druk wat deur Australië op die Springbokke toegepas was het begin tel en met die Wallabies weer op die aanval, was Wyness te gretig op die verdediging en is onkant betrap. Heelagter Casey het die maklike skop oorgesit en die telling het vergroot na 9-5 vir die Wallabies. Suid Afrika kon nog wen maar dit het nie so gelyk nie. Abie Malan het vir Oxlee en Roux omgeruil en toe Roux twee vangskote laat val met sy een oog op Davis, toe het Malan hulle weer geruil. Spel het afgewissel sonder dat enige span nog punte kon byvoeg. Dit moes 'n baie teleurstellende skare gewees het wat Nuweland verlaat het en daar sou weer na die span se samestelling gekyk moes word.




 

3

(95) Suid Afrika, Saterdag 24 Augustus 1963

Ellispark, Johannesburg - Derde Toets

Suid Afrika 9, Australië 11

Toeskouers (65 000)

Skeidsregter: Toy Myburgh (Suid Afrika)



Na die verloor van die tweede toets is heelwat veranderinge aangebring aan die Springbokspan vir die derde toets op Ellispark. Net drie van die agterspelers het oorleef. Onder die voorspelers het vier spelers hulle plekke behou. Nie minder nie as vyf nuwelinge is ingesluit naamlik, Norman Riley vir Keith Oxlee, Nelie Smith vir Piet Uys, Hannes Marais vir Dick Putter, Johan (Haas) Schoeman vir Loftie Nel en Poens Prinsloo vir Doug Hopwood.






EERSTE HELFTE:


Voor 'n groot skare op Ellispark het Norman Riley afgeskop in sy eerste en enigste toets. Die derde toets was van groot belang omdat albei spanne een toets elk gewen het, en die wenner sou nie die reeks kon verloor nie. Australië het soos in die tweede toets die Springbokke en die hele Suid Afrika geskok met hulle oorwinning van 11-9. Hulle het ook die enigste drie van die wedstryd aangeteken.


Springbok scrumhalf, Nelie Smith
Nelie Smith

Die Springbokke het die bal in die skrum gehou op die "25" van Australië en Marks is onkant betrap. Nelie Smith ook in sy eerste toets het die maklike skop oorgesit om die Springbokke vroeg te laat voorloop met 3-0. Die Wallabies met Heming in die lynstane en Johnsone in die skrums het gesorg dat hulle genoeg balbesit het en hulle was nie bang om die agterlyn te gebruik nie.

Suid Afrika se voorsprong is in die vyftiende minuut uitgewis toe Riley 'n haastige skop onder druk in sy eie kwartgebied gelos het maar nie die bal kon uitkry nie. Heelagter Casey het die bal gekry en vasgetrap met 'n lang skepskop van seker 50 treë wat oor was (3-3). Die Wallabies het goeie rugby gespeel terwyl die Springbok skakelpaar, Smith en Riley die kantlyn opgesoek het, wat later geblyk het 'n bevel van kaptein Avril Malan was.


A lineout during the third test at Ellispark, 1963.
'n Lynstaan op Ellispark

In die lynstane is balle by Avril Malan en Stompie van der Merwe afgevat of daar was te veel hande van die Springbokke om die bal by Smith te kry dat besit nie goed was nie. Aan die ander kant het die Wallabies skoon besit gewen en Catchpole wat vol planne en idees was, kon spel beter beheer. Heming die slot het ook gedurig posisies gewissel in die lynstaan en daarmee die Springbokke ontwrig.


In die 29ste minuut het Smith die bal onder sy haker se voete ingegooi en is gestraf. Casey het geen fout met die strafskop van so 35 treë af gemaak nie (3-6). Dit was 'n frustrerende eerste helfte vir die Springbok senters en vleuels wat nooit die bal gesien het nie. Teen rustyd was die gevoel dat Australië die beter span was.


TWEEDE HELFTE:


Springbok Nelie Smith is tackling Greg Davis during the third test at Ellispark, 1963.
Smith vat vir Davis vas

Australië het die tweede helfte begin waar hulle in die eerste helfte opgehou het naamlik op die aanval. Catchpole en Hawthorne se slim hantering het vir Williams kans gegee om te hardloop maar hy is vyftien treë van die doellyn af deur Cilliers neergetrek. Hierna het die Springbokke die telling gelyk gemaak teen die verloop van spel toe Riley 'n kort skoppie oor die senters gelos het en Boyce wat kom red het is deur Gainsford vasgevat en het die bal vasgehou. Smith het die mooeilike skop van 48 treë uit 'n hoek oorgesit om dit 6-6 te maak.


Norman Riley the Springbok rugby flyhalf on the attack in the third test of 1963.
Riley op die aanval



Hierna het die Springbokke hulle beste spel gelewer en net 'n wonderwerk het gekeer dat die Springbokke nie punte kon aanteken nie. Norman Riley met meer selfvertroue het verby Howthorne aan sy buitekant gebreek en met sy senters gemerk, 'n onderarm aangee na Cilliers gegooi. Die vleuel het ore platgetrek en met spoed is hy by Casey verby en oor die doellyn. Hy het egter nie gesien dat Catchpole vanuit nêrens gekom het en hom met 'n harde duikslag agter die doellyn gevat het dat die bal losgespat het nie. So het 'n seker drie verlore gegaan wat 'n keerpunt vir die Springbokke kon wees.


In die 25ste minuut was dit Australië wat die wind uit die seile van die Springbokke gehaal het met 'n uitstekende drie. Vanaf 'n lynstaan in Springbok gebied het Crittle die bal vir Australië gekry en agter omgeskil en aansluiting by Marks gekry wat deur Stewart se duikslag is. Hy het reguit op Cilliers afgepeil en op die regte oomblik na vleuel Williams laat loop wat riemme neergelê het doellyn toe met Engelbrecht en Prinsloo te laat om te keer. Hy het in die hoek oorgeduik en nadat skeidsregter Myburgh met die vlagman gepraat het is die drie toegeken. Casey se skop vanaf die kantlyn was suiwer en Australië was met 11-6 voor.


Springbok Avril Malan with the ball against Australia in 1963.
Avril Malan met die bal

Met sowat 11 minute oor het Nelie Smith met 'n lang strafskop van feitlik 50 treë geslaag en Suid Afrika was met net twee punte agter en terug in die wedloop (9-11). In beseringstyd het die Springbokke uit hulle eie kwartgebied begin hardloop met Stewart wat by Marks verby is en toe vir Cilliers gegee het.


Cilliers was gou op volspoed soos 'n sneltrein maar weer was dit Catchpole wat met sy dekverdediging hom platgetrek het diep binne die Wallabies se gebied en die bal het verlore gegaan. Kort hierna het die eindfluitjie geblaas en almal was dit eens dat Australië verdien het om te wen. Hulle groot helde was Catchpole en Casey. Die reeks was 2-1 in Australië se guns en die Springbokke moes dus die laaste toets wen om die reeks te deel en te red.


 

4

(96) Suid Afrika, Saterdag, 7 September 1963

Boet Erasmus Stadion, Port Elizabeth - Vierde Toets

Suid Afrika 22, Australië 6

Toeskouers (48 600)

Skeidsregter: Toy Myburgh (Suid Afrika)





AGTER: Nelie Smith, Johan (Haas) Schoeman, Tommy Bedford, Lionel Wilson. STAANDE: Gert Cilliers, Dick Putter, Stompie van der Merwe, Tiny Naude, Mof Myburgh, Corra Dirksen. SITTENDE: Doug Hopwood, Keith Oxlee, J.J. Bosman (Bestuurder), Abie Malan (Kaptein), Hennie Muller (Afrigter), John Gainsford, Dave Stewart.


Weereens het die keurders veranderinge aangebring vir die vierde toets. Corra Dirksen het ingekom vir Jannie Engelbrecht, Keith Oxlee was weer terug in die plek van Norman Riley. Voorlangs het Mof Myburgh die plek van Fanie Kuhn gevat en Tiny Naude het gespeel in Avril Malan se plek. Dick Putter was weer terug op sy pos in die plek van Hannes Marais. Laastens het veteraan Doug Hopwood weer sy agsteman plek ingeneem ten koste van Poens Prinsloo. Twee nuwelinge het hulle debuut vir die Springbokke gemaak naamlik, Corra Dirksen en Tiny Naude.


EERSTE HELFTE:


Springbok lock forward, Tiny Naude
Tiny Naude

Dit was 'n maak of breek toets vir die Springbokke wat met 1-2 agter was in die reeks teen die Wallabies van John Thornett. Die Springbokke het van die begin af ingeklim en anders as in die derde toets, het Oxlee sy senters vroeg al die bal gegee om mee te hardloop. In die eerste 14 minute het nuweling slot, Tiny Naude met lang skoppe van 45 en 60 treë teen die wind misluk en Oxlee het twee gemis uit moeilike hoeke van 30 en 35 treë elk.


In die eerste 15 minute het Australië net een keer aangeval binne die Springbokke se "25" maar Guerassimoff se aangee het verlore geraak. Australië was gelukkig toe Gainsford net betyds naby die doellyn gestop is nadat Oxlee met 'n boog gehardloop het en toe met 'n binne-aangee vir Gainsford in besit gestel het. In die 24ste minuut was dit heelagter Casey wat teen die verloop van spel amper geslaag het met 'n skepskop vanaf 'n strafskop vyf treë binne sy eie helfte.


Springbok flanker, Tommy Bedford trying to secure a loose ball in Port Elizabeth, 1963.
Bedford probeer die bal verseker

Die Wallabies was redelik gestraf deur die skeidsregter in die lynstane vir oortredings en Naude en Van der Merwe het goeie bal gewen vir die agterspelers, maar die Aussies het hulle goed gemerk en daar was nie deurkom-kans nie.


Die Wallabies met Hawthorne wat beseer was in 'n Springbok stormloop, kon nie die keer koning kraai nie. Dit was egter eers in die 37ste minuut dat Suid Afrika die eerste punte op die telbord kon plaas. Oxlee was kort met sy derde strafskop en toe Heming die bal vang, was die Springbok voorspelers by en hy moes oordra vir 'n vyftreë skrum. Die bal is onder die voorspelers gehou en Marks wat te gretig was op verdediging is onkant betrap. Oxlee het die maklike skop oorgesit (3-0).


Twee minute later het Australië gelyk getrek toe Smith gestraf was vir obstruksie agter die skrum en Casey het 'n goeie starfskop van 45 treë oorgesit (3-3). Die Springbokke moes voorgeloop het teen rustyd met beter besit en meer strafskoppe maar het darem die wind van agter gehad in die tweede helfte.


TWEEDE HELFTE:


Springbok rugby player Bedford classes with Catchpole of Australia during the fourth test in Port Elizabeth, 1963.
Bedford en Catchpole, Schoeman lings

Na net vier minute het Australië die voortou geneem toe Oxlee onder druk wou hardloop eerder as om te skop. Sy vorentoe aangee na Gainsford het 'n skrum veroorsaak waarvandaan Catchpole vir Howthorne gegee het wat met aanstormende losvoorspelers van die Springbokke vasgetrap het en 'n vinnige skepskop, soortgelyk aan sy Nuweland een, geslaag het (3-6).


Die Wallabies gelei deur Thornett het toe begin om met meer selfvertroue te speel en dit het gelyk of die Springbokke se voorspelers 'n bietjie traag voorgekom het. Die Springbok ondersteuners het asem opgehou toe 'n skop van Ellwood net duskant die hoekvlag uit is maar die verdediging het gehou by die daaropvolgende skrum na die lynstaan.


Weer was dit Hopwood met 'n goeie lopie uit gebroke spel en toe 'n skop veldop deur Smith was die Springbokke tot in die Wallabies se gebied gevat het. Haker Johnson was gestraf en Tiny Naude het versigtig gestel so 47 treë van die pale af en sy skop suiwer deurgestuur (6-6). Weer het die Wallabies teruggekom met goeie spel en daar was visioene van 'n gelykop uitslag soos die minute verby getik het.


In die 32ste minuut waarin daar nie gestop is vir beserings nie, het die spel dramaties verander. Die bal is met die agterlyn langs tot by nuweling Dirksen wat 'n lopie ingekry het en met die verdediging op hom, 'n dwars skop gelos het. Casey was in besit betrap en in die losgemaal het Crittle van die verkeerde kant af die bal probeer haak en is gestraf. Oxlee se moeilike skuins skop was oor en Suid Afrika was voor 9-6.


Springbok captain Abie Malan scores a try for South Africa against Australia in Port Elizabeth, 1963.
Abie Malan se drie

Die Aussies het toe angstig geraak en versigtigheid oorboord gegooi. Casey het in die lyn gekom en vir Ellwood gegee wat wou uitskop, maar die bal skuins getref en hoog die lug in geskop. Naude het die bal gevang en begin hardloop en met heelagter Casey en die verdedigers uit posisie, die bal vir Bedford gegee wat weer aansluiting by Putter gekry het. Abie Malan was by om sy binne-aangee te vat en oop te lê doellyn toe. Hy was te vinnig en Marks kon nie keer nie.


Spel was gestaak toe 'n deel van die ontevrede skare bottels in die doelgebied van Australië gegooi het. Dit het Oxlee nie ontsenu nie en hy het die vervyfskop oorgesit vir 'n voorsprong van 14-6. In die laaste vyf minute het die Springbokke nog agt punte teen 'n gedemoraliseerde Australiese span aangeteken. Vanaf 'n skrum het Gainsford gebreek en na Hopwood laat loop wat met 'n vernietigende lopie gekom het en die bal het hom weer bereik nadat Putter ook hanteer het. Alhoewel hy naby die doellyn neergetrek was, het Naude die losbal opgepik en oorgegaan vir sy eerste drie in toetse. Oxlee kon nie vervyf nie (17-6).


In die laaste minuut het Oxlee die bal vir Hopwood gegee en hy en Gainsford het weer gekombineer en toe Gainsford deurbreek was hy onder die pale vir sy drie. Oxlee het vervyf om sy totaal vir die wedstryd 10 te maak. Hy het 20 punte in die reeks aangeteken en sy totaal na 73 in 16 wedstryde opgestoot. Suid Afrika het die laaste toets oortuigend gewen, maar daar sou baie werk voorlê voor die All Blacks in 1965 aangedurf kon word. Die eindtelling was 22-6 in die Springbokke se guns.


Spelers wat uitgestaan het was Oxlee, Hopwood en Gainsford vir Suid Afrika en vir Australië het Catchpole, Howthorne en Casey baie goed gespeel.



 

753 views0 comments

Recent Posts

See All
bottom of page