top of page

1962 - Britse Leeu Toer na Suid Afrika

Updated: Jan 27, 2021

Die Britse Leeus onder leiding van Arthur Smith het groot belangstelling gelok op hulle toer deur Suid Afrika in 1962. Alhoewel die Springbokke die reeks met 3-1 gewen het, was die spanne baie nader aan mekaar as wat die telbord sê. Behalwe vir die vierde toets, het die leeus goeie rugby gespeel en goed kers vasgehou met die Springbokke. Waar daar verwag was dat die Springbokke te sterk sou wees vir die Leeus, naamlik in die voorspelerspel, was dit die Leeus wat almal verbaas het met hoe goed hulle gevaar het in die afdeling van die spel.



The British Lions rugby touring team in South Africa, 1962.
Britse Leeu Toerspan, 1962



Potential players of the 1962 British Lions.
Toer Vooruitskouing in Britanje
The captain of the British Lions touring team in South Africa in 1962, Arthur Smith.
Kaptein Arthur Smith (Skotland)

Captain of the Springbok rugby team in 1962, Johan Claassen.
Johan Claassen, Springbok kaptein

 




 

(89) Suid Afrika, Saterdag 23 Junie 1962

Ellispark, Johannesburg - Eerste Toets

Suid Afrika 3, Britse Leeus 3

Toeskouers (73 000)

Skeidsregter: E.A. (Bertie) Strasheim (Suid Afrika)




Net kort voor die toets is bekend gemaak dat Dave Stewart sowel as Jannie Engelbrecht weens beserings nie sou speel nie en dat Melville (Wang) Wyness in Stewart se plek en Mannetjies Roux in Engelbrecht se plek op vleuel sou speel.


EERSTE HELFTE:


Met die gedawer van oor die 70 000 toeskouers wat Ellispark volgepak het, het Keith Oxlee afgeskop maar bal het nie die nodige tien treë getrek nie. Die Leeus het geboer op die aanval in die begin en Lionel Wilson moes 'n paar maal red wanneer balle op hom geskop was. Na nege minute se spel is Piet Uys by 'n skrum gestraf en Weston het aangelê vir 'n maklike skop, maar sy nuwe stewel se punt het die grond eerste getref en dit was mis.


Springbok winger Ormy Taylor saves the day as Smith, the British Lion forces play in the first test of 1962.
Ormy Taylor druk dood

Eers na vyftien minute was die Springbokke op die aanval toe John Gainsford by sy opponent Weston verby is en Doug Hopwood is naby die hoekvlag deur Brophy gestuit wat in die proses beseer is. Die Leeus was opgewasse in die skrums waar Meredith beter balle en ook vasskoppe as Malan gehaak het. Die agterspelers van die Springbokke was egter baie goed en die Leeus kon nie deurkom nie.


Die skakelpaar van die Leeus, Jeeps en Waddell het met taktiese skoppe probeer veld wen maar dit was veral Wilson wat hom uitstekend van sy taak gekwyt het en alles met rente terug gestuur het. Na twintig minute het Frik du Preez se lang skop van die middellyn af net kort geval. Hoë dwars en vorentoe skoppe aan beide kante was aan die orde van die dag maar geen skade is gedoen nie.


John Gainsford on his way to score against the British Lions of 1962.
John Gainsford op die aanval.

Die Britse Leeus se agterlyn het beweeg en Jones het gemaak of hy wil spoed optel en toe 'n grond-skoppie gelos. Wyness was uit posisie maar Mannetjies Roux was by en soos blits het hy omgeswaai weg van die los af en na Gainsford laat loop. Sy buiteswenk op volle vaart het hom verby heelagter Wilcox gevat en hy het sierlik in die hoek oorgeduik vir sy drie. Oxlee se vervyfskop was net mis maar min het hy geweet hoe naby aan 'n oorwinning's skop dit kon wees vir die Springbokke.

Springbok John Gainsford dives over for his try against the British Lions in the first test of 1962.
Gainsford duik sierlik oor.

Hierna het Weston, die senter in die hardloop 'n skepskop poging probeer wat gelyk het of dit oor gaan wees. Die hoë skop was teen die bo-punt van die regoppaal vas en alhoewel Arthur Smith die bal in die hande gekry het, kon hy nie die bal beheer nie met 'n oop doellyn voor hom. Rustyd het aangebreek met die Springbokke net voor met drie punte (3-0).



TWEEDE HELFTE:


Die Springbokke het verdien om voor te loop met hulle agterspelers wat meer aanvalswerk gedoen het, maar die Leeus het almal, insluitende hulself verras met hulle voorspelerspel wat by tye beter as die van die Springbokke was. Die spanne was baie gelyk in alle afdelings en beide spanne het probeer deurkom, maar tevergeefs.

Mannetjies Roux, Springbok centre in 1962.
Mannetjies Roux

Skielik het die Leeus met 'n belowende beweging begin deur hulle agterlyn met Brophy wat op die doellyn afgepeil het vir 'n seker drie. Hy het egter nie gesien hoe Mannetjies Roux omgedraai het en hom agterna gesit het nie. Roux het hom gevat en met 'n plettervat by die kantlyn uitgeboender. Brophy het op sy skouer geval en moes die veld verlaat met Parks wat sy plek ingeneem het.


Na behandeling het Brophy na vyf minute weer op die veld verskyn maar dit was duidelik dat sy skouer hom gepla het. Weston het 'n skepskop probeer maar was wyd met sy poging. Waddell het ook probeer skepskop maar is afgestorm deur Oxlee.



Springbok centre Roux tackles Brophy of the British Lions in the first test of 1962.
Mannetjies Roux en Brophy

Willcox het 'n vinnige beweging vanaf heelagter begin en die bal is rondgegooi totdat die einste Brophy weer die bal gekry het en oopgelê het doellyn toe. Wie het kom red vir die Springbokke, niemand anders as die einste Mannetjies Roux wat weereens vir Brophy grond toe gebring het naby die doellyn. Mannetjies was oral waar die bal was.


Die Springbokke het hulle aanvalle voortgesit maar akkuraatheid het gekort. Waddel wat wou deurkm vir die Leeus was te stadig en is platgetrek. Haker Meredith het 'n sny bokant sy oog gekry maar aangehou speel. Wanneer die Leeus probeer het met skoppe om veld te wen, was die rotsvaste Lionel Wilson daar wat weer die Leeus terug gejaag het met torpedo skoppe to naby hulle "25". Dit was om van moedeloos te word vir die Leeus.


Ken Jones dives for his try against South Africa in the first test, 1962.
Jones duik sierlik oor

Toe kom die Leeus met 'n laaste poging om die toets te red met tien minute speeltyd oor. Heelagter Willcox het begin hardloop uit sy "25" en is in die middelveld vasgevat. Hy kon die bal uitkry na Waddell wat effe gevorder het en toe aansluiting by Jones gekry het. Die klein Wallieser was gou op volspoed met Springbokke wat hom agterna gesit het. Hy het binnetoe geswek verby Taylor en met Wilson in die pad, maar met 'n verandering van spoed en nog 'n swenk is hy verby Wilson. Roux en Hopwood het hom gejaag maar Jones was te vinnig en het in die hoek oorgeduik te midde van groot applous. Arthur Smith se vervyfskop was skeef en die welverdiende drie het die telling gelykop gemaak (3-3).


A loose maul during the first test match at Ellispark, 1962.
Frik, Mannetjies en Abie Malan

Skielik het die wedstryd opgevlam en alhoewel die spelers moeg was kon enige span nog wen. In 'n mooi beweging wat dalk punte kon beteken vir die Springbokke, het groot Frik du Preez sleg uitgegee na die verkeerde kant met die Leeus uit posisie.


Smith het 'n laaste lopie ingekry maar was plat getrek deur Taylor en Oxlee se lang buitelyn skop tot naby die hoekvlag het die skeidsregter se eindfluitjie laat blaas. Eindtelling 3-3.




 

(90) Suid Afrika, Saterdag 21 Julie 1962

Kingspark, Durban - Tweede Toets

Suid Afrika 3, Britse Leeus 0

Toeskouers (40 000)

Skeidsregter: K.R.V. Carlson (Suid Afrika)



Daar is soos verwag veranderinge aangebring in die Springbokspan vir die tweede toets nadat die eerste toets gelykop was. Mannetjies Roux en Melville (Wang) Wyness is net so behou op vleuel en senter onderskeidelik nadat hulle vir Jannie Engelbrecht en Dave Stewart kort voor die aanvang van die eerste toets vervang het weens beserings. Jannie Engelbrecht was weer reg en hy het vir Ormy Taylor vervang en op skrumskakel het Dawie de Villiers sy debuut gemaak toe hy in die plek van Piet Uys gekies was. Frik du Preez is na slot verskuif in die plek van Avril Malan terwyl Hannes Botha op flank ingekom het. Die veteraan flank Hugo van Zyl is deur Louis Schmidt vervang en Chris Bezuidenhoudt het Mof Myburgh se plek in die voorry ingeneem.




The British Lions team for the second test in Durban, 1962.
Britse Leeus, 2de Toets

EERSTE HELFTE:


Voor 'n skare van 40 000 insluitende hoë gaste waaronder die Staats President, Blackie Swart, het gesien hoe die Leeus se losskakel Waddell afskop en Claassen se merk het hy uitgeskop. Die Springbokke het aangeval en nuweling Dawie de Villiers se hoë skop was goed deur Willcox gevat is maar hy is onderstebo geloop. Hierna het die agterlyn weer mooi gehardloop toe Jannie Engelbrecht as 'n ekstra man aangesluit het maar Mannetjies Roux is gestop in 'n duikslag.


The two captains Smith and Claassen leads their teams on the field at Durban, 1962.
Arthur Smith en Johan Claassen lei voor.

Na tien minute speeltyd het die Leeus 'n strafskop gekry en heelagter Willcox was net wyd met 'n lang skop van 50 treë. Doug Hopwood het toe 'n sterk lopie ingekry teen die linkerkantste kantlyn af en De Villiers het weer hoog geskop. Hierna het Hannes Botha en Willcox altwee 'n hoë skop op die doellyn van die Leeus gevat maar die skeidregter het 'n inskop beveel. Wyness was 'n slag oor die doellyn maar is terug geroep vir 'n hanteerfout.


Die eerste twintig minute was dit Suid Afrika wat meestal op die aanval was en gebiedsvoordeel gehad het. Toe kry die Britte die bal en val aan. Weston se dwarsskop wat vir Smith bedoel was is betyds deur Roux doodgedruk agter die doellyn. Die Springbokke was beter daaraan toe in die skrums terwyl die Leeus weer beter balle uit die lynstane gekry het. Waddell het mooi gebreek en vir Smith aan sy regterkant gevind wat weer na Jones aan sy buitekant laat loop het maar hy was by die kantlyn uitgeduik.


Springbok prop Fanie Kuhn attacking while Campbell-Lamberton tries to stop him. A scene from the second test in Durban, 1962.
Fanie Kuhn wat dryf.

Willcox se skepskop poging het wyd geseil en Smith was onkant na Waddell se hoekskoppie. Willcox se 40 treë strafskop was ook wyd en toe hy net daarna kantlyn toe skop is dit afgestorm deur Louis Schmidt en Willcox het sy enkel gedraai in die proses. Na behandeling het hy mankerig voortgespeel. Nog 'n kans om punte aan te teken het verlore geraak toe Frik du Preez vanaf 30 treë misluk het met 'n strafskop.


Engelbrecht het toe 'n mooi lopie ingekry en toe hy vasgevat word was Malan en Kuhn daar om te ondersteun. Die beweging was net-net gestuit deur rotsvaste verdediging en rustyd het aangebreek met geen punte op die telbord nie. Dit was gewis 'n geval van verlore kanse aan beide kante.


TWEEDE HELFTE:


Arthur Smith tussles with Roux the Springbok winger in Durban, 1962.
Smith keer vir Mannetjies Roux

Oxlee het pale toe aangelê van so 45 treë af en sy skop was net wyd en Waddell het kantlyn toe geskop maar kon nie uitskop nie. Mannetjies Roux het die bal gekry en begin hardloop en toe dwars geskop. Die gevaarlike beweging was gekeer deur Willcox wat net betyds voor Engelbrecht die bal kon veilig maak.


Eers het Weston van die Leeus se skepskop wyd getrek en toe het die Springbokke aangeval maar Wyness het aangeslaan met Roux ongemerk aan sy buitekant. Toe Du Preez vir Millar laat loop moes Willcox sy beseerde enkel op die proef stel met 'n strafskop, maar dit was weer wyd. Altwee spanne het telekemale probeer deurkom maar tevergeefs. Die skare mense het gewag vir iemand om uit te styg bo die res om punte op die bord te sit, maar dit wou net nie kom nie.


Springbok scrumhalf Dawie de Villiers with the ball in the second test in Durban, 1962.
Dawie de Villiers

Dawie de Villiers was lastig geval en sy wilde aangee na Oxlee het Morgan in staat gestel om die bal te bemeester. Die bal het van Jones na Weston gegaan wat vorentoe geskop het vir Bepp maar die spring van die bal het hom ontwyk en Hopwood wat kom keer het kon verligting bring met sy lopie.


Frik du Preez se volgende strafskop was ook mis, en die een kans na die ander het so verlore gegaan. Die Leeus het toe druk toegepas toe Weston gebreek het maar sy hoë aangee na Bepp was onderskep. Hierna was dit weer Weston wat met 'n Leeu aanval begin het maar die alomteenwoordige Hopwood, wat uitstekend gespeel het, was daar om hom van agter plat te trek.


The winning penalty goal for South Africa against the British Lions in 1962 during the second test in Durban.
Oxlee se strafskop

Vyf minute van die einde af is Rowlands onkant betrap by 'n losgemaal net buite die Leeus se "25" en tien treë van die kantlyn af. Kaptein Claassen het die bal vir Keith Oxlee gegee om die strafskop waar te neem. Dit was behalwe vir sy skop in die modder teen Wallis in 1960, die belangrikste skop van sy loopbaan want dit sou uiteindelik bepaal of die Springbokke die toets sou wen. Oxlee se skop was hoog en suiwer deur met Jeeps, Morgan en Weston wat die bal deur die pale gevolg het (3-0).


The British Lions are celebrating what they thought was a try, but it was disallowed during the second test in Durban, 1962.
Die Leeus spring van blydskap, maar...

Met vier minute speeltyd oor het die Leeus 'n laaste poging aangewend en Waddell se skop na die hoekvlag was uit 'n paar treë van die doellyn af. Roux se ingooi was skeef en in die daaropvolgende skrum het die Leeus die bal gehou tot Mulcahy die teken gegee het om die skrum te swaai tot oor die doellyn. Die groot slot Rowlands het op die bal geval met omtrent vier Leeus bo-op hom en die res van die Leeus het in die lug gespring van blydskap. Die skeidsregter Carlson het egter 'n vyf-treë skrum beveel omdat hy nie met sekerheid kon sê of die bal wel gedruk was of nie. Nodeloos om te sê was die Leeus bitter teleurgesteld omdat 'n gelykop uitslag of moontlik 'n wen hulle beroof het deur die situasie ('n baie moeilike een deur die skeidsregter). Die Springbokke kon hulself dus geweldig gelukkig ag om die toets met drie punte te wen te midde van so 'n kontroversieële beslissing.


 

(91) Suid Afrika, Saterdag 4 Augustus 1962

Nuweland, Kaapstad- Derde Toets

Suid Afrika 8, Britse Leeus 3

Toeskouers (54 800)

Skeidsregter: Bertie Strasheim (Suid Afrika)



VOOR DIE TOETS OP NUWELAND:



Die Britse Leeus het vir Tom Kiernan in die plek van Willcox op heelagter ingebring, Richard Sharp is op losskakel in die plek van Waddell gekies en die verrassing was Willie John McBride in die plek van Rowlands op slot.


The Springbok team that played against the British Lions at Cape Town, 1962
Springbokspan, 3de Toets

Net een verandering is aangebring met Hugo van Zyl wat vir Louis Schmidt vervang het.





EERSTE HELFTE:


Onder groot applous het die twee spanne Nuweland betree en die Luus het sommer vroeg 'n noue ontkoming gehad toe 'n skop van Richard Sharp op hul "25" deur Mannetjies Roux afgestorm is. Na sowat nege minute het die Leeus naby die Springbokke se "25" gekom en 'n strafskop naby die kantlyn is gemis deur Sharp. Hierna het die Springbokke se agterlyn mooi beweeg en toe Roux as ekstra man inkom het Jannie Engelbrecht oopgelê en hy was al oor die doellyn toe hulle terug geroep was vir 'n hanteerfout.


A lineout during the test match between the Springboks and British Lions in Cape Town in 1962.
Lynstaan

Spel het gewissel tussen die twee spanne en eers was Oxlee met twee lang skoppe kort en wyd en toe was Sharp se skepskop poging vir die Leeus ook wyd. Arthur Smith het die oog gevang met goeie verdediging deurdat hy teruggeval het om te red en Bebb die vleuel, moes die veld verlaat vir steke toe hy in 'n sprong vir die bal beseer is.


Die Springbokke het 'n vasskop gehaak en Engelbrecht het mooi gevorder maar is deur Campbell-Lamberton gekeer en toe het Sharp gewys hoekom hy so hoog aangeslaan was toe hy vanuit sy eie "25" tot naby die van die Springbokke gehardloop het en toe vir Bebb aan sy buitekant gegee het. Bebb het toe vir Meredith wat weer aan sy buitekant geroep het vir die bal, geignoreer en met sy binnebreek is hy vasgevat en 'n moontlikheid van punte was verlore vir die Leeus.


The flyhalf of the British Lions in 1962, Richard Sharp.
Richard Sharp

Vir 'n rukkie het Richard Sharp die spel dikteer met mooi lopies en sy agterlyn goed weggestuur en toe hy die bal vanaf 'n vasskop kry sowat 30 treë van die pale af het hy vasgetrap en 'n skepskop oorgesit (0-3). Net drie minute later het Campbell-Lamberton oortree in 'n losskrum en Keith Oxlee het die bal gestel van so 45 treë af en die bal uitstekend oorgesit om die telling gelyk te maak (3-3).


Albei spanne het nou hulle bes gedoen om aan te val maar dit was opvallend hoe goed die Springbok losvoorspelers was en hoe goed Frik du Preez in die lynstane gevaar het. Rustyd het aangebreek met alles gelyk en daar is met afwagting uitgesien na die tweede helfte. Die telling van 3-3 kan waarskynlik as 'n getroue weergawe van die spel tot op daardie stadium beskou word.


TWEEDE HELFTE:


Keith Oxlee het gou twee kanse gekry om punte aan te teken met strafskoppe waarvan een skeef was maar die ander was net te kort, nadat Morgan onkant by 'n lynstaan was. Soos wat die intensiteit van die spel hewiger geword het is eers Claassen vir 'n rug besering en toe ook Hugo van Zyl behandel.


Die Britse Leeus het sterk aangeval en op die Springbokke se doellyn het die bal los gespat waarna Parks vir Wilson en Engelbrecht agterna gesit het en saam geduik het en net vingerpunte op die kant van die bal gekry en die bal was oor die doodlyn - geen drie nie. Dit was ook 'n stadium waarin die Leeus groot druk op die Springbokke toegepas het sonder om punte aan te teken.


Alhoewel die Britte se voorspelers goed gespeel het was dit die Springbok lostrio wat vir Sharp aan bande gelê het. Dit het beteken dat Sharp elke keer haastig moes skop en daar het die veilige hande van Wilson die bal ingewag en met rente terug gestuur kantlyn toe.


Springbok flanker Hugo van Zyl starts an offensive drive against the British Lions in Cape Town, 1962.
Hugo van Zyl bars weg

Na sewe en twintig minute was dit Hannes Botha wat 'n sterk voorspeler stormloop gelei het tot in die Leeus se "25". En vir vyf minute was dit die Springbokke op die aanval met skrums en lynstane wat mekaar opgevolg het. Na twee en dertig minute het die Leeus 'n vaskop gehaak en Sharp het probeer hardloop in plaas van te skop kantlyn toe. Die Springbok agterspelers het vinnig opgekom en toe Weston na Jones laat loop is hy deur Wyness vasgevat en altwee is grond toe en Oxlee wat by was het die los bal opgepik. Hy het na lings en toe weer na regs beweeg en toe weer lings gesystap voor hy oorgeduik het vir 'n welverdiende drie.


Die skare het mal geword en Oxlee se spanmaats het hom omhels toe hy terugstap om die belangrike vervyfskop te stel. Oxlee het terug getree en die bal suiwer oor gesit vir 'n waardevolle vyf punte (8-3).


Die Britse Leeus het toe verwoed aangeval en die vinnige Parks het die bal gekry en teen die kantlyn af gesool, maar hy was hard geloop deur Frik du Preez en Fanie Kuhn en het agteroor tussen die skool kinders beland. Hy moes afgedra word met beseerde ribbes en daarmee saam was die Leeus se kanse ook daarmee heen. Toe die eindfluitjie kort hierna blaas het toeskouers op die veld gestroom en hul helde van die veld af gedra. Die eindtelling was 8-3 en die Springbokke was nou 2-0 voor in die reeks met een toets oor om te speel.


Springbok rugby flyhalf Keith Oxlee scores a crucial try in the third test against the British Lions in 1962.
Keith Oxlee druk sy drie
 

(92) Suid Afrika, Saterdag 25 Augustus 1962

Vrystaat Stadion, Bloemfontein - Vierde Toets

Suid Afrika 34, Britse Leeus 14

Toeskouers (60 000)

Skeidsregter: Kaptein Toy Myburgh (Suid Afrika)






EERSTE HELFTE:


Met dawerende applous het die twee spanne op die veld van die Vrystaat Stadion verskyn voor 60 000 toeskouers. Losskakel Richard Sharp van die Britse Leeus het afgeskop en van 'n lynstaan het hy probeer skepskop maar sy skop was wyd. Dave Hewitt, die senter van die Leeus het toe met 'n allemintige strafskop poging van agt treë binne sy eie halfgebied aangelê, maar weer was die skop wyd. Toe het Hannes Botha vir Willcox laat geloop nadat hy 'n merk gevang het en Willcox se poging van 50 treë was ook wyd.


British Lions flanker, Bill Mulcahy is caught by a Springbok during the fourth test in Bloemfontein, 1962.
Mulcahy word vasgevat

Na vyftien minute was dit die Leeus wat die eerste punte aangeteken het toe Sharp 'n hoë skop gelos het en Wilson was naby sy eie doellyn in besit betrap deur Rogers en Weston. Toe hy nie die bal los nie is hy gestraf en Willcox het die maklike strafskop oorgesit (0-3).


Die voorsprong was van korte duur want na vyf minute het die Springbokke oorgevat en voor gebly vir die res van die wedstryd. Dit was Jannie Engelbrecht wat in die lyn gekom het om die ekstra man oor te bewerkstellig. Hy het vir Gainsford gegee wat sterk gehardloop het en toe binne toe gesny het reg op heelagter Willcox af. Gainsford het op die regte tyd na sy vleuel Wang Wyness laat loop wat 'n baie mooi drie gaan druk het.


Springbok winger Wang Wyness, 1962.
Wang Wyness

Dit het gelei tot 'n reeks aanvalle deur die Springbokke en vier minute later het hulle die voorsprong vergroot na swak verdediging deur die Leeus se agterlyn. Dit was eers Gainsford en toe Wyness wat sterk gehardloop het en vir heelagter Willcox getrek het en toe na buite aansluiting van Mannetjies Roux gekry het wat neergelê het doellyn toe vir sy drie. Oxlee het vervyf en die telling was 10-3.


Die Britse Leeus het nie gaan lê nie en na 'n goeie beweging in die middel van die veld waarin Sharp, Weston, Rogers en Campbell-Lamberton mooi hanteer het, was dit vleuel Ronnie Cowan wat gaan druk het wat nie deur Willcox vervyf kon word nie (10-6). Nadat Du Preez en Hewitt albei met strafskoppe misluk het, het rustyd aangebreek.


TWEEDE HELFTE:


Na 'n inskop van die Leeus se kwartlyn het Jannie Engelbrecht die bal mooi gevat op regter vleuel en die bal na binne in die hande van Frik du Preez gegee. Frik was vasgevat maar het die bal met 'n duikaangee na Wyness weggekry. Die linker vleuel het met spoed om die verdedigers gehardloop en toe vir John Gainsford aan sy buitekant weggestuur. Dit het gelyk of hy deur Willcox en maats gekeer gaan word, maar hy het deurgeskiet met vaart en krag en in die linkerkantste hoek oorgeduik vir 'n uitstekende drie. Oxlee kon nie die vervyfskop oorsit nie (13-6).


Sewe minute later was dit die Leeus se beurt met 'n drie na 'n fout van Suid Afrika. Dickie Jeeps het vorentoe geskop langs die regterkantse kantlyn af vanaf 'n skrum en Mannetjies Roux wat die bal gekry het, het in plaas van te skop, naby sy doellyn probeer hardloop maar hy is vasgevat. Nadat Roberts hom geduik het, was Rowlands by om die losbal op te raap en met verdedigers om hom, het hy sy pad oopgeloop tot onder die pale vir 'n drie. Willcox se vervyfskop was oor en skielik was die telling 13-11.


Springbok flanker, Hugo van Zyl went over for a try in the fourth international of 1962 against the British Lions.
Hugo van Zyl se drie

Die Leeus was toe gestraf by 'n lynstaan naby hulle eie kwartlyn en Oxlee het 'n goeie strafskop oorgesit (16-11). Met die afskop het Jannie Engelbrecht die bal gekry en vir Frik du Preez laat loop. Frik het op 'n stormloop gegaan en met die bal in eenhand, seker ses verdedigers geklop. Toe hy uiteindelik deur twee verdedigers naby die doellyn gestuit kon word, het hy vir Hugo van Zyl gegee wat naby die linkerkantste hoek oor is vir sy drie. Oxlee het mooi vervyf om die telling verder op te stoot na 21-11.


Drie minute later was dit weer so toe Hopwood vanaf 'n skrum naby die Leeus se doellyn die bal gekry het en vir Van Zyl gegee het. Toe hy vasgevat word was Johan Claassen by aan sy binnekant om oor te dryf vir sy drie. Oxlee het weer geen fout gemaak met die vervyfskop nie en die telling het gegroei na 26-11.


Springbok rugby captain, Johan Claassen scored a try against the British Lions in Bloemfontein, 1962.
Johan Claassen se drie

Die Britse Leeus was moedeloos soos wat die Springbokke hulle oorskadu het soos wat hulle nog nie voorheen op die toer ondervind het nie. Die Springbokke met baie selfvertroue en 'n fikse eenheid het gedreig om selfs verby die rekord telling van Murrayfield te gaan in 1951-52, soos hulle die bal rondgegooi en mekaar ondersteun het.


Eers was Frik du Preez se lang strafskop van 55 treë nie daar nie maar toe word die Leeus weer gestraf en Keith Oxlee het met 'n skop van 35 treë geslaag om sy persoonlike totaal verby die 50 punte op te stoot in internasionale wedstryde (29-11).


Drie minute voor die einde het Mannetjies Roux een van die skouspelagtigste drieë nog deur 'n Springbok gaan druk toe die bal van 'n losgemaal via Johan Claassen uitgekom het en in 'n volle agterlyn beweging is die man oor bewerkstellig toe Wyness ingesny het. Roux het die bal op die middellyn ontvang en met geweldige spoed by Cowan verby geskiet en met 'n binne systap ook vir Willcox laat stilstaan om triomfantlik en sierlik oor die doellyn te duik vir sy drie. Oxlee het die vervyfskop oorgesit en die Springbokke se telling na 34-11 te vergroot.



The Springbok winger Mannetjies Roux, scores a spectacular try against the British Lions during the fourth test in Bloemfontein, 1962.
Mannetjies Roux duik sierlik oor
British Lion Campbell-Lamberton scores a try against South Africa in the fourth test of 1962.
Campbell-Lamberton se drie

Die Britte het 'n laaste troosprys gekry toe Meredith vyftien treë van die Springbokke se doellyn die bal vinnig ingegooi het by 'n lynstaan en Mike Campbell-Lamberton die bal gevat en voordat die verdediging besef het wat gebeur is hy deur vir 'n drie. Willcox kon nie vervyf nie en die eintelling van 34-14 was triomfantlik vir Suid Afrika en baie teleurstellend vir die Britse Leeus wat dan ook die reeks van vier toetse met 1-3 teen die Springbokke verloor het.







771 views0 comments

Recent Posts

See All
bottom of page