top of page

1961 - Ierland se kort toer

Updated: Jan 14, 2021

Die Springbokke en Ierland het net een toets gespeel op die kort toer deur Ierland in Suid Afrika vroeg in 1961. Die Springbokke was veels te sterk vir Ierland wat oordeelsfoute begaan het deur die toets te kies om die toer mee te begin en sekere sleutel spelers uit te laat. Die toets was gespeel skaars drie maande nadat die toerspan van Britanje en Frankryk af terug gekeer het. Avril Malan wat kaptein was kon weens 'n besering nie speel nie. Johan Claassen sy slotmaat was dus kaptein teen die Iere.


INTERESSANTE FEITE:


  • Dit was die derde keer dat Tony O'Reilly op 'n toer na Suid Afrika gekom het, naamlik, die Britse Leeus (1955), die Barbarians (1958) en Ierland (1961).

  • Ronnie Dawson, die Ierse kaptein, was ook kaptein van die Britse Leeus wat in 1959 deur Australië en Nieu Seeland getoer het en was ook kaptein van die Britse Barbarians wat die enigste span was om die Springbokke op hul 1960-61 toer deur Britanje en Frankryk te klop.

  • Die Ierse heelagter Tom Kiernan het 38 punte in vier wedstryde op toer aangeteken en die derde heelagter geword wat 'n drie op Nuweland in 'n Internasionale wedstryd kon behaal. Die ander twee was Percy Allport en Roy Dryburgh.

  • Johan Claassen het die rekord wat Chris Koch gehou het van 22 toets wedstryde verbygesteek en in sy 23ste toets gespeel.

  • Daar was vier Van Zyls in die Springbokspan teen die Iere naamlik, Ben-Piet van Zyl (vleuel), Hennie van Zyl (vleuel), Piet van Zyl (slot) en Hugo van Zyl (flank).

  • Dave Stewart was die vierde agterspeler om in drie verskillende posisies vir die Springbokke te speel naamlik, heelagter, losskakel en senter. Die ander is Danie Craven (skrumskakel, losskakel, senter asook agsteman), Fred Turner (heelagter, vleuel en senter), en Jimmy White (heelagter, vleuel en senter).


A rugby team photo consisting of both the Springboks and Ireland in 1961.
Die gesamentlike spanfoto



 

(86) Suid Afrika, Saterdag 13 Mei 1961

Nuweland, Kaapstad - Enigste Toets

Suid Afrika 24, Ierland 8

Toeskouers (35 000)

Skeidsregter: P.M.H. Calitz (Suid Afrika)



The Springbok rugby team that played against Ireland in 1961.
Springbokspan teen Ierland

AGTER: Charlie Nimb, Ronnie Hill, Lionel Wilson, Colin Greenwood, Piet Uys. STAANDE: Ben-Piet van Zyl, Piet van Zyl, Martin Pelser, Hennie van Zyl, Doug Hopwood, Fanie Kuhn. SITTENDE: Hugo van Zyl, Johan Claassen (Kaptein), Hennie Muller (Afrigter/Bestuurder), Dave Stewart, Piet du Toit.


The Irish rugby touring team in South Africa, 1961.
Ierland se span

AGTER: T.J. Cleary, W.G. Tormey, J.S. Dick, J.N. Thomas, Tom Kiernan, Kennith Houston, Dion Glass, Jerry Walsh, William Hewitt. STAANDE: Noel A. Murphy, J.F. Dooley, Niall Brophy, Bill Mulcahy, C.J. Dick, Timothy McGrath, Dennis Scott, Michael Culliton. SITTENDE: Tony O'Reilly, Syd Millar, Gordon Wood, Noel F. Murphy (Bestuurder), Ronnie Dawson (Kaptein), T.A. (Tony) O'Reilly (Onder-Bestuurder), Andy Mulligan, R.W. Jeffares (Sekretaris), Ronnie Kavanach.


EERSTE HELFTE:


Die Springbokspan met vier Van Zyls en in wit truie, was veels te sterk vir die Iere in alle afdelings van die spel en het gemaklik met 24-8 gewen. Tom Kiernan die Ierse heelagter het al hulle punte aangeteken waaronder 'n drie op die einde. Die Iere het gevestigde voorspelers Gulliton en Murphy uitgelos en vir Glass bo Tormey verkies van wie laasgenoemde baie goed op die res van die toer gespeel het. Die Iere se verdediging het hulle menigmaal in die steek gelaat teen 'n Springbokspan wat baie aanvalskans gekry het met stringe goeie balle om mee te hardloop.


Springbok centre Colin Greenwood scores a try against Ireland in 1961.
Greenwood se drie

In die dertiende minuut het Springbok losskakel Charlie Nimb 'n skêr-beweging met Dave Stewart uitgevoer en vir Ben-Piet van Zyl (regter vleuel) weggestuur. Toe Van Zyl deur Kiernan voorgekeer was het hy na Colin Greenwood laat loop wat naby die hoekvlag oorgeduik het. Nimb het vanuit die skuinste vervyf (5-0). Ierland was ongelukkig toe Kiernan se strafskop vanaf 35 treë teen die regoppaal was. In die 28ste minuut het die Springbokke verdediging in aanval omskep toe Greenwood 'n losbal opgetel het goed gevorder het. Hy het na binne vir slot Piet van Zyl as aansluiting gekry wat weer na Doug Hopwood laat loop het wat drie verdedigers ontduik het en weer naby die hoekvlag gaan druk het. Weereens het Nimb van naby die kantlyn vervyf om die telling 10-0 te maak.


Naby halftyd het die bal losgespat in Ierland se agterlyn en Martin Pelser het opgetel en mooi gevorder. Hy het na Hopwood laat loop wat weer aansluiting by Greenwood gekry het en die senter het sy tweede drie gaan druk in sy enigste toets (hy het hierna professioneel gaan speel). Die Springbokke kon weer gaan druk het maar Ronnie Hill het aangeslaan en rustyd het aangebreek met die Springbokke gerieflik voor met 13-0.


TWEEDE HELFTE:



Springbok winger Ben-Piet van Zyl scores a try against Ireland in 1961.
Ben-Piet van Zyl se drie

Na rustyd het Suid Afrika weer 'n kans vir 'n drie verspeel toe Hopwood misgetas het. Eers in die agtiende minuut het hulle weer punte gekry toe Martin Pelser vanaf 'n losskrum die bal vinnig na Ben-Piet van Zyl laat loop het wat ongehinderd oor is en Nimb se vervyfskop was suiwer oor (18-0). Springbok heelagter Lionel Wilson is toe van die veld af met 'n skouer besering en Dave Stewart wat baie goed gespeel het op senter, het sy plek ingeneem. Ben-Piet van Zyl is senter toe geskuif en Hopwood is uit die pak gehaal om regter vleuel te gaan speel.


Ireland scrumhalf gets the ball from a lineout against the Springboks in 1961.
Mulligan kry vanaf 'n lynstaan

Ierland wat toe teen sewe Springbok voorspelers beter begin vertoon het het meer balle gekry en hul agterlyn meer kanse gegee. Wilson het in die 23ste minuut weer op die veld verskyn maar sy skouer het steeds gepla. Stewart het op heelagter gebly. In die 31ste minuut het Charlie Nimb 'n geweldige lang strafskop van 56 treë oorgesit om dit 21-0 te maak vir die Springbokke.


Ierland, wat nie gaan lê het nie, het toe twee keer vinnig punte aangeteken toe eers Piet Uys gestraf is vir skeef ingooi voor sy pale en Kiernan het geen fout gemaak nie (21-3). Hierna het die Iere weer aangeval en van lings af het Houston se dwars skop kon nie deur Hennie van Zyl gevat word nie en Kiernan wat opgevolg het, het die bal in die hande gekry en onder die pale oorgeduik en ook sy eie drie vervyf om al Ierland se punte aan te teken met die telling op 21-8.


Kort voor die einde het Springbok skrumskakel Piet Uys, mooi om die skrum gebreek en vir Ben-Piet van Zyl oorgestuur vir die laaste drie wat nie deur Nimb vervyf kon word nie. Die eindtelling was 24-8 in die Springbokke se guns.

394 views0 comments

Recent Posts

See All
bottom of page