top of page

1961 - Australië in Suid Afrika

Updated: Jan 14, 2021

Dit was die eerste kort toer deur Australië na Suid Afrika. Daar was net 15 spelers gebruik deur Suid Afrika vir altwee toetse. Dit was die tweede keer dat dit gebeur het nadat dieselfde span wat teen Engeland gespeel het, ook teen Frankryk gespeel het op die 1951-52 toer na Britanje en Frankryk. Die Springbokke het altwee toetse teen die Wallabies gemaklik gewen. Die telling van 28-3 waarmee die Springbokke die eerste toets gewen het, was 'n rekord in Suid Afrika.


  • Daar was twee broers in die span van die Wallabies naamlik, John en Dick Thornett. Tony Miller was ook lid van die 1953 Wallabies wat in Suid Afrika getoer het. Toe hy in die tweede toets van 1961 gespeel het, het hy die rekord van Nick Shehadie geëwenaar van 29 toetse vir Australië.

  • Johan Claassen die Springbok kaptein het 'n rekord opgestel toe hy in sy 25ste toets gespeel het tydens die eerste toets teen Australië.

  • Dit was ook die eerste keer dat Australië hulle span kleure verander het om nie met die groen van die Springbokke te kompeteer nie. Hulle het hulle groen truie verander na donker goud en hulle wit broekkies na groen. Die nuwe kleure het dan hiermee die permanente kleure vir toekomstige toere geword vir Australië.

The Australian rugby touring team to South Africa in 1961.
Australiese Toerspan 1961

AGTER: Dick Thornett, John Thornett, Tony Miller, John O'Gorman, Graeme MacDougall, Rob Heming, Jim Lenehan, Jon White, Ted Heinrich. SITTENDE: John Dowse, Peter Johnson, Bjarne Halvorsen (Bestuurder), Ken Catchpole (Kaptein/Afrigter), A. Henry (Vert. Australiese Rugbyraad), Beres Elwood, Jim Lisle. VOOR: Terry Reid, Rod Phelps, Owen Edwards, Ted Magrath, Harry Roberts, Michael Cleary, Don McDeed.




The Ellispark rugby stadium in Johannesburg for the first test match between South Africa and Australia, 1961.
Ellispark, Eerste Toets
 

(87) Suid Afrika, Saterdag 5 Augustus 1961

Ellispark, Johannesburg- Eerste Toets

Suid Afrika 28, Australië 3

Toeskouers (57 000)

Skeidsregter: Ralph Burmeister (Suid Afrika)



The Springbok touring team for the first test against Australia in 1961.
Springbokspan, Eerste Toets

AGTER: Ronnie Hill, John Gainsford, Frik du Preez, Hennie van Zyl, Doug Hopwood, Jannie Engelbrecht, Lionel Wilson. SITTENDE: Martin Pelser, Piet du Toit, Johan Claassen (Kaptein), Boy Louw (Bestuurder), Hugo van Zyl, Fanie Kuhn, Keith Oxlee. VOOR: Piet Uys, Mannetjies Roux.



EERSTE HELFTE:


Die Springbokke was in top vorm van die begin af deur 'n speelstyl soortgelyk waaraan die Wallabies gewoond is te speel, naamlik om met die bal te hardloop en deur goeie ondersteuning die een beweging na die ander van stapel te stuur. Die enigste afdeling waarin hulle gefaal het was met skoppe. Van die agt drieë wat deur die Springbokke gedruk was, was net twee suksesvol insluitende strafskoppe en skepskoppe wat probeer was.


The captain of the Australian rugby team in South Africa in 1961, Ken Catchpole.
Ken Catchpole

Die Wallabies onder leiding van kaptein Ken Catchpole, het genoeg balle uit die los en vaste spel gekry om wel met hulle agterlyn te slaan, maar ongelukkig vir hulle was die agterlyn stadig en kort skoppies en oor-aangeë was nie geslaagd nie. Hierteenoor het die Springbokke se agterlyn mooi glad en vinnig beweeg en die vleuels het baie bal gesien om mee te hardloop.


Van meet af aan was dit die Springbokke se hantering en bal verspreiding op volle spoed wat beide hul opponente en die skare verstom gelaat het. Die Springbokke was na vier minute voor met vyf punte nadat linker vleuel Hennie van Zyl sy eerste van sy driekuns voor rustyd gaan druk het. Hy het met sy bedrieglike vaart en systappe die Australiërs in die lug laat gryp oppad doellyn toe. Johan Claassen het die vervyfskop oorgesit (5-0). Vier minute later het die Wallabie losskakel, John Dowse hulle enigste punte met 'n strafskop aangeteken (5-3).


Springbok eighthman Doug Hopwood at full speed to score a try against the Wallabies of 1961.
Doug Hopwood

Kort hierna was dit die alomteenwoordige agsteman van die Springbokke, Doug Hopwood, wat 'n uitstekende toets gespeel het, wat weggebars het vir die tweede drie wat nie vervyf kon word nie (8-3). Dit was opgevolg deur twee drieë deur Hennie van Zyl wat voor rustyd met 'n driekuns kon spog. Die drieë kon ook nie vervyf word nie en rustyd was die telling 14-3 in die guns van die Springbokke.


TWEEDE HELFTE:


Springbok winger Jannie Engelbrecht about to score his try against Australia in 1961.
Jannie Engelbrecht


Springbok senter Mannetjies Roux het toe die verdediging oorhoops gehad en deurgesny om vir Jannie Engelbrecht deur te stuur vir die vyfde drie van die Springbokke wat die keer darem deur Claassen oorgeskop was om dit 19-3 te maak.


Toe het senter John Gainsford gaan druk en daarna het die voorspelers mooi gevorder en flank Martin Pelser kon ook deurgaan vir sy drie. Die twee drieë kon ook weer nie vervyf word nie maar die Springbokke was gerieflik voor met 25-3.


Losskakel Keith Oxlee moes die veld verlaat met 'n kop besering, maar met sy terugkeer het hy as tweede heelagter uitgehelp. Toe die bal weer met die agterlyn af beweeg, was dit Oxlee wat gekry het en deurgebars het vir die laaste drie om die telling op 28-3 te staan te bring. Dit was dan ook 'n rekord telling vir die Springbokke.


 

(88) Suid Afrika, Saterdag 12 Augustus 1961

Boet Erasmus Stadion, Port Elizabeth - Tweede Toets

Suid Afrika 23, Australië 11

Toeskouers (23 000)

Skeidsregter: Eddie Hofmeyr (Suid Afrika)





EERSTE HELFTE:


Die Wallabies het baie verbeter sedert die eerste toets en het die slag goed verdedig en in alle afdelings van die spel, baie beter teenstand gebied teen die Springbokke. Die eindtelling het die Springbokke so effens gevlei. Dit was weereens oop hardloop rugby wat deur albei spanne gespeel was en selde is 'n toets gesien waar soveel ononderbroke spel gespeel is soos op die Boet Erasmus stadion.


Captain Catchpole of the Wallabies about to feed the backlaine against the Springboks at Port Elizabeth, 1961.
Ken Catchpole met die bal

Die sleutel speler vir die Springbokke was losskakel Keith Oxlee wat sy spel baie goed afgewissel het en wanneer hy nie mooi gebreek het nie, het hy sy agterlyn vinnig weggestuur. Hy het ook as skopper geslaag met drie strafskoppe en 'n vervyfskop, anders as die swak skopwerk van die eerste toets. Die Springbokke het heeltemal die oorhand in die skrums gehad waar Ronnie Hill nie minder nie as twaalf vasskoppe teen die een van sy opponent, Peter Johnson gehaak het. In die lynstane het veral kaptein Johan Claassen koning gekraai met 38-27 deur slim verwisseling van ingooie.


An Australian rugby player is prevented to pass the ball by Springboks at Port Elizabeth, 1961.
Losgemaal

Australië het in die vaste-losspel goed vertoon en hul man gestaan met manne soos Miller, Heming, Heinrich en die Thornett broers aan die voorpunt. Anders as in die eerste toets was dit die Springbokke se agterspelers, met die uitsondering van Oxlee, wat gefouteer het en hier het die Wallabies baie beter vertoon as in die eerste toets.


Na net tien minute se spel was dit Oxlee wat eerste punte aangeteken het toe hy met 'n skuins strafskop van die "25" lyn af geslaag het (3-0). Toe het die Springbokke verder voor getrek na 'n voorspeler stormloop waarna die bal vinnig na agter toe laat loop is en Mannetjies Roux deurgevleg het om sy drie te gaan druk wat deur Oxlee vervyf is (8-0).


Toe was dit die beurt van die Wallabies wat aangeval het en met 'n volle agterlyn beweging het die regter vleuel Mike Cleary gaan druk en wat deur Dowse vervyf is om die gaping te verklein op die telbord (8-5). Net voor rustyd het Keith Oxlee gaan druk na 'n skêr-beweging wat uitstekend uitgevoer was en die rustyd telling was 11-5 vir die Springbokke.


TWEEDE HELFTE:


Na rustyd het die Wallabies weer die agterstand laat krimp toe Dowse met 'n strafskop geslaag het om die telling 11-8 te maak. Hierna het die Springbokke die toets wedstryd beklink toe hulle 12 punte in 23 minute aangeteken het. Twee strafskoppe van skuins posisies maar nie te vêr nie deur Keith Oxlee het die telling laat rek na 17-8.

Springbok winger Hennie van Zyl about to score against Australia at Port Elizabeth, 1961.
Hennie van Zyl gaan druk

Springbok linker vleuel het nog 'n drie bygevoeg by sy driekuns van die eerste toets toe hy weer bedrieglik gehardloop het en die Wallabie verdedigers laat kleitrap het en dit was 20-8. Hierna het heelagter Lionel Wilson 'n vinnige skepskop oorgesit van so 30 treë van die pale af om die telling te rek na 23-8.


Hierna het die Australiese losskakel Dowse eers met 'n maklike strafskop voor die pale misluk maar toe vergoed toe hy met een van 40 treë geslaag het om die eindtelling op 23-11 te staan te bring.


 


203 views0 comments

Recent Posts

See All
bottom of page