top of page

1938 - Die sesde besoek aan Suid Afrika deur die Britse Eilande

Updated: Apr 16, 2021

Die Britse Eilande het Suid Afrika besoek met die wete dat hulle die Wêreld Kampioene moes kom trotseer wat gelei was deur Danie Craven in die drie toets-wedstryd reeks. Daar was net vyf spelers in die Britse toerspan wat nog nie internasionale ondervinding gehad het nie. Anders as met 1924 kon die meeste Britse spelers wat gekies was, die toer meemaak.

Springbok fullback, Gerry Brand in 1938
Gerry Brand

Gerry Brand se veertien punte in die eerste toets was 'n rekord wat eers weer in 1962 deur Keith Oxlee gebreek was, toe hy sestien punte ook teen die Britse Leeus aangeteken het. Boy en Fanie Louw (broers) het 'n rekord daargestel deur vir die vierde agtereenvolgende toets reeks vir Suid Afrika te speel. Boy Louw en Gerry Brand het ook 'n rekord opgestel deur in vyf toets reekse vir Suid Afrika te speel.


Slegs agtien spelers het Suid Afrika in die reeks verteenwoordig. Die kleinste getal tot nog in die geskiedenis. Veertien spelers van die 1937 Springbokspan het in die eerste toets vir Suid Afrika gespeel. In die reeks van drie toetse, was dit net Georgie Smith en Piet de Wet wat nuwe "caps" gekry het.


Die Suid Afrikaanse keurders was, W.F.R. Schreiner (voorsitter), S.A. Townsend, A.F. Markotter, G. st L. Davenish, W.C. (Bill) Zeller.


The British rugby touring team to South Africa, 1938
Die Britse Toerspan - 1938

AGTER: Robert Alexander, Eddie Morgan, Gerald "Beef" Dancer, Ivor Williams, A.H. Purchas, Paddy Maine, S.R. Couchman, P.L. Duff, Jeff Reynolds, George Cromey. MIDDEL: J. Strachan (bagasiemeester), Charles Boyle, Elvet Jones, Haydn Tanner, Jimmy Giles, Bill Clement, Basil Nicholson, Russell Taylor, Harry McKibbin, Charles Grieve, D,J. Macrae SITTENDE: Bunner Travers, Jim Unwin, J.A. Waters, Sam Walker (kaptein), majoor Bernard Charles Hartley (bestuurder), H.A. Haigh-Smith (onder-bestuurder), Vivian Jenkins, George Morgan, Roy Leyland, Bob Graves.



Suid Afrika het in groen truie met wit kraag, blou kort broek, blou sokkies met twee wit strepe in omslag gespeel. Die Britse Eilande het in blou truie met wit kraag, wit kort broeke, rooi sokkies met 'n wit omslag gespeel maar wel met die bekende kenteken van die vier Britse tuis-unies, naamlik Engeland (roos), Skotland (dissel), Ierland (klawer) en Wallis (vere). Die Britse Leeus het eers in 1950 met die bekende uitrusting van rooi trui, blou sokkies en groen omslag die eerste keer gespeel op hul toer na Nieu Seeland.




 
Ellispark photographed from the air showing a packed stadium in 1938
Ellispark uit die lug tydens die eerste toets in 1938

(48) Suid Afrika, Saterdag 6 Augustus 1938,

Ellispark, Johannesburg - Eerste Toets

Suid Afrika 26, Britse Eilande 12




Die eerste toets op Ellispark was waarskynlik die beste rugby wat tot op daardie stadium op Suid Afrikaanse bodem gesien is. Dit sal nog vir geslagte lank oor gepraat word is daar gesê. Almal het in die opwinding gedeel, spelers sowel as toeskouers, en dit was oop harloop rugby wat by tye vinnig gewissel het tussen die twee spanne. Daar was nooit 'n vervelige oomblik nie, maar baie opwinding wat die skare meer op hulle voete gehad het as op hulle sitplekke.


Russel Taylor van die Britse Eilande het die eerste punte aangeteken met 'n stafskop kort na die aanvang van die wedstryd (0-3). Daarna het Springbok veteraan heelagter, Gerry Brand se eerste strafskop het die regop-paal getref, maar sy tweede poging van 45 treë af was in die kol om dit 3-3 te maak. Net hierna het heelagter Vivian Jenkins geslaag met 'n strafskop van net binne sy eie helfte (3-6). Vir die volgende elf minute was geen punte aangeteken nie, maar die spanne het die bal baie lug gegee en mekaar getoets.


Springbok winger Dai Williams score a try against Britain in 1937.
Dai Williams druk sy drie.

Uiteindelik het die Springbokke 'n skrum net binne die opponente se "25" gekry en weer het Craven dieselfde plan as in Nieu Seeland in werking gestel, naamlik om sy losskakel Harris aan te sê om vêr van hom stelling in te neem, en weer het dit gewerk. Die Springbokke het weer vir vleuel Freddy Turner gebruik om in te sny deur die gaping wat die Britte daar naby die skrum gelos het en met Jenkins voor hom, het hy na Lochner laat loop wat weer vir Dai Williams gegee het en hy was oor vir die eerste drie wat deur Brand vervyf kon word en daardeur die eerste keer in die wedstryd die voortou te neem op die telbord (8-6).


Die Springbokke sy voorsprong was net vir agt minute toe Jenkins 'n allemintige strafskop van agt treë binne sy eie halfgebied oorgeskop het (8-9). Na 'n ruk het Danie Craven weggekom en vir Ben du Toit gegee wat omtrent 50 treë gehardloop het voor hy neergetrek was. Voorryman Fanie Louw was egter byderhand om te ontvang en sy drie te gaan druk wat ook deur Gerry Brand vervyf is en met rustyd wat aangebreek het, was Suid Afrika 13-9 voor op die telbord.


A full Ellispark rugby stadium in Johannesburg during the first test in 1938.
Ellispark volgepak

Die tweede helfte het meer opwinding en hardloop rugby as die eerste helfte opgelewer en albei spanne het telkens die groot skare toeskouers op Ellispark in vervoering gehad. Spel het weer gewissel tussen albei spanne en toe Suid Afrika 'n strafskop kry naby die kantlyn en net binne hulle eie gebied wou Brand eers nie pale toe skop nie, maar toe Craven daarop aandring, het hy vasgetrap en 'n skepskop hoog deur die pale gejaag (16-9). Wel dit moes iets besonders gewees het om te sien.


Springbok flyhalf, Tony Harris runs through for his try against Britain in the first test of 1938.
Tony Harris deur vir sy drie.

Na omtrent 'n kwartier in die tweede helfte was dit Springbok losskakel Tony Harris wat gebreek het en al die opposisie voor hom geklop het vir sy drie wat ook weer deur Gerry Brand vervyf is (21-9). Twee minute later was dit weer Jenkins wat sy derde strafskop oorgesit het vir die Britte (21-12). Hierna het albei spanne weer die bal lustig rondgegooi en spel was dan in een helfte en dan weer in die ander se helfte van die veld. Vir die volgende vyftien minute was daar geen punte aangeteken nie maar goeie spel is gesien en toe kom die beste drie van die dag.


Eers was dit die Britse Eilande wat Suid Afrika vasgepen het in hulle gebied, maar toe kom die Springbokke weer op die aanval. Vanaf 'n vaste skrum het die bal beweeg van Craven na Harris en toe met die agterlyn af via De Wet en Lochner na hul vinnige vleuel Williams. Williams het oopgelê doellyn toe en soos hy geduik het vir sy drie, het toeskouers langs hom ook saam geduik om uiting te gee aan hul blydskap en so saam die oorwinning te vier. Gerrie Brand se vervyfskop was weereens oor wat die eindtelling op 'n allemintige 26 vir Suid Afrika en 12 vir Britanje te staan gebring het. Die reeks van drie toetse was met 1-0 in die sakkie.


FOTOS VAN DIE TOETS:



 

(49) Suid Afrika, Saterdag 3 September 1938,

Crusader Ground, Port Elizabeth - Tweede Toets

Suid Afrika 19, Britse Eilande 3





Die tweede toets wedstryd in Port Elizabeth was gespeel in warm tropiese toestande en selfs voor die aanvang van die wedstryd het die sweet druppels al op die spelers se voorkoppe uitgslaan. Dit was 33 grade selsius in die skaduwee en onder sulke omstandighede kon dieselfde spel as in die eerste toets nie herhaal word nie. Die Springbokke het 'n kwaai terugslag gekry net voor die toets toe Gerry Brand wat 'n been besering opgedoen het in 'n oefen wedstryd, moes onttrek en Johnny Bester is van Kaapstad af laat kom om vleuel te speel terwyl Freddy Turner heelagter toe geskuif was.


Die Britse Eilande het van die begin af ingeklim en elke bal gehaak en gou tot binne die Springbokke se gebied gevorder en daar gekamp. Twee vroeë strafskoppe is gemis en 'n paar van die Britte se bewegings was gevaarlik. Toe Ferdie Bergh egter met die bal wegbars was een van die beste stormlope van die toets gesien. Die bal is onder die voorspelers gehou en het met hand-tot-hand bewegings vêr veld gewen vir Suid Afrika. Van die voorspelers af is die bal toe na die agterlyn waar De Wet net betyds gestuit was naby die doellyn. Kort daarna was dit weer Bergh wat weggebreek het en toe vir Ben du Toit in besite gestel het. Die woelige losvoorspeler het 'n paar opponente ontduik voordat hy onder die pale gaan druk het vir Turner om te vervyf (5-0).


Van toe af het die wedstryd wipplank gery met spel wat van die een helfte na die ander beweeg het sonder dat enige span kon deurdring. Maar toe kom nog 'n drie vir die Springbokke toe Flappie Lochner sy man geklop het en naby die doellyn ingesny het en nog opponente ontduik het voordat hy sy drie gekry het. Freddy Turner het weer geslaag met die vervyfskop om die halftyd telling 10-0 te maak.

Springbok rugby captain, Danie Craven breaks through the British Isles defence in a test match of the 1938 series.
Danie Craven breek weg met die bal

In die tweede helfte het Danie Craven om die skrum gebreek en aan die buitekant vir nuweling vleuel Bester gegee wat verskeie Britte geklop het vir sy drie (13-0). Toe was een van die beste lopies gesien wat mens voor kan wens. Dai Williams het die bal binne sy eie halfgebied gekry en begin harloop. Hy het met systappe en kronkel lopies omtrent al die Britte geflous en in die proses menige opponent in die stof laat byt. Hoe nader hy aan die doellyn gekom het, was daar elke keer nog 'n Brit voor hom en in sy poging om die drie te druk, het hy die bal verloor toe hy oorgeduik het en 'n gulde kans was daarmee heen.


Springbok fullback Freddy Turner displays his kicking style against Britain in 1938.
Freddy Turner se skopstyl

Vir die res van die helfte moes die Springbokke tevrede wees met twee goeie strafskoppe van heelagter Freddy Turner (19-0). Die Britte het toe met mening aangeval en net goeie verdediging het punte gekeer. Naby die einde van die wedstryd is 'n bal laat val deur die Springbokke en Reynolds het die losbal opgeraap en op Turner afgestorm en Duff was byderhand om die aangee te vat en die Britse Eilande se enigste punte aan te teken met sy drie (19-3).



 

(50) Suid Afrika, Saterdag 10 September 1938,

Nuweland, Kaapstad - Derde Toets

Suid Afrika 16, Britse Eilande 21





Die derde en laaste toets wedstryd van die 1938 reeks teen Britanje was gespeel op Nuweland in Kaapstad en 'n sterk wind het gewaai. Die spelers het egter steeds goeie spel aan beide kante gelwer ten spyte van die wind en die skare is op aanskoulike rugby trotseer en daar is nie baie geskop nie. Die Britte was vasbeslote om nie die toets te verloor nie en al was Suid Afrika nog sonder Gerry Brand, kon hulle net nie die Britte klop nie. Van die afskop af was hulle geditermineerd en het die Springbokke onder druk geplaas met goeie aanvalle al was die wind teen hulle. Aanhoudende aanvalle het uiteindelik sukses gebring toe Cromey gebreek het en vir Giles gegee het wat weer vir Jones in besit gestel het om te gaan druk (0-3).


Springbok rugby fullback Freddy Turner is seen at full speed against the British Isles in 1938.
Freddy Turner op volle vaart

Hierna was dit die Springbokke op die aanval en toe Turner deur die middel van die agterlyn deurbreek, het hy na Williams laat loop wat weer dwars geskop het maar die wind het die bal terug gewaai waar Turner dit weer in die hande gekry het om 'n goeie drie te gaan druk wat hyself vervyf het (5-3). Die beweging was opgevolg deur nog ander en op die stadium was die Springbokke op dreef en in beheer van spel.


Een of ander tyd moes daar punte kom en toe onderskep nuweling Bester die bal tussen die Britte en hy kon regdeur hardloop vir sy drie wat ook deur Freddy Turner vervyf is (10-3). Hierna het die britse Eilande terug gekom op die aanval en twee keer was daar amper 'n drie. Een keer is die bal verloor en een keer was daar 'n vorentoe aangee. Twee stafskoppe teen die Springbokke was elke keer net wyd van die pale. Losskakel Tony Harris het toe 'n geweldige buitelyn skop saam met die wind gegee tot diep binne die Britte se gebied en vanaf die daaropvolgende lynstaan is Ferdie Bergh oor vir sy drie kort voor halftyd (13-3).


Na rustyd was dit die Springbokke wat weer op die aanval was binne die "25" en een van hulle was oor die lyn maar die skeidsregter het nie die drie toegeken nie. Was dit wel 'n drie, kon die uitslag ander gewees het, maar 'n kans was verlore. Hierna het die Britse Eilande sterker na vore gekom en met die wind van agter, al hoe meer druk op die Springbokke begin uitoefen. Eers het Walker vanuit 'n lynstaan weggebreek en vir Dancer oorgestuur vir 'n drie wat vervyf is (13-8). Toe was dit die senter McKibben wat 'n strafskop van 40 treë oorgeskop het (13-11). Met net twee punte agter, was dit die Britte op die voorvoet wat selfs die Springbok pak voorspelers, wat so goed in die vorige twee toetse was, oorskadu het.


Toe was dit die ratse klein losskakel van die Britte, Cromey wat gebreek het en vir agsteman Alexander oorgestuur het vir 'n drie wat Britanje weer laat voorloop het met 14-13. Net daarna was dit weer die Springbokke wat voor was toe Turner 'n strafskop oorgesit het (16-14). Die voorsprong was egter van korte duur toe een van die Springbokke nie kon uitskop nie, het heelagter Grieve die bal gekry, reggemaak en 'n skepskop van vêr af geloods wat oor was (16-18). Weer was dit die agterlyn van die Britte wat begin hardloop het en Jones was op die hoekvlag uitgestamp. Vanaf die lynstaan was dit Duff wat die bal in die hande gekry het en oorgeval het vir 'n drie om die uitslag vir Britanje te beklink (16-21).


Die Springbokke met 'n bo-menslike poging het spel verplaas tot in die gebied van die Britte waar 'n skrum beveel was. Vanaf die skrum het Danie Craven steelkant om gebreek en vir Bester laat loop wat op die heelagter afgepeil het. Hy het vir Williams in besit gestel wat wat om gehardloop het en onder die pale gaan druk het, maar die skeidsregter het beslis dat dit 'n vorentoe aangee was en so het 'n baie opwindende toets wedstryd tot 'n einde gekom. Die Springbokke het dus die laaste toets reeks voor die uitbreek van die tweede wêreld oorlog in 1949, met 2-1 gewen. Hulle sou eers weer elf jaar later in 1949 toets rugby speel.


FOTOS VAN DIE TOER:


 

bottom of page