top of page

1931-32 - Derde toer na Britanje, net een wedstryd verloor

Updated: Apr 16, 2021

Die derde toer na Britanje het plaasgevind 20 jaar na die tweede toer en die toerspan van Bennie Osler het terug gekeer met feitlik 'n voltal waartydens net een wedstryd verloor is, 'n ongekende sukses verthaal. Die toer het 3 maande en dertien dae geduur waarin die Springbokke 407 punte teenoor die 124 van hul opponente aangeteken het.


Daar was twee pare broers in die span naamlik, Boy en Fanie Louw asook Ponie en J.C. van der Westhuizen. Altwee heelagters, Gerry Brand en Jackie Tindall het van dieselfde klub gekom, naamlik, Hamiltons in die Kaap. Danie Craven het as 20 jarige jongman sy Springbok kleure gekry voordat hy sy Westelike Provinsie kleure gekry het.


This is a team picture of the Springbok rugby touring team to Britain in 1931-32.
Springbok Toerspan na Britanje - 1931-32

AGTER: Nic Bierman, Schalk du Toit, Skaap Forrest, Lukas Strachan, Philip Nel, Boy Louw, George Daneel. MIDDEL: Alvi van der Merwe, Andre McDonald, Manie Geere, Fanie Louw, Ferdie Bergh, Jack Dold, Phil Mostert, Bert Kipling. SITTENDE: Jackie Tindall, Jock van Niekerk, Ponie van der Westhuizen, Bennie Osler (Kaptein), Theo Pienaar (Bestuurder), Jacob van der Westhuizen (Onder-Kaptein), Gerry Brand, Morris Zimerman, Danie Craven. VOOR: Pierre de Villiers, Floors Venter, Jimmy White, Geoff Gray, Franky Waring, Tiny Francis.



 
The Springbok rugby team lineup in the British Isles 1931
Springbokke 1931

(34) Wallis, Saterdag 5 Desember 1931, St. Helens, Swansea

Suid Afrika 8, Wallis 3



Die Walliesers het gehoop dit sal reën wanneer hulle teen Suid Afrika moes speel in die eerste internasionale toets van die toer. Wel hulle gebede was bewaarheid toe die sluise van die hemel behoorlik oopgemaak het en die toeskouers alreeds deurdrenk nat was voor die aanvang van die toets. In die haaglike omstandighede waarin die spelers haas onherkenbaar was van die modder moes hulle by tye eers wag om te sien in watter rigting spel gespeel word om te weet dit was hul eie span of die opponente.


Dit was 'n wedstryd wat meestal onder die voorspelers plaasgevind het soos mens kan verwag onder sulke nat omstandighede. Die Springbokke het met mening begin en goed gevorder deur die bal deur die hande te sit en was ongelukkig om nie te kon punte aanteken nie. Die voorspelers het baie goed hanteer totdat een besluit het om na Bennie Osler te laat loop, maar die bal was verby hom gegooi en die Walliesers het die kans gebruik om vêr veld te wen met 'n beweging wat net betyds gestop kon word.

Springbok rugby fullback, Gerry Brand.
Gerry Brand

Die Springbokke het weer aangeval met die voorspelers maar weer kon hulle nie deurkom nie. Die een aanval na die ander het gevolg. Nou was dit die Walliesers se beurt met 'n hoë skop wat deur die vingers van Danie Craven geglip het en in die hande van hulle vinnige vleuel Boon. Dit het vir die toeskouers gelyk of Wallis sou gaan druk want net Gerry Brand was voor hom, maar Gerry het hom kantlyn toe gedruk en omtrent vyf treë voor die doellyn, onder hom ingeseil dat altwee tussen die toeskouers langs die veld beland het.


Die Walliesers het toe aanmekaar aangeval totdat Brand verligting gebring het met 'n uitstekende buitelyn skop. Toe het Andre McDonald 'n Springbok dribbel beweging begin oor die helfte van die veld, maar skielik het Wallis se Boon weer die bal gekry en gevorder tot waar Brand hom weer gestuit het. Die Walliesers was beter daaraan toe en punte moes kom. Die bal was weer hoog geskop en toe Zimmerman die bal wou vang toe gly sy voete onder hom uit. Weer was Boon by om vorentoe te skop verby Brand wie ook gegly het met die omdaaislag en Davies was deur vir Wallis se drie (0-3).


Die drie het vir Wallis meer selfvertroue gegee en al wat die Springbokke kon doen was om op die bal te val elke keer nadat dit gedribbel was. Vir Wallis het Powell die skrumskakel met 'n skepskop gemis en toe skop Morley die ander vleuel die bal verby Brand en hy moes dit net toeval, maar die bal was eerste oor die doodlyn. Rustyd het aangebreek en die Springbokke was gelukkig om net met drie punte agter te loop.


Dinge het nie goed gelyk vir die Springbokke in die tweede helfte nie, en gou was dit weer Wallis met Williams wat weggebreek het met net Brand voor maar Gerry het hom met 'n mooi duikslag verhoed om te gaan druk. Die poging was net die vonk wat die Springbokke nodig gehad het en hulle het toe met nuwe vuur begin speel. Nou moes Wallis keer want die een aanval na die ander was deur die Bokke geloods. Bennie Osler het gevaarlikke skoppe veldaf en dwars geloods en Wallis moes keer vir alles wat hulle kon.

Springbok rugby forwards, Van der Merwe, Boy Louw and Van der Westhuizen in 1931.
Springbok Voorspelers

Die voorspelers met Daneel, McDonald en Van der Merwe het foute van Wallis uitgebuit en elke keer vorentoe gedribbel. Osler het toe hoog op Wallis se heelagter Bassett geskop wat die bal laat hop het en voor hy hom kon kry was Daneel by om die bal hoog uit die lug te pluk en oor te duik vir 'n skitterende drie naby die pale wat Brand nie kon vervyf nie (3-3). Hierna was die Springbokke in hoogste rat, maar af en toe moes spel gestop word om eers modder uit die oë te vee en dan was hulle weer aan die gang.


Die voorspelers het begin om met dryfbewegings die Walliesers voor hulle weg te vee en Mostert was net voor die lyn gekeer. Toe was dit Philip Nel aan die voorpunt van 'n stormloop wat die Walliesers in die modder agter gelaat het. Nel het soos 'n sokker speler gedribbel en Boon was alleen oor om te keer maar die bal het Ferdie Bergh bereik wat gaan druk het met Osler wat verdoel het (8-3). Dit was ook die eindtelling met die Springbokke wat hul blydskap getoon het.

 

(35) Ierland, Saterdag 19 Desember 1931, Landsdowne Road, Dublin

Suid Afrika 8, Ierland 3



Die Iere was na die afskop gou op die aanval totdat 'n strafskop verligting gebring het vir die Springbokke. In die middelveld het Bennie Osler die bal onderskep en oopgelê doellyn toe maar hy was deur heelagter Egan voorgekeer en 'n seker drie was verlore. Die wedstryd was genadeloos en vinnig wat die skare angstig gelaat het. Die Ierse voorspelers het hulle agterspelers baie bal gegee maar die Springbokke se verdediging het gehou. Nadat 'n Springbok onkant betrap was het Ierland se skop die pale net gemis. Die Ierse voorspelers onder leiding van George Beamish het baie goed gespeel. Beamish was ook kaptein van Midland Counties, die enigste span wat die Springbokke kon klop.


Dit was die einste Beamish wat die skare op hul voete gehad het met 'n stormloop tot naby die doellyn wat deur Ponie van der Westhuizen gestuit was. Osler het toe die druk verlig met 'n goeie skop. Spel het gewissel van een na die ander span en Gerry Brand het net gemis met 'n lang strafskop. Toe het Osler weer gemis. Die Ierse agterspelers het toe van taktiek verander en vir Brand gepeper met kort skoppe, maar hy het elke skop met rente terug gestuur. Een kortskop het in die hande van Zimmerman beland wat dwars geskop het en met 'n aanstormende pak voorspelers het Egan 'n skoonvang gevang en die kans was daarmee heen.


Springbok rugby flyhalf, Bennie Osler kicks for goal, 1931.
Bennie Osler

Ierland het eers 'n strafskop gemis maar toe 'n tweede een kom was McMahon suksesvol met 'n goeie strafskop. Die Springbokke het aangeval en weer het Brand gemis met 'n strafskop en dit was rustyd (0-3).


Gedurende rustyd het Bennie Osler gevra dat sy voorspelers weer terugkeer na 'n sekere manier van haak en dit het hulle instaat gestel om elke skrum te wen. Osler het toe baie gebruik gemaak van lynskoppe om sodoende veld te wen. Hy het ook die Ierse heelagter getoets teen hoë skoppe. Een keer kon die heelagter nie die bal beheer nie en Zimmerman wat vinnig opgevolg het, het die bal gekry en gaan druk maar die vervyfskop was mis (3-3).


Die Springbokke het toe meer beheer gekry en die Ierse voorspelers was nie meer so effektief nie. Die Springbokke het nogsteeds te veel foute gemaak met die Ierse losvoorspelers wat op foute geteer het. Met tyd wat min geword het, het 'n gelykop uitslag na 'n beslisde moontlikheid gelyk. Maar dit was kaptein Osler wat 'n beweging begin het wat die Iere geflous het toe hy steelkant toe beweeg het en vir Waring in besit gestel het met net die heelagter oor en Zimmerman langs hom. Waring het toe binnetoe gebreek in plaas van die bal vir Zimmerman te gee en alhoewel hy die heelagter geklop het, hy hom vasgeloop het in 'n Ierse voorspeler, maar gelukkig het hy hom losgewikkel uit sy greep en oorgeval vir 'n drie wat Osler verdoel het (8-3). Die Iere het in die laaste minute nog desperaat probeer inhaal maar kon nie punte aanteken nie.


 

(36) Engeland, Saterdag 2 Januarie 1932, Twickenham, Londen

Suid Afrika 7, Engeland 0



Voor die derde toets teen Engeland het baie reën en sneeu geval en alhoewel dit opgehou reën het en Twickenham se oppervlak met strooi bedek was, was die veld nog baie nat. Die Springbokke het in die begin hoofsaaklik met hul voorspelers gespeel terwyl Bennie Osler sy span meestal op die aanval gehou het met sy skoppe. Toe hy 'n skepskop mis het die bal skeef getrek en stadig na die doodlyn gerol en die Engelse heelagter geflous toe die bal skielik opwip, nadat hy sy tyd gevat het om dood te druk. Ferdie Bergh wat die engste speler was wat opgevolg het, was by om 'n omstrede drie te druk wat nie verdoel kon word nie (3-0).


Na die gelukskoot het die Springbokke met meer vuur gespeel en toe Zimerman die bal kry het hy ingesny en aangesluit by sy voorspelers wat vêr gevorder het met bal verspreiding tussen mekaar maar 'n vorentoe aangee het 'n sekere drie gekos. Hierna was McDonald amper oor maar die verdediging het gehou. Toe het Engeland se Arvold deur geskop en Gerry Brand het hom net geklop met die dooddruk van die bal. Die Engelse het aangeval en eers het Spong weggebars vir 'n amperse drie en toe was Barr se strafskop mis.


Springbok forward Phil Mostert is tackled by an England defender in the test match on the 1931-32 tour of Britain.
Phil Mostert in besit betrap

Hierna het die Springbokke Engeland terug gedryf en toe Ponie van der Westhuizen die bal op vleuel kry het hy amper gaan druk met eers 'n buite en toe 'n binne swenk, maar hy was gekeer. Net voor halftyd was die Springbokke sterk op die aanval maar kon nie verder punte aanteken nie.


In die tweede helfte moes die Springbokke teen 'n sterk wind speel en alhoewel die reën gestop het, kon dit enige tyd weer begin het. Mostert en Nel was gou weer op die aanval maar die beweging was deur Spong gestuit wat ook 'n goeie buitelyn skop geloods het. Heelagter Gerry Brand het die Engelse kort kort terug gejaag met goed geplaasde skoppe teen die wind. Boy Louw het toe gedryf vir die lyn maar is gestop deur 'n hele paar Engelse en toe het Engeland na die inskop die bal vir Gerard gegee wat deur die middel gebreek het maar Gerry Brand het hom geduik. Hierna was dit Bennie Osler wat mooi verby Spong gebreek het en byna kon deurkom. Die Springbokke het op die stadium heelwat beter begin speel nadat hulle die toets met te veel selfvertroue begin het.

Springbok flyhalf and captain of the 1931-32 tour to Britain, Bennie Osler about to kick.
Bennie Osler

Hulle was nou naby die einde ten volle in beheer en drie Bennie Osler skepskoppe was mis. Toe almal gedink het dis verby, het die Springbokke weer sterk aangeval en 'n Engelse speler het 'n buitelyn skop nie uitgekry nie en Springbok heelagter Gerry Brand het die bal gevang net binne waar die halflyn en kantlyn mekaar sny, pale toe gemik en toe losgetrek met 'n enorme skepskop wat hy teen die wind deur die pale gejaag het en waaroor nog lank gepraat is (7-0). Die skare was op hul voete en Brand wat in een van die vorige wedstryde gedoop was "Fire Brand" nadat hy al ses drieë van die Springbokke gedoel het, vertel in 'n onderhoud wat die SAUK met hom gevoer het, baie jare daarna, hoe die skop plaasgevind het.




 

(37) Skotland, Saterdag 16 Januarie 1932, Murrayfield, Edinburgh

Suid Afrika 6, Skotland 3



Die toestande waarin die toets wedstryd gespeel moes word, kan net as skokkend beskryf word want behalwe vir 'n orkaan-sterkte wind, het reën en sneeu ook nog geval wat selfs spelers seer gemaak het. Absoluut ongelooflik dat rugby onder sulke haaglike toestande gespeel was in die middel van die Britse winter. Bennie Osler sê in sy boek, "The Bennie Osler Story" dat meeste spelers nie die toestande kon baasraak nie en dat by tye sy tande geknetter het van die koue en sneeu. Die "Man van die Wedstryd" was Danie Craven en Osler sê dat Craven een van die mees perfekte vertonings van skrumskakel spel gespeel het wat hy nog gesien het en tesame met die voorspelers het hy die toets wedstryd vir Suid Afrika gewen.


Skotland was vroeg in die wedstryd voor toe hulle 'n drie gedruk het en Bennie Osler blameer homself daarvoor, want hy wou 'n bal onderskep tussen die skrumskakel en losskakel wat hy nie in geslaag het nie en losskakel Lind was deur voordat die verdediging kon keer. Die wind was so sterk dat die vervyfskop nie kon plaasvind nie omdat die bal elke keer van die merk af gewaai was voor die skop kon plaasvind (0-3). Met die storm-sterkte wind van agter was dit die Skotte wat die Springbokke swaar laat leef het met gevaarlike dribbel bewegings en al wat die Bokke kon doen was om dapper op die bal te val voor die aanstormende voorspelers en toeskouers wat luidkeels geskree het "Feet, feet, feet!".

Springbok rugby forwards in 1931
Springbok Voorspelers 1931-32

Die Springbok voorspelers het toe ook begin met dribbel bewegings en die wedstryd was uitgespook tussen twee groot pakke voorspelers maar die verskil was Danie Craven wat gereeld die lyn gebreek het naby die skrum. Op die halflyn het Craven steelkant toe gebreek en vir Venter laat loop wat mooi gehardloop het maar is naby die doellyn deur heelagter, Lawther gestuit. Die Skotte het toe weer met die wind van agter die Bokke vêr terug gedryf.


Toe was dit die Springbok voorspelers met Ferdie Bergh aan die voorpunt wat gedryfmaal het en met hand-tot-hand bewegings mooi veld gewen het. Weer het die Skotte gekom met 'n dribbel beweging en weer het die Springbokke duim-vir-duim terug geveg teen die sterk wind. Vir vyftien minute het die Springbokke besit behou deur die bal weg van die opponente te hou en in die Skotte se "25" gekamp. Hier het die Springbokke amper gaan druk maar die Skotte se verdediging het gehou. Die Skotte het met behulp van die wind op foute van die Springbokke geteer en elke keer vêr veld gewen. Rustyd het aangebreek met die telling nog 3-0 vir Skotland.

Bennie Osler, Springbok captain, 1931-32
Bennie Osler

Dit was die Skotte wat eerste aangeval het in die tweede helfte en toe Brand teen MacPhearson vasskop nadat hy die kantlyn wou opsoek, was dot Lind wat die bal vorentoe geskop het tot oor die doellyn en 'n moontlike drie was aan, maar Ferdie Bergh het kom red toe hy pragtig teruggeval het. Hierna was dit Daneel en McDonald wat spel tot diep binne die Skotte se "25" gevat het waar 'n skrum moes plaasvind. Toe kom daar 'n misverstand tussen die Skotte se skakelpaar en Philip Nel het die bal vorentoe geskop. Bennie Osler het pragtig opgevolg en die bal in die hande gekry en sy drie gaan druk. Gerry Brand kon skaars sy voet by die bal kry om te vervyf toe die wind die bal wegwaai en dit was 3-3.


Die Springbokke het nou goed gebruik gemaak van die sterk wind van agter en telkemale is die Skotte omtrent 50 treë terug gejaag deur skoppe. Spel het afgewissel tussen die twee kwart lyne sonder dat enige span die voordeel kon benut. Die Springbokke het egter gevorder tot by die Skotte se kwartlyn en van 'n skrum af het Danie Craven 'n briljante drie gaan druk wat nie verdoel kon word nie as gevolg van die wind (6-3). Luister hoe Danie Craven sy eie drie beskryf in hierdie onderhoud van die SAUK tydens die program, Springbok Sage.


 

FOTOS VAN DIE TOER:




bottom of page