top of page

1937 - Springbokke wen reeks teen Australië en Nieu Seeland (tweede toer na Australasië)

Updated: Apr 16, 2021

Die Springbok toerspan van Philip Nel was 'n ervare span wat 10 spelers ingesluit het wat in 1931-32 deur Britanje getoer het. Die twee skrumskakels, Danie Craven en Pierre de Villiers asook die twee broers, Boy en Fanie Louw, was lede van beide toerspanne. Tony Harris en Ebbo Bastard is nie deur hulle Unies vir die proefwedstryde genomineer nie, maar is deur die Suid Afrikaanse keurkomitee uitgenooi. Philip Nel was die tweede kaptein naas Billy Millar om sy land beide in Suid Afrika sowel as oorsee aan te voer.


In die eerste helfte van die tweede toets teen Australië, teken die Springbokke 26 punte aan. Danie Craven het op toer sy veelsydigheid bewys deur op vier verskillende posisies te speel, naamlik, skrumskakel, losskakel, senter en agsteman. Ferdie Bergh het in die derde toets teen Nieu Seeland sy sewende drie as voorspeler aangeteken, 'n rekord wat lank gestaan het. Vir die eerste keer was daar twee bestuurders maar nie een het stemreg gehad op die keurkomitee van die toerspan nie.


The Springbok rugby touring team to Australia and New Zealand in 1937.
Springbok Toerspan 1937

AGTER: Tony Harris, Vandie van de Vyver, Koffie Hofmeyr, Jimmy White, Dandy Lawton, Louis Babrow. DERDE RY: Ebbo Bastard, Jan Lotz, Johnny Bester, Flappie Lochner, Kalfie Martin, Dai Williams, Tallie Broodryk. STAANDE: Cecil Jennings, Fanie Louw, Mauritz van den Berg, Ferdie Bergh, George van Reenen, Roger Sherriff, Ben du Toit, Howard Watt. SITTENDE: Freddy Turner, Pat Lyster, P.W. Day (Bestuurder), Boy Louw, Philip Nel (Kaptein), Danie Craven (Onder-kaptein), A. de Villiers (Onder-bestuurder), Gerry Brand, Lucas Stachan. VOOR: Pierre de Villiers.

 



Gerry Brand, Springbok fullback of 1937 demonstrate his drop kicking ability  in Australia.
Gerry Brand demonstreer sy skepskop
The Australian rugby team that played against South Africa on the 1937 tour of Australasia.
Australië se toets span


(43) Australië, Saterdag 26 Junie 1937, Sydney Cricket Ground, Sydney - Eerste Toets

Suid Afrika 9, Australië 5




The Australian and South African rugby union teams played in torrential rain in the first test of 1937 in Sydney.
Die eerste toets was 'n modderbad

Australië moes die eerste toets van 1937 met groot selfvertroue aangepak het nadat Nieu Suid Wallis die Springbokke die vorige Saterdag gemaklik geklop het, die enigste provinsiale wedstryd wat die Springbokke op die hele toer verloor het, insluitende die Nieu Seelandse been. Die Springbokke moes hulself weer van die vloer af optel vir die toets en sommer vroeg was die tekens daar. Een van die Wallabies se agterspelers het misgetas en die Springbok voorspelers was op hom met mening en so byna was daar 'n drie.

Springbok prop Fanie Louw storming ahead against the Wallabies during the first test played at Sydney in 1937.
Fanie Louw dryf teen die Wallabies

Spel was hoofsaaklik uitgespook tussen die voorspelers, want die veld was 'n modderbad na dit die heel week gereën het. Gedurende die toets het dit ook gereën wat goeie hardloop rugby feitlik onmoontlik gemaak het. Die Springbok voorspelers het goeie besit uit die lynstane verseker en dan het die agterspelers net die bal weer verder uitgeskop. Terloops, Danie Craven was losskakel in die toets. Wanneer die voorspelers kon, is met die bal gedryf en vêr gevorder met hand-tot-hand bewegings. Sterk voorryman Fanie Louw het telkemale uit die lynstaan begin dryf en opponente uit sy pad geloop. Een so 'n dryfbeweging het tot die Springbokke se eerste drie gelei. Louw het gedryf en toe hy wel vasgevat word was Ferdie Bergh by en hy het laat loop na Lucas Strachan wat weer vir Ebbo Bastard in besit gestel het en hy kon gaan druk. Ongelukkig was die doelskop mis (3-0). Kort hierna was dit rustyd.


The Springbok and Wallaby forwards had an almighty tussle in the mud during the first test in Sydney, 1937.
Dis 'n gespook om besit in die modder

Na rustyd het die Springbokke met hulle groot sterk voorspelers sake beheer toe 'n skrum naby die Wallabies se doellyn beveel is. Die Springbokke se losvoorspelers was aangesê om druk op die losskakel te sit en die agterlyn sodoende af te sny van die voorspelers. Ongelukkig het 'n Springbok gegly en Richards is met spoed verby, wat die hele verdediging onkant gevang het. Hy het reguit op Brand afgepeil en toe Gerry hom vat het hy na sy kaptein laat loop. Towers, wat die vorige wedstryd amok gemaak het teen die Springbokke, het onder die pale gaan druk en die vervyfskop was oor (3-5).


Die Wallabie drie was teen die verloop van spel en gou was die Springbok voorspelers weer aan die dryf en hulle het gespeel soos trojane, reën en modder ten spyt. Vanaf 'n vyf-treë skrum het die Bokke eenvoudig met die Wallabie skrum geloop en Ferdie Bergh kon net op die bal val vir sy drie (6-5). Die Springbokke was in beheer en het aangeval vir al wat hulle kon maar net hegte verdediging het gekeer dat hulle nog punte kry. Uiteindelik kon Gerry Brand pale toe skop vir 'n stafskop waarmee hy geen fout gemaak het nie (9-5). Die Wallabie Cerutti het een keer weggebreek maar is hok geslaan. Na nog goeie spel deur die Springbokke waarin nie punte gekom het nie, het die eindfluitjie geblaas, met die eerste toets in die sakkie.


FOTO BEELD VAN DIE EERSTE TOETS IN SYDNEY:

 

(44) Australië, Saterdag 17 Julie 1937, Sydney Cricket Ground, Sydney - Tweede Toets

Suid Afrika 26, Australië 17



Dai Williams received the ball from De Villiers against Australia in the second test of 1937.
Dai Williams kry die bal van De Villiers

Die tweede rugby toets tussen Suid Afrika en Australië was weer gespeel op dieselfde veld as die vorige toets, maar twee helftes van srille kontras. Die Springbokke het weggespring met mening en ses-en-twintig punte opgestapel, maar in die tweede helfte kon hulle geen punte aanteken nie, terwyl die Wallabies die punte aangeteken het. Die eerste drie vir die Springbokke was weer 'n oorstoot drie en soos in die eerste toets het Ferdie Bergh weer gedruk agter die skrum. Die tweede drie het gekom nadat Dai Williams goed gehardloop het aan die steelkant en toe binnetoe aangegee het na Lucas Strachan wat weer vir George van Reenen gegee het om te gaan druk (6-0).


Vanaf 'n lynstaan het Louis Babrow die bal gekry en altwee sy opposisie senters geklop en toe by die heelagter verby geswenk vir 'n baie mooi drie wat deur Gerry Brand vervyf is (11-0). Hierna het die Wallabie heelagter, Rankin geslaag met 'n goeie stafskop (11-3). Toe vang Freddy Turner die bal wat nie die kantlyn kon haal nie en begin hardloop, toe hy voorgekeer word was George van Reenen weer byderhand om te ontvang aan sy binnekant en sy tweede drie te gaan druk wat Brand weer verdoel het (16-3). Van die afskop af het die Springbokke weer gevorder en toe Dai Williams die bal kry uit 'n volle agterlyn beweging, kon die Wallabies hom nie stop nie en hy het gaan druk langs die pale. Gerry Brand het vervyf en dit was 21-3.


Springbok center in 1937, Jimmy White.
Jimmy White

Australië het toe nog drie punte by gekry toe Rankin met sy tweede strafskop geslaag het (21-6). Toe kom nog 'n agterspeler drie vir die Springbokke toe Jimmy White mooi gebreek het en vir Babrow gegee het. Babrow het twee Wallabies geklop en gemaak of hy gaan uitgee na Williams, maar toe 'n binne aangee na White gegee wat onder die pale deur is vir sy drie, wat ook vervyf is deur Brand (26-6).


Na rustyd was dit Australië wat terug geveg het, maar eers is Towers die kaptein en senter van die veld af met 'n besering. Sy plek was ingeneem deur een van die flanke, Windon wat sommer dadelik lewe geblaas het. Toe hy die bal kry het hy na Hammond laat loop wat vorentoe geskop het, met Windon wat die bal gejaag het en toe in die hande gekry het. Hy het na O'Brien laat loop wat sy drie gaan druk het (26-9). Kort daarna was dit weer Windon wat 'n los bal tussen die Springbok senters opgeraap het en 'n volle 50 treë genael het en toe 'n lang aangee uitgeslinger het na Hodgson wat gaan druk het en dit was 26-12. Nog nie tevrede nie was dit weer Windon wat 'n bal van White onderskep het en afgesit het doellyn toe. Op die regte oomblik het hy uitgegee na Collins en die na Kelaher wat nie gekeer kon word nie en Rankin het uit die hoek die vervyfskop oorgesit (26-17) en die eindfluitjie het geblaas. Mens moet die vraag vra, waar was die Springbokke in die tweede helfte nadat hulle so goed gespeel het in die eerste helfte? Die reeks van twee toetse in Australië was dan 2-0 gewen deur Suid Afrika wat oppad was Nieu Seeland toe.


 

NIEU SEELAND 1937

Postcards of the 1937 Springbok rugby tour.
Poskaarte
The captain of South African rugby touring Springboks to Australia and New Zealand in 1937, Philip Nel.
Philip Nel, kaptein van die 1937 toerspan
Springbok rugby captain in 1937, Philip Nel.
Philip Nel

Philip Jacobus Nel was gebore op 17 Junie 1902 op Kranskop waar hy ook skool gegaan het. Die sterk boer het 16 toetse vanaf 1928 tot 1937 gespeel en wel as slot, voorryman en agsteman. Hy het Suid Afrika in 8 toetse aangevoer. Dr. Danie Craven het in sy boek, "Die Legendes van Springbok Rugby" onder meer gesê, hyself sou die agterspelers lei en oop harloop rugby speel, terwyl Philip die voorspelers sou lei. Philip het vir Danie gesê, Danie, ons voorspelers gaan die opponente in die grond in skrum, en dit is wat hulle gedoen het en daardeur die grondslag vir die reeks-oorwinnings oor die Wallabies en die All Blacks, gelê het. In daardie dae kon hulle kies of hulle 'n lynstaan gaan vat en of hulle wil skrum. Nodeloos om te sê het hulle elke keer die skrum gekies en die All Blacks harde bene laat kou. Dit was Philip se laaste toer en hy het op die terugvaart na Suid Afrika sy rugby stewels in die see gegooi, want hy was klaar gespeel.


The Springbok rugby players management on the 1937 tour of Australasia.
Die besluitnemers op toer, Craven, Brand, Strachan, Boy Louw & Nel.

The pillars of the Springbok pack in New Zealand in 1937, brothers Boy and Fanie Louw.
Boy & Fanie Louw
The tour plan of the 1937 Springboks in New Zealand.
Toerprogram

Die Springbokke het 17 wedstryde in Nieu Seeland se noord en suid eiland gespeel waarvan hulle 16 gewen het en net die eerste toets verloor het.


Regs: Boy en Fanie Louw die twee broers wat die steunpilare onder die voorspelers was.



Some portraits of Springbok rugby players on the 1937 tour.
Springbok portrette
Portraits of the 1937 Springboks.
Portrette











 

(45) Nieu Seeland, Saterdag 14 Augustus 1937, Athletic Park, Wellington - Eerste Toets

Suid Afrika 7, Nieu Seeland 13




Ron King of New Zealand and Danie Craven of South Africa lead out their teams before the first test in Wellington, 1937.
Ron King (N.Z.) en Danie Craven lei hul spanne voor die 1ste toets
The All Blacks performing the "haka" before the first test against the Springboks, 1937.
All Blacks doen die "Haka" voor die eerste toets

Die Springbokke het tot en met die eerste toets alle verwagtinge oortref en van Nieu Seeland se sterkste spanne maklik geklop. Dit was miskien ook hulle ondergang omdat hulle te oorgerus was vir die eerste toets. Dit is so dat Gerry Brand beseer was en dat kaptein Philip Nel en Boy Louw uitgelaat was vir die toets en dat Danie Craven losskakel gespeel het in plaas van die gereelde losskakels, wat ook nie so goed gewerk het nie. Nieteenstaande die faktore, het die Springbokke net nie goed gespeel nie en Nieu Seeland het terdee verdien om te wen.


Spectators at a test match in New Zealand, 1937
Toetskoors in Nieu Seeland

EERSTE HELFTE:

Van die afskop af was dit die All Blacks wat aangeval het hul senter Hooper het vorentoe geskop en Freddy Turner kon net-net red. Met die All Blacks op die aanval het hulle 'n stafskop gekry en losskakel Trevathan het oorgeskop te midde van luide applous van die groot skare (3-0).


Die Springbokke het toe bietjie hul tempo opgestoot en De Villiers het om die skrum gebreek en Lyster weggestuur op 'n goeie lopie. Hierna het Turner twee redelike maklike strafskoppe gemis. Die All Black vleuel, Cobden was toe sodanig beseer dat hy afgedra was en kon nie weer tergkeer nie. Selfs met Ward wat uit die pak gehaal was om agter te gaan speel, was die All Blacks nog in beheer. Dai Williams het toe 'n goeie druk gaan druk vir die Springbokke nadat hy die bal van 'n skrum gekry het en sterk gehardloop het (3-3). Weer het die All Blacks terug geslaan met nog 'n strafskop wat Trevathan oorgesit het en rustyd was dit 6-3 vir die All Blacks.


TWEEDE HELFTE:


All Black Dick scores a try in the first test  match against the Springboks in Wellington, 1937
Dick se drie

Dai Williams was nog onder mediese behandeling rustyd en toe hy op die veld kom, toe druk die All Blacks 'n drie. Hooper die senter het gebreek en vir Sullivan gegee wat die Springbok verdediging oorhoops gehad het en toe vir die vinnige vleuel Dick gegee het wat oor was vir 'n drie wat nie verdoel kon word nie (9-3).


Die Springbokke het toe op die aanval oorgegaan en Lyster het weggekom maar toe hy aansluiting soek was niemand daar om hom te ondersteun nie. Daarna was dit Dai Williams wat mooi gehardloop het maar die vinnige senter Sullivan het hom neergetrek en weer was daar nie ondersteuning om af te rond nie. Kort hierna was die All Black losskakel Trevathan met te veel beweeg ruimte gelos binne die Springbokke se "25" en hy het homself reggekry en 'n goeie skepskop oorgesit (13-3). Die Springbokke het besef hulle moet iets drasties doen want die tyd het uitgeloop en met die volgende aanval het heelagter Turner die bal gekry en 'n vinnige skepskop vir die Springbokke oorgesit (13-7). Dit was egter nie genoeg nie en kort hierna het die eindfluitie geblaas met Nieu Seeland 1-0 voor in die reeks van drie toetse.


Springboks and All Blacks on a chase for the bal during the first test at Wellington, 1937
Craven, De Villiers en Williams jaag die bal in die 1ste toets

FOTO BEELD VAN DIE TOER:



 

(46) Nieu Seeland, Saterdag 4 September 1937,

Lancaster Park, Christchurch - Tweede Toets

Suid Afrika 13, Nieu Seeland 6





The All Black team that played against South African in Christchurch, 1937
All Black span vir die tweede toets
Springbok rugby captain, Philip Nel introduce his players before a test match on the 1937 tour.
Kaptein Philip Nel stel sy span voor

EERSTE HELFTE:

Vir die tweede toets wedstryd teen die All Blacks was Suid Afrika goed voorberei en het ook die span weer op volle sterkte gehad met Gerry Brand terug op heelagter en Danie Craven op skrumskakel. Dit het sommer van die begin af gelyk of die Springbokke met meer durf speel as in die eerste toets. Gou was hulle in die All Blacks se "25" maar die All Blacks het met skoppe veld gewen. Van die skoppe het Gerry Brand weer met goeie kantlyn skoppe veld gewen. Dai Williams het die bal gekry en begin aanval deur om sy opponent te hardloop en dwars te skop maar die bal was ingewag deur Taylor wat 'n "Merk" gevang het.


Springbok winger, Dai Williams on one of his many strong runs against the All Blacks during the second test of 1937.
Dai Williams op een van sy sterk lopies

Die toets wedstryd was hard en genadeloos en telkemale was dit eers die een span, dan die ander wat aangeval en veld gewen het. Twee keer was die Springbok vleuels, Turner en Williams amper deur maar goeie verdediging het dit gekeer. Dit het die All Blacks net aangespoor om harder te speel en Maori vleuel Phillips het mooi gehardloop en toe binnetoe aangegee na sy voorspelers wat amper probleme vir die Springbokke beteken het.



All Black winger in 1937, Jack Sullivan
Jack Sullivan, vleuel

Die All Blacks was beter daaraan toe op daardie stadium en twee strafskoppe was net mis. Turner en Craven het elk goeie bewegings gehad met die bal maar elke keer het die All Blacks weer sterk terug geslaan. Hulle voorspelers het 'n los aangee van die Springbokke opgeraap en amper was daar moeilikheid toe vleuel Phillips net betyds deur Williams gestop is. Toe kon die Springbokke bietjie asem haal toe hulle die All Blacks terug gedryf het, maar vanuit hulle eie helfte het Phillips die bal ontvang en na Rankin, 'n wakker losvoorspeler laat loop. Hy het gevorder voor hy vir Simon die skrumskakel gegee het wat toe vir sy vleuel Sullivan in besit gestel het. Sullivan het sy ore platgetrek en agter die doellyn gaan kuier vir 'n baie goeie drie nadat die verdediging nie by hom kon kom nie.


Wag daar's nog. Die Springbokke het weer aangeval, maar weer was dit Jack Sullivan wat die doring in die vlees was toe hy 'n bal onderskep het tussen Harris en Babrow deur feitlik die bal uit Babrow se hande te vat en oop te lê doellyn toe. Toe hy voorgekeer word deur heelagter Brand, toe skop hy oor sy kop. Intussen het die vinnige Dai Williams omgedraai en vir Sullivan gejaag en die twee vinnige vleuels het skouer-aan-skouer gehardloop en Sullivan het die bal weer vorentoe geskop in die gejaag. Intussen was die skare op hulle voete en Sullivan het geduik en duime voor Williams sy hand by die bal gekry vir een van die opwindendste drieë in toets rugby tot op daardie stadium. Losskakel Trevathan se doelskop was mis (6-0) en dit was rustyd.




TWEEDE HELFTE:

Springbok winger of 1937, Freddy Turner
Freddy Turner

Met 'n kans om die reeks oorwinning te verseker deur die tweede toets te wen, het die All Blacks die tweede helfte met vuur begin en vir die eerste vyf minute op die aanval gebly. In die stormloop deur die All Blacks het Ebbo Bastard en Boy Louw kop beserings opgedoen wat hulle tydelik buite aksie gestel het. Maar toe begin die Springbok voorspelers die oorhand kry. Met feitlik net ses voorspelers maar met kaptein Philip Nel aan die voorpunt, het die pak briljant gespeel. Hulle het 'n skrum omtrent op hulle kwartlyn en na aan die kantlyn gekry. Die ses voorspelers het gehaak en die bal is deur die hande van die agterspelers waar senter White sy man getrek het en toe vir Turner laat loop het. Freddy Turner het sy spoed gebruik om buite om Dick te hardloop en toe binne toe te sny om onder die pale te gaan druk. Gerry Brand het met die vervyfskop geslaag om dit 5-6 te maak.


Kom ons kyk na 'n video greep van sy drie.


Vir die volgende vyf-en-twintig minute was geen punte aangeteken nie en alhoewel Louw en Bastard terug gekom het was hulle nog nie heel reg nie. Toe kry die Springbokke 'n strafskop net binne die halfgebied van die All Blacks en kaptein Nel gooi die bal vir Gerry Brand om pale toe te skop. Daar was doodse stilte toe Brand stilstaan en konsentreer, vorentoe kom, kop afhou en deurswaai, en die bal het suiwer deur die pale getrek om die Springbokke die eerste keer in die toets te laat voorloop (8-6). Daardie skop het die reeks bepaal want daarna kon die All Blacks nie die Springbokke stuit nie. Met al agt voorspelers terug was hulle nou onstuitbaar en Lucas Strachan het opgetel en dwars geskop van die linker kant na die regter kantlyn waar Freddy Turner die bal uitstekend uit die lug gevat het en terwyl hy deur die lug trek, het hy laat loop na White wat weer binnetoe aangegee het na Bastard wat hoekvlag toe is vir sy drie. Gerry Brand het vanuit die hoek die vervyfskop oorgesit en die eindtelling van 13-6 het 'n tevrede klomp Springbokke van die veld af gestuur.


ALL BLACKS WAT PROMINENT WAS IN DIE REEKS:


 

(47) Nieu Seeland, Saterdag 25 September 1937,

Eden Park, Auckland - Derde Toets

Suid Afrika 17, Nieu Seeland 6



Some of the Springbok rugby team being introduced to dignitaries on the 1937 tour.
Lings ?, Craven, Brand, Bastard en kaptein Philip Nel (regs)


Die derde en laaste asook beslisende toets van die reeks was gespeel op Eden Park in Auckland en was takties gesproke 'n triompf vir die Springbokke. Daar het twee skokke op die All Blacks gewag, een in elke helfte en dit was hoofsaaklik die rede hoekom die All Blacks so swak gevaar het in die toets. Die toets het teen 'n geweldige pas begin en elke span het alles ingesit en dit het 'n hele ruk gevat voor die eerste skrum plaasgevind het. Die Bokke het gehaak en van Craven, na Harris toe uit na nuweling senter, Flappie Lochner. Die All Black senter Sullivan wat in die vorige toets onderskep het, het weer probeer, maar Lochner het sy plan gesien en sy aangee terug gehou wat 'n gaping geskep het en Lochner het dit gevat en op die regte oomblik na Babrow laat loop wat gaan druk het. Die drie kon nie verdoel word nie (3-0).


The Springbok forwards secured a clean ball for Craven in the test series of 1937.
Goeie besit vir die Springbokke, Craven ontvang regs

Kort na die inskop het die All Blacks hulle eerste skok gekry, In daardie tydperk was daar 'n reël dat wanneer die bal uitgeskop is, kon die span wat moes ingooi, kies of 'n lynstaan of skrum en kaptein Philip Nel het skrum verkies. Die All Blacks het nie daarvan gehou nie omdat die Springbokke sterker as hulle was in die skrums en omdat hulle losvoorspelers toe nie meer so los kon speel nie. Dit het beteken dat hul agterspelers alleen moes verdedig teen die Springbok agterlyn en daar het hulle gesukkel.


Louis Babrow het die bal gekry en dwars geskop vir sy voorspelers en die hardwerkende Ferdie Bergh was weer daar om oor te val vir sy drie wat deur Gerry Brand vervyf kon word (8-0). Die All Blacks het net sporadies in Springbok gebied gekom en dit was van so 'n geleentheid dat losskakel Trevathan 'n lang strafskop oorgesit het net voor rustyd (8-3).


The well known picture of Danie Craven's famous dive=pass illustrated in this picture on the 1937 tour of New Zealand.
Danie Craven se beroemde duik aangee

Die Springbokke het afgeskop en heelagter Jack Taylor het die bal op die halflyn uitgeskop. Weer is geskrum en toe kom die tweede skok vir die All Blacks. Uitgeslape Danie Craven het soos vooraf beplan, vir losskakel Harris verder weggstuur van die skrum af en die All Blacks het gedink dis oor sy sterk duik aangee, maar daar was 'n plan. Harris was meer as 30 treë weg en outomaties het sy opponent Travethan ook so gemaak om vir Harris te merk en sodoende 'n groot gaping gelos.


Toe die Springbokke haak, toe kom Freddy Turner van die steelkant vleuel en vat omtrent die bal uit Craven se hande en hy was deur die gaping. Toe hy deur Taylor voorgekeer was, het hy na Lochner laat loop wat vir Babrow in die hoek oorgestuur het vir sy tweede drie (11-3). Die punte so gou in die tweede helfte het die wind heel uit die seile van die All Blacks gevat en hulle moraal het sommer gesak. Die Springbokke was in hoogste rat en nog punte was onafwendbaar. In nog 'n volle agterlyn beweging het Dai Williams die bal gekry en hy was op volle vaart. Nadat hy drie opponente geklop het waarvan een 'n "somersault" gedoen het, het hy oorgegaan vir sy drie wat nie verdoel kon word nie (14-3).


Nog was dit nie die einde nie want Babrow het pragtig gebreek en toe hy geduik was het Lucas Strachan die losbal opgeraap en 'n lang aangee na Freddy Turner uitgeslinger wat naby die hoek gaan druk het wat ook nie deur Brand verdoel kon word nie (17-3). Net kort voor die eindfluitjie het losskakel Trevathan geslaag met sy tweede starfskop om die eindtelling 17-6 te maak. Die Springbokke was oorstelp van vreugde en het geskiedenis gemaak om die reeks teen die All Blacks in Nieu Seeland vir die eerste keer te wen. Hoe merkwaardig die prestasie is kan gesien word as daar na die rekords gekyk word want tot geld rugby ingestel is in 1996 kon die Springbokke nooit weer 'n reeks in Nieu Seeland wen nie, maar dieselfde geld vir hulle op toere na Suid Afrika.


FOTO BEELD UIT DIE TOER:




bottom of page