Die span van Dr. Ronald Cove-Smith was so deur beserings gery en na die span aangekondig was, het spelers om verskeie redes onttrek, dat slegs 'n paar van die oorspronklike spelers die toer kon meemaak. Twee spelers is in hul eerste wedstryd so beseer dat hulle nie weer op toer kon speel nie. Interessant is dat heelwat oud spelers en Springbokke as skeidsregters opgetree het in die toerspan se wedstryde. "Sport" Pienaar, 'n voormalige president van die Raad, Billy Millar, kaptein van 1912 en Boet Neser het die fluitjie hanteer.
Bennie Osler het sy beroemde loopbaan in die reeks begin en in die eerste toets 'n skepskop oorgesit. Hulle beweer dat Bennie selde of ooit met die bal betrap was. Hier is wat Dr. Danie Craven oor Bennie geskryf het in die boek "The Bennie Osler Story", "There has been no greater rugby name or genius than Bennie Osler. He was feared by all his opponents and respected by teammates and opponents alike.
For ten years Bennie dominated rugby in South Africa and during his time his name became more than just a household word. It became one which put him in a class above ordinary mortals"
Osler was die eerste Springbok om meer as 10 punte in 'n toets wedstryd te behaal. Dit was teen die All Blacks in 1928 toe hy 14 van die 17 punte aangeteken het in die eerste toets.
Die naam Oubaas Markotter sal nog baie gehoor word. Alhoewel hy self nooit vir die Springbokke gespeel het nie, was hy grotendeels daarvoor verantwoordelik dat soveel spelers onder sy afrigter's hande wel Springbok geword het. Die oubaas het die vermoë gehad om potensiaal raak te sien en te ontwikkel in die beste spelers. Hier is hy saam met sy kaptein van 1924, Pierre Albertyn, in wie hy geglo het, alhoewel Albertyn in Londen by 'n hospitaal gaan werk het. Oubaas Mark het hom aangesê om terug te kom Suid Afrika toe en die Springbokke te lei teen die Britte.
Die twee kapteins van die 1924 Britse toerspan se besoek aan Suid Afrika. Lings is die Springbok kaptein P.K. Albertyn en regs is die Britse toerspan kaptein, Ronald Cove-Smith.
Die Britte kon net 9 van die 21 wedstryde op toer wen en het net een toets uit vier gewen. Die toer het twee maande en dertien dae geduur.
(26) Eerste Toets, Saterdag 16 Augustus 1924, Kingsmead, Durban
Suid Afrika 7, BritseEilande 3
Alhoewel die Britse span van Cove-Smith gebuk gegaan het onder beserings, was hulle nogtans bietjie ongelukkig om die eerste toets te verloor. Dit was nie 'n goeie wedstryd nie alhoewel daar 'n paar goeie oomblikke was. Suid Afrika het aangeval van die begin af en toe Bennie Osler, wat in sy eerste toets gespeel het, 'n hoë skop gee, was dit net 'n briljante merk onder geweldige druk wat gekeer het dat daar punte kom. Cove-Smith het die bal toe uitgeskop. Die eerste skepskop poging het einaardig genoeg nie van Bennie Osler gekom nie, maar van 'n voorspeler, Theuns Kruger wie se skop net wyd was.
Dit was nie lank daarna dat Osler die bal van 'n lynstaan gekry het en toe sy eerste punte in Internasionale wedstryde behaal het met 'n skepskop (4-0). Die Britte het die Springbokke bly laat omdraai met goeie buitelyn skoppe. Hierna het Myburgh na Aucamp op die regter vleuel laat loop. Aucamp het toe binnetoe gesny en heelwat opponente geklop en toe na Albertyn laat loop wat vir Clarkson gegee het. Die senter het mooi gebreek en toe vir Aucamp oorgestuur vir 'n goeie drie (7-0).
In die tweede helfte moes die Springbokke teen die wind speel en met die son in hulle oë en dit was baie moeiliker as in die eerste helfte. Die Springbokke het eerste aangeval met Starke, Clarkson en Albertyn wat vêr veld gewen het, maar toe die beweging gestop word, was dit Payne van Britanje wat weggebars het op sy eie en sy lopie het tot diep in die Springbokke se gebied gevorder. Hierna was dit die Britte wat kwaai aangeval het en na 'n losskrum was die bal in die hande van Whitley wat mooi gebreek het en toe vir Blakiston oor gestuur het vir 'n drie wat nie verdoel kon word nie (7-3). Die toets het nie veel verder opgelewer nie behalwe dat die Brite beter daaraan toe was tot aan die einde van die wedstryd.
(27) Tweede Toets, Saterdag 23 Augustus 1924, Wanderers, Johannesburg
Suid Afrika 17, Britse Eilande 0
Vir die tweede toets in Johannesburg wat die toetskoors baie hoog, en na 15 000 toeskouers kaartjies gekoop het is die hekke gesluit, maar duisende mense was nog buite en hulle het eenvoudig die versperrings gebreek en ingestroom. Daar was geskat dat daar later 25 000 mense was wat by tye tot op die veld beweeg het wat die taak vir beamptes en polisie baie bemoeilik het. Die toeskouers se moeite om die toets te sien was nie verniet nie, want lekker aanskoulike rugby was gesien. In die eerste helfte het die wedstryd heen-en-weer geswaai met dan een span op die aanval, dan die ander span sonder dat punte aangeteken was. Net voor rustyd het Bennie Osler met 'n strafskop geslaag (3-0) en kaptein Albertyn het net-net met 'n skepskop misluk.
In die tweede helfte was dit 'n ander storie en ook 'n ander Springbokspan. Die voorspelers het algaande beter begin speel en Albertyn wat in die eerste helfte nie goed gespeel het nie, het skielik sy vorm herwin en puik spel gelewer. Na veertien minute het die Springbokke se agterlyn mooi hanteer en die bal was in Starke se hande wat deur was vir sy drie en wat die skare op hul voete gehad het (6-0).
Nie lank hierna nie was dit Phil Mostert, wat sy voorspelers goed gelei het, wat die bal van 'n lynstaan in die Britte se "25" gekry het en deurgebars het terwyl hy omtrent vyf opponente afgestamp het vir sy drie, na 'n lopie van 20 treë. Bosman het die doelskop oorgeskop en dit was 11-0. Hierna was dit weer Britanje se beurt om die Springbokke in hulle kwart gebied vas te pen, maar Pally Truter het van 'n skrum af gebreek en vir Van Druten gegee wat gaan druk het vir Suid Afrika. Die drie kon nie verdoel word nie (14-0).
Toe was die weer die Springbokke wat dwarsdeur gebreek het maar 'n seker drie het velore gegaan toe een speler te lank aan die bal vasgehou het in plaas van na Aucamp op die vleuel te laat loop met 'n oop doellyn voor hom.
Net voor die einde van die wedstryd het die Britte probeer om met hulle agterlyn aan te val, maar toe die heelagter Drysdale in die lyn inkom, was 'n swak aangee na hom opgepik deur kaptein Albertyn wat oopgelê het doellyn toe en vir Howie gesystap het vir sy drie te midde van groot opgewondenheid van die skare. Die doelskop was egter mis en kort hierna is kaptein P.K. Albertyn skouerhoog van die veld afgedra deur die jubelende toeskouers. Die eindtelling van 17-0 was 'n aanduiding van hoe goed die Springbokke in beheer was.
(28) Derde Toets, Saterdag 13 September 1924, Crusader Veld, Port Elizabeth
Suid Afrika 3, Britse Eilande 3
Vir die derde toets in Port Elizabeth het mense van heinde en verre gekom. Vier ondersteuners het van so vêr as Kenhard in die noord-Kaap gekom en wel met 'n Ford motorkar. Met die son en wind van agter was dit Bennie Osler wat die spel in die eerste ruk na die begin, beheer het met sy skoppe. Dit was egter duidelik dat dit 'n ander Britse span was as die van die vorige toets, want met die geringste kans het hulle aangeval. Hulle aanvalle het meestal van die agterspelers gekom en Rowe Harding was net betyds uitgestamp na 'n volle agterlyn beweging. Dit was egter Theuns Kruger wat 'n stormloop van die Springbok voorspelers gelei het wat spel verplaas het tot in die Britte se gebied. Bennie Osler het die Britte ook gereeld met sy skoppe terug gedryf.
Toe was dit weer die Britte wat aangeval het en toe Kinnear mooi breek tot naby die doellyn, moes die Springbokke kwaai walgooi dat hulle nie kon deurkom nie. Van 'n vyf-treë skrum af was dit Cunningham wat die bal gekry het en oor is vir 'n welverdiende drie (3-0). Hierna het spel gewissel maar Suid Afrika het sterk aangeval en van 'n lynstaan naby die Britte se doellyn, het Van Druten die bal gekry en sy pad oopgebeur vir 'n drie wat nie verdoel kon word nie, waarna die rustyd fluitjie geblaas het.
Nou was dit weer Britanje se beurt in die tweede helfte, met die wind van agter om aan te val. Eers het Slater vir Harris gestop en toe weer Osler wat vir Griffiths gekeer het toe hy gevaarlik gelyk het. Devine het goed verdedig en toe het Albertyn 'n seker drie verhoed toe hy 'n senter met bal en al grond toe gebring het terwyl daar 'n man oor was in die agterlyn. Van Druten het toe die druk verlig toe hy vorentoe gedribbel het en Albertyn die kans gegee het om vêr veldop te skop tot diep binne die Britte se gebied.
Die Springbokke moes toe weer verdedig en Osler was tydelik uit aksie nadat hy vir Harris geduik het en 'n stamp gekry het. Hierna kon Britanje voor geloop het maar Drysdale het 'n maklike strafskop verbrou. Die Springbokke het toe meer begin om hulle agterlyn te gebruik en spel het toe verander. Eers het Albertyn vorentoe geskop en Starke het om sy man gekom maar was toe geduik deur Drysdale. Net voor die einde van die toets wedstryd was dit eers Mellish en toe Van der Plank wat deur gedribbel het totdat die eindfluitjie geblaas het vir 'n gelykop uitslag van 3-3.
(29) Vierde Toets, Saterdag 20 September 1924, Nuweland, Kaapstad
Suid Afrika 16, Britse Eilande 9
Wanneer Suid Afrika en die Britse Eilande teen mekaar speel, word daar gewoonlik goeie rugby gespeel. Mense was skepties of die laaste toets dieselfde hoë standaard as die ander drie toetse kon oplewer, maar hulle was verkeerd. Die laaste toets het gehalte spel opgelewer wat selde of ooit gesien was.
Die Britte het die eerste drie skrums gewen en was dadelik op die aanval. Maar dit was Jack Slater wat met 'n uitstekende lopie almal geklop het en die beweging het drie treë van die Brite se doellyn ge-eindig. Hierna het Starke en Bester byna punte aangeteken en toe was Osler net wyd met 'n skepskop. Toe was dit die Britse voorspelers wat met 'n dribbel beweging gevorder het tot voor die Springbokke se doelpale. Van die posisie af het hulle amper punte aangeteken. Bennie Osler het die druk verlig met 'n goeie skop. Toe was dit kaptein Albertyn wat sy eie skop opgevolg het en toe drie opponente die een na die ander grond toe gebring het tot naby britanje se doellyn.
Van 'n skrum af het Suid Afrika die bal gekry en in 'n mooi agterlyn beweging het Starke die bal gekry en sy opponent geklop en toe hy vasgevat word, het hy binnetoe aangegee na Bester wat gaan druk het (3-0). Omtrent vyf minute daarna het Starke een van die mooiste skepskoppe wat nog op Nuweland gesien was, deur die pale gestuur. Die bal het na hom gekom en toe hy sien hy word voorgekeer, het hy vasgesteek en met sy linkervoet 'n 50 treë skepskop van naby die kantlyn oorgesit (7-0). Net daarna was dit Voice van Britanje was geslaag het met 'n strafskop van 45 treë om dit 7-3 te maak.
In die tweede helfte was die spel nog meer opwindend as in die eerste helfte. Van die afskop af was dit La Grange wat vinnig opgevolg het en vir Davies met bal-en-al betrap het. Die bal het vinnig na Bennie Osler gekom wat 'n kort skoppie gegee het. Kenny Starke was agter die bal aan op vol spoed, gestruikel maar toe die bal in die hande gekry en nog verdedigers geklop en 'n baie mooi drie gaan druk (10-3). Hierna was dit Britanje wat met 'n voorspeler dribbel beweging gekom het en Theuns Kruger was sodanig beseer dat hy van die veld afgedra was. Die Springbokke met een voorspeler kort, was toe onder druk en die Britte het die meeste aanvalswerk gedoen.
Eers het Rowe Harding en toe Harris gevaarlik gelyk en toe skop Waddell teen Bennie Osler vas toe hy wou skepskop. Daar is toe 'n skrum gevorm in die hoek en die Britte se agterlyn het mooi gehardloop waarin Harris toe weer die bal gekry het en met 'n fop-aangee wat die Springbokke geflous het, deurgehardloop vir 'n goeie drie (10-6). Die Springbokke se hernude aanval's poging het vrugte afgewerp toe Slater mooi gehardloop het en Albertyn daarna geduik was, maar die losbal was deur La Grange opgepik wat die agterlyn gevoer het. Die bal was uitgestuur na Starke wat toe sy tweede drie van die toets gaan druk het (13-6).
Doodvatte van Albertyn en Osler het die Britte onder druk gebring en toe Drysdale in besit betrap is, het dit goed gelyk vir die Springbokke, maar Voice het die bal in die hande gekry en vanuit sy eie kwart gebied geskop. Die springende bal kon nie deur die Springbokke onder beheer gebring word nie, en Voice wat sy eie skop opgevolg het, het die bal in die hande gekry en dwarsdeur gehardloop vir 'n baie goeie drie (13-9). Met net 'n paar minute se speeltyd oor was dit Suid Afrika wat terug geslaan het. Van 'n skrum wat Suid Afrika gewen het is die bal met die agterlyn langs van Truter na Osler na Starke en toe weer na Albertyn en Bester wat toe vir Slater gegee het om oor te duik vir 'n perfekte einde vir die Springbokke (16-9).
留言