Updated: Apr 16, 2021
Die 1951-52 Springbok toer na die Britse Eilande en Frankryk was 'n reuse sukses en van die 31 wedstryde was net een verloor en die Springbokke het skoonskip gemaak in al vyf internasionale wedstryde teen die tuis unies en Frankryk. Daar was heelwat van die 1949 Springbokke in die span en dus was daar genoeg ervaring om die jonger manne deur te dra, anders as in 1949.

Stephen en Dennis Fry was die 37ste paar broers wat vir Suid Afrika gespeel het. Dit was die eerste keer dat die Springbokke teen die Barbarians gespeel het. Net soos in 1912 het die Springbokke weer teen London Counties verloor. Vir die vyf internasionale wedstryde (toetse) was net 17 spelers gebruik, die minste ooit. Die Springbokke het 'n rekord opgestel wat lank gestaan het toe hulle vir Skotland met 44-0 geklop het. Losskakel Hannes Brewis het 'n rekord opgestel deur in vier agtereenvolgende toetse 'n skepskop oor te sit, naamlik teen die All Blacks (1949), Skotland, Ierland en Wallis op die toer. Toerkaptein Basil Kenyon het vroeg op toer, in die derde wedstryd teen Pontypool en Newbridge 'n ernstige oogbesering opgedoen en nog twee wedstyde gespeel voordat hy besef het daar is groot fout. Die spesialis het dadelik 'n operasie beveel en dit was die einde van sy toer. Hennie Muller het toe die kapteinskap oorgeneem.

AGTER: Basie van Wyk, Jan Pickard, Ernst Dinkelman, Salty du Rand, Willem Barnard, Ben Myburgh, Gert Danhauser, Franz van der Ryst, Stephen Fry. STAANDE: Johnny Buchler, Jaap Bekker, Basie Viviers, Aaron "Okey" Geffin, Piet Wessels, Cowboy Saunders, Willem Delport, Chris Koch, Buks Marais. SITTENDE: Jakkals Keevy, Hannes Brewis, Fonnie du Toit, Basil Kenyon (Kaptein), Frank Mellish (Bestuurder), Hennie Muller (Onder-Kaptein), Danie Craven (Afrigter), Ryk van Schoor, Chum Ochse. VOOR: Des Sinclair, Hansie Oelofse, Paul Johnstone, Dennis Fry, Tjol Lategan.

Die Springbok toerspan van 1951 het op 14 September 1951 met hierdie skip, die "Pretoria Castle" na Engeland vertrek.




(55) Britanje, Saterdag 24 November 1951
Murrayfield, Edinburgh - Eerste Toets
Suid Afrika 44, Skotland 0
Toeskouers (65 000)




EERSTE HELFTE:

In een van die opwindendste internasionale rugby wedstryde nog, het Suid Afrika vir Skotland 'n behoorlike loesing gegee wat vir baie jare as 'n rekord oorwinning gestaan het. Die "Murrayfield Massacre" het begin toe Hannes Brewis nie soos gewoonlik na sy voorspelers afgeskop het nie, maar na die ander kant waar Buks Marais die bal gekry het en eers op die hoekvlag uitgeduik was. Die Skotte het toe terug geslaan en die hele lengte van die veld beweegen vorentoe gedribbel waar Buchler en Johnstone net betyds kom red het. Die Springbokke het toe twee lynstane na mekaar gewen en van Stephen Fry is die bal na Du Rand en toe na Marais. Die bal is terug veld in weer na Fry wat toe vir Salty du Rand oorgestuur het vir die Springbokke se eerste drie (3-0).

Van die afskop het die Springbokke met hand-tot-hand bewegings tot naby die Skotte se doellyn gevorder waar 'n skrum beveel is. Van die skrum af het Ryk van Schoor uit 'n agterlyn beweging gekry en deurgesny vir sy drie wat Geffin vervyf het (8-0). Die Springbok agterlyn het weer beweeg en Tjol Lategan het vorentoe geskop en uit die bloute was Chris Koch, voorryman by om te druk nadat hy vorentoe gedribbel het. Geffin het vervyf om dit 13-0 te maak. Kort voor rustyd het Hannes Brewis met sy linkervoet 'n skepskop oorgesit om die telling 16-0 te maak en kort voor rustyd het die voorspelers weer gestormloop tot in die "25" van Skotland. Van die skrum af het Brewis ingesny en na Du Rand laat loop wat weer vir Koch gegee het en hy het feitlik oor die doellyn geloop vir sy drie. Rustyd was dit 19-0 vir Suid Afrika.

Kort na die begin van die tweede helfte was die Springbok voorspelers weer besig met 'n stormloop toe haker Willem Delport die bal gekry het en twee verdedigers geklop het en ongesteurd oorgegaan het vir sy drie wat Geffin vervyf het (24-0). Toe was dit Geffin wat deurgebreek het en na Stephen Fry laat loop het en hy het vir Basie van Wyk gegee naby die doellyn. Van Wyk het 'n paar manne geklop en ook sy drie gaan druk en weer het Geffin oorgeskop (29-0).
Toe was dit Salty du Rand wat die bal gekry het en hoog geskop het en Van Wyk was weer daar om vorentoe te skop maar Hennie Muller het van nêrens af gekom om tussen die pale oor te gaan vir sy drie en vir die soveelste keer het Geffin die twee punte bygevoeg (34-0). Twee minute later het Scott 'n bal laat val wat Lategan opgeraap het en in 'n solo-lopie van 50 treë het hy onder die pale gaan druk en weer was Geffin in die kol met sy vervyfskop (39-0). Suid Afrika het bly aanval en Johnstone, lategan en Dinkelmann het spel tot oor die doellyn gevat met aangeë tussen mekaar tot Dinkelmann in die hoek oor was vir die laaste drie. Okey Geffin het uitstekend vanuit die hoek oorgeskop om die eindtelling 44-0 te maak.
NABETRAGTING:

Dertien was gelukkig: Dit was die dertiende wedstryd van die toer. Dit was dertien jaar gelede wat Suid Afrika in 'n toets gespeel het. Dit was die dertiende toets wat Suid Afrika in die Britse Eilande gespeel het.
Goed vir Skotland: Dit is was die busbestuurder vir R.K. Stent, die skrywer van die boek, "The Fourth Springboks 1951-52" gesê het oppad terug van Murrayfield. Dit was met verwysing dat te veel klubs te veel "ou studente" het.
Edinburgh Kasteel se bydrae: Die kasteel was helder belig die Saterdag aand en dit was om die Springbokke se besoek op te helder maar dit het gelyk of dit ook sommer die oorwinning opgehelder het vir die Springbokke.
FOTOS:
HOOGTEPUNTE OP VIDEO:
(56) Britanje, Saterdag 8 Desember 1951
Landsdowne Road, Dublin - Tweede Toets
Suid Afrika 17, Ierland 5
Toeskouers (47 000)




Die drie Ierse spelers het ook die Britse Leeus in 1950 verteenwoordig op toer in Nieu Seeland.
EERSTE HELFTE:

Na net sewe minute is Ryk van Schoor beseer en van die veld afgedra en moes Suid Afrika met 14 man tot na halftyd teen die Iere speel (sien video lings). Suid Afrika het in die eerste helfte teen 'n sterk wind gespeel waarvan die Iere deeglik gebruik gemaak het.
Die Iere het ingeklim in die begin en bly aanval en Johnny Buchler en Hannes Brewis moes kort-kort red met buitelyn skoppe. Met Stephen Fry uit die pak om te dek vir die verlies van Van Schoor, was dit 'n opdraend stryd voorlangs en veral agter in die lynstane. Een man wat uitgestaan het in die tydperk was Basie van Wyk wat dan ook twee drieë in die toets gedruk het en wat oral by was. Die Ierse losskakel, Jacky Kyle het besef daar was nie gapings nie en toe die steelkant om beweeg en dwars geskop. Toe die Springbokke mistas, het die Iere die bal vinnig gekry uit die losskrum en van Kyle is die bal vinnig na die jong senter, Browne wat die Springbokke op die verkeerde voet betrap het en deurgesny het vir 'n drie onder die pale. Murphy die heelagter het vervyf en dit was 5-0.
Alhoewel die Springbokke beter begin speel het, was die nodige afronding net nie daar nie. Vanaf 'n skrum naby die Iere se doelgebied was die bal terug gegooi na die heelagter wat teen Basie van Wyk vasgeskop het en Basie het bemeester en voor die doodlyn op die bal geval vir sy drie wat nie vervyf was nie (5-3). Kort hierna het rustyd aangebreek sonder enige verdere punte.
TWEEDE HELFTE:

Sewe minute na rustyd het Ryk van Schoor weer opgekom en dadelik was daar 'n merkbare verbetering in die Springbokke se spel. Eers het Brewis vir Murphy, die heelagter met hoë skoppe gepeper maar hy het dit goed hanteer. Daarna het Brewis die hoeke opgesoek met sy skopskoen en dit afgewissel met agterlyn bewegings.
Vanaf 'n skrum op die Iere se "25", was dit Hennie Muller wat weggebreek het en Brewis wat gemaak het of hy na hom gaan laat loop. Hy het egter omgeswaai en steelkant om gekom en vir McKee getrek voor hy na Chum Ochse laat loop het wat oopgelê het doellyn toe en in die hoekie gaan druk het. Geffin kon nie oorskop nie en die Bokke het die voortou gevat met 6-5. Dertien minute voor die einde het Brewis die bal vanaf 'n lynstaan gekry wat Salty du Rand gewen het, en met sy derde probeerslag met 'n skepskop geslaag (9-5). Die Iere het alles probeer om punte aan te teken en Murphy se strafskop was teen die regop paal vas.
Twee drieë in die laaste vyf minute het egter die lot verseël vir die Iere. Toe Hannes Brewis 'n binnegaping vat was Basie van Wyk byderhand om sy tweede drie van die middag te gaan druk wat Geffin weer nie kon vervyf nie (12-5). Kort voor die einde het een van die mooiste drieë gekom en dit deur die man wat met harsingskudding die veld moes verlaat, naamlik Ryk van Schoor. Die voorspelers met Muller, Van Wyk en Koch het eers weggebreek maar toe die verdediging bykom was Du Toit by om vir Brewis te gee en hy het na Van Schoor laat loop. Hy het omtrent vyf opponente in die lug laat gryp vir sy mmoi drie naby die pale waarvan hy agterna nie kon onthou nie en ook in die hospitaal opgeneem was na die toets. Geffin het die een vervyf, sy enigste wat hy kon oorskop die dag alhoewel hy 'n paar maal net gemis het van moeilike hoeke (17-5).
(57) Britanje, Saterdag 22 Desember 1951
Arms Park, Cardiff - Derde Toets
Suid Afrika 6, Wallis 3
Toeskouers (53 000)



EERSTE HELFTE:
Wallis het 'n baie sterk span gekies vir die toets teen die Springbokke en veral hulle agterlyn was die beste wat nog op toer gevind is. Maar om een of ander rede is die agterlyn skaars gebruik en het hulle baie van steek-skoppies gebruik gemaak en male sonder tal het die veilige heelagter van die Springbokke, Johnny Buchler, hulle vêr ente terug gejaag met enorme buitelyn skoppe. Afrigter Danie Craven het vooraf gesê die span wat die minste foute maak sal wen, en dit was ook so.
Heelagter Johnny Buchler en vleuel Chum Ochse was elkeen prominent en hul bydraes kan nie gering geskat word nie. Buchler was rotsvas op heelagter en Ochse se gevaarlike lopies op vleuel en sy vasberade lopie hoekvlag toe vir sy drie was van uiterste belang. Ochse het vroeg in die wedstryd gered toe hy vir die gevaarlike Walliese vleuel Ken Jones gestuit het met 'n duikslag.
Na vyf minute was die Springbokke op die aanval en van Muller af is die bal na Van Wyk wat oorgeduik het, maar die skeidsregter kon nie mooi sien nie, en die drie is nie toegeken nie. Selfs 'n vlagman het agterna erken dat dit wel 'n drie was. Toe was eers Geffin vir Suid Afrika en toe Lewis Jones vir Wallis skeef met strafskop pogings. Spel is deur beide spanne afgewissel en dan was Wallis op die aanval en dan weer Suid Afrika. Omdat die agterlyne vlak gelê het, was daar min goeie bewegings en meer taktiese skoppe is gesien.
Net toe dit lyk of daar geen punte voor rustyd sou kom nie, was dit Hannes Brewis wat op die halflyn vir Bleddyn Williams getrek het en toe vinnig na Tjol Lategan laat loop het. Lategan was deur 'n gaping in 'n oogwink en op die "25" het hy 'n oorslaan aangee na Ochse laat loop en vir Van Schoor uitgeskakel. Ochse moes net sy ore plattrek en hol vir die hoekvlag. Hy was gejaag deur Ken Jones, die Olimpiese naelloper en die heelagter Gerwyn Williams wat altwee net te laat was en Ochse het in die hoekie oorgeduik wat Geffin nie kon vervyf nie (3-0).

Video onderhoud met Chum Ochse.
TWEEDE HELFTE:
Die tweede helfte het in die begin dieselfde speelpatroon opgelewer as met tye in die eerste helfte, waar albei spanne met tye op die aanval was. Chum Ochse is een keer naby die doellyn gestuit en Geffin het twee keer kanse om punte aan te teken, verbrou. Toe kry Lewis Jones van Wallis die bal in 'n beweging maar Paul Johnstone het hom in sy spore gestuit met 'n sterk duikslag. Van die volgende skrum het Cliff Morgan die bal gekry en om die steelkant beweeg en twee Springbokke geklop en hy was oppad doellyn toe. Met Buchler voor hom het hy probeer om die bal net oor sy kop te skop maar Buchler het met 'n vloekskoot die bal uit die lug gepluk en uitgeskop.

Net soos teen Ierland het Hannes Brewis ook eers met sy tweede probeerslag sy skepskop oorgesit, eers van 'n losskrum en daarna vanaf 'n skrum toe Fonnie du Toit hom in besit gestel het. Dit was dan ook Brewis se vierde agtereenvolgende skepskop in 'n internasionale toets wedstryd wat ook 'n rekord vir 'n Springbok was (6-0).

Net sewe minute voor die einde het Wallis alles ingesit om punte te kry en toe hulle die bal haak in die skrum, was daar 'n fopskêr beweging in die middelveld tussen die Walliese senters, Thomas en Bleddyn Williams. Williams is deur 'n gaping en met Chum Ochse op sy rug is hy oor vir sy drie wat nie vervyf kon word nie (6-3).
(58) Britanje, Saterdag 5 Januarie 1952
Twickenham, Londen - Vierde Toets
Suid Afrika 8, Engeland 3
Toeskouers (65 000)

STAANDE: Basie Viviers (vlagman), Frank Mellish (Bestuurder), Willem Delport, Stephen Fry, Ernst Dinkelmann, Salty du Rand, Basie van Wyk, Chris Koch, Paul Johnstone, Murdoch (skeidsregter), Danie Craven (afrigter). SITTENDE: Jaap Bekker, Hansie brewis, Fonnie du Toit, Hennie Muller (kaptein), Basil Kenyon, Chum Ochse, Tjol Lategan. VOOR: Johnny Buchler, Ryk van Schoor.

AGTER: J B G Whittaker (Vlagman), A E Agar, A O Lewis, J E Woodward, C E Winn, W A Holmes, L B Cannell, R V Stirling, Mr W C W Murdoch (Skeidsregter - Skotland)). SITTENDE: D F White, J R C Matthews, J M Kendall-Carpenter, N M Hall (captain), D T Wilkins, W G Hook. VOOR: G Rimmer, E Evans.




EERSTE HELFTE:
Die toets op Twickenham was gespeel op 'n swaar veld nadat baie reën aanhoudend geval het voor die wedstryd. Dit was 'n baie belangrike toets vir die Springbokke om te wen want dan sou hulle die "Grand Slam" van oorwinnings voltooi het deur al vier tuis unies van Britanje te klop. Hulle sou dan net soos hul voorgangers in 1912 en 1931 onoorwonne terugkeer. Die toets westryd teen Frankryk het nie vir die "Grand Slam" getel nie want hulle was nie deel van Britanje nie, alhoewel die Springbokke teen Frankryk ook gespeel het op toer.

Suid Afrika was ongelukkig in 'n paar beslissings wat die skeidsregter, Mnr. Murdoch moes maak. Chum Ochse het weereens die doellyn oorgesteek in wat gelyk het na 'n geldige drie, maar die skeidsregter was nie in 'n goeie posisie om dit te sien nie, dus was die drie nie toegeken nie. So het Basie van Wyk ook gaan druk maar weereens het die skeidsregter beoordeel dat dit 'n vorentoe aangee was alhoewel sommige Engelse spelers erken het dit was nie so nie. Chris Koch se poging in die hoek (sien fotos) was 'n haarbreedte te kort. Hieruit kan afgelei word dat die Springbokke heelwat verder kon gewen het.
Die Engelse voorspelers was in die skrums sowel as die lynstane deur Suid Afrika se pak geklop maar hulle het tot die einde moedig probeer. Maar net soos teen Wallis het die Springbok enjin nie na hoogste rat oorgeskakel nie. Die Springbokke het hul oorwinning beslis verdien en by tye sprankel rugby gespeel.

Hier moet Tjol Lategan uitgesonder word wat 'n doring in die vlees van die Engelse agterlyn was met sy bedrieglike lopies en versnellings deur die kleinste gaping. Hy het ook 'n seker drie gekeer toe Woodward deur geglip het en vir Agar weggestuur het hoekvlag toe. Lategan het omtrent vyf treë deur die lug getrek en die Engelsman by die hoekvlag uitgeduik.