top of page

1958 - Die Franse kom wys waar die Springbokke tekort skiet

Updated: Jan 12, 2021

Na die reeks nederlaag teen die All Blacks in 1956 het die plaaslike ondersteuners meer verwag van die Springbokspan in die twee toetse teen die Franse in 1958 wat die eerste keer besoek aan Suid Afrika gebring het. Die eerste toets in Kaapstad was gelykop met 3-3 en die tweede toets in Johannesburg is deur Frankryk met 9-5 gewen.


FEITE:


  • Dit was die eerste keer sedert 1896 dat die Springbokke 'n tuis-reeks verloor het.

  • Die Franse het geen drië gedruk in die twee internasionale toetse nie.

  • Die Franse het die grootste nederlaag van enige toerspan nog gely toe 'n gekombineerde span bestaande uit spelers van Westelike Provinsie, Boland en Suid-westelike Distrikte hulle met 38-8 geklop het.

  • Dit was die eerste keer dat kombinasies van tuis-unies teen 'n toerspan gespeel het.

  • Die eerste keer is skeidsregters van buite die tuis-unie waar die wedstryde gespeel is, gebruik.

  • Dit was ook die eerste keer dat 'n gekombineerde Universiteite span teen 'n toerspan gespeel het.

  • Chris Koch het 'n rekord opgestel vir die meeste aantal jare vir die Springbokke naamlik, 1949, 1951-52, 1953, 1955, 1956, 1958. (Hy sou ook nog teen die 1960 All Blacks speel).

  • Dit was ook die eerste keer dat 'n toerspan aan Suid Afrika al die binnelandse reise per vliegtuig gedoen het. Hulle het net met hulle besoek aan die Kruger Wildtuin per trein gereis.


The French rugby touring team to South Africa in 1958.
Franse Toerspan 1958

AGTER: Pierre Lacroix, Pierre Lacaze, Jean de Gregorio, Louis Casaux, Pierre Danos, Arnaud Marquesuzaa, Henri Rancoule, Jean-Vincent Dupuy, André Haget, Lucien Roge. STAANDE: Jean Barthe, François Moncla, Jean Carrère, Louis Echave, Bernard Mommejat, Pierre Fremaux, Robert Baulon, Alfred Roques, Raoul Barrière. SITTENDE: Jacques Lepatey, Roger Vigier, Guy Stener, Michel Vannier, Serge Saulnier (Bestuurder), Michel Celaya (Kaptein), Marcel Laurent (Onder-Bestuurder), Lucien Mias, Roger Martine, Aldo Quaglio.




 

(74) Suid Afrika, Saterdag 26 Julie 1958

Nuweland, Kaapstad - Eerste Toets

Suid Afrika 3, Frankryk 3

Toeskouers (44 000)

Skeidsregter: Dr. E.A. Strasheim (Suid Afrika)




The Springbok rugby team that played against France in Cape Town, 1958.
Springbokspan, 1ste Toets


South Africa and France teams who played the first test at Newlands, 1958.
Kyk na die trui nommers

EERSTE HELFTE:


Springbok rugby winger, Lofty Fourie is tackled by France's Rancoule at Newlands in the first test of 1958.
Fourie deur Rancoule platgetrek

Dit was die heel eerste internasionale toets wedstryd wat tussen Frankryk en Suid Afrika op tuis bodem gespeel was, maar volgens berigte ook een van die swakste wedstryde waarin 'n Springbokspan betrokke was. Die Springbokke het volgens 'n koerant berig rigtingloos en sonder planmatigheid voorgekom en was in 'n mate gelukkig om gelykop te trek.


Die Springbokke was op die aanval van die begin af maar het 'n paar maklike strafskoppe teen die wind verbrou. Die Springbokke het 'n stywe greep gehou en dit het gelyk of die Franse senuweeagtig voorgekom het in daardie stadium. Die Franse het hanteer foute gemaak en van een fout het Loftie Fourie, die eerste Springbok rugby speler wat die destydse Suidwes Afrika opgelewer het, deurgedribbel, maar hy het gestruikel en Danos kon red.


French rugby scrumhalf in 1958, Pierre Danos.
Pierre Danos

Hierna moes die Springbokke verdedig en toe Lacaze in die agterlyn inkom en vir Jean Dupuy wegstuur as 'n man oor het hy tot in die Springbokke se "25" gevorder. Vanaf die daaropvolgende lynstaan het skrumskakel Pierre Danos die bal uit 'n losgemaal gekry en naby die kantlyn vasgetrap en 'n goeie skepskop oorgesit om die Franse teen rustyd met 3-0 te laat voorloop. Reg deur die eerste helfte het die Springbok losskakel Ian Kirkpatrick deurentyd kantlyn toe geskop en die vleuels het nooit die bal gesien nie. Een Springbok wat uitgestaan het onder die agterspelers was nuweling heelagter, Mickey Gerber wat geen voet verkeerd gesit het nie en teen die wind al sy balle mooi raakgevat het en met rente teruggestuur het.


TWEEDE HELFTE:

French and Springbok rugby players look at where the ball goes at Newlands in Cape Town, 1958.
Waar is die bal?

Met die wind van agter en na twee agterlyn bewegings het dit gelyk of die Springbokke die tweede helfte gaan oorheers maar dit het nooit gebeur nie. Die Franse moes toe wegkom van hulle eie doellyn en toe hulle die vasskop bal vanaf 'n skrum op die halflyn kry, is die bal met die agterlyn langs tot by Rancoule en sy dwarsskop het vir Gerber in die moeilikheid gehad wat haastig moes skop en sy lynskop wat nie uit was nie, is deur Dupuy gevat wat mooi gehardloop het voor hy vir Barthe gegee het wat hoog geskop het en deur Moncla in die hande gekry is en amper was daar 'n drie.


Springbok rugby player Butch Lochner scores a try at Cape Town against France  in 1958.
Butch Lochner se drie

Hierna was dit Danos wat steelkant om beweeg het en vir Martine gegee het wat binnetoe gesny het en toe vorentoe geskop het sonder enige gevaar. Binne die Franse se helfte was dit Kirkpatrick en Rosenberg wat vir Jeremy Nel deur 'n gaping gesit het en plaas van om self aan te val naby die doellyn het hy uitgegee na Fourie op die vleuel wat te vêr van hom was en vyf punte het verlore gegaan. Vanaf 'n skrum was dit Nel wat skuins geskop het vir Prinsloo wat raakgevat het en na Rosenberg laat loop het. Hy het vir Pelser gegee wat na Butch Lochner laat loop het wat die verdediging omseil het en oorgeduik het vir die Springbokke se enigste punte. Die drie kon nie vervyf word nie en na dit was dit die Franse wat sterker ge-eindig het met die Springbokke wat moeg voorgekom het. Die eerste toets ooit op eie bodem teen die Franse het teleurstellend vir die Springbokke gelykop ge-eindig met 3-3.


FOTOBEELD VAN DIE EERSTE TOETS:


 

(75) Suid Afrika, Saterdag 16 Augustus 1958

Ellispark, Johannesburg - Tweede Toets

Suid Afrika 5, Frankryk 9

Toeskouers (50 000)

Skeidsregter: C.J. Ackermann (Suid Afrika)



The Springbok rugby team for the second test against France, 1958.
Springbokspan, 2de Toets

The French rugby team against the Springboks in the second test of 1958.
Franse, 2de Toets
Ellispark rugby stadium filled with 50 000 spectators in 1958.
50 000 Mense op Ellispark

EERSTE HELFTE:


Die Springbokke het van die begin af probeer om hardloop rugby te speel en van 'n lynstaan af is die bal agterlyn langs tot by Lofty Fourie op linker vleuel. Hy het na Skene aan sy buitekant gegee wat op sy beurt binnetoe na Claassen laat loop het maar hy is grond toe gebring. Hierna was dit eers Suid Afrika en toe Frankryk wat met lang strafskoppe misluk het. Frankryk met Lucien Mias, die kaptein, aan die spits het goeie balle veral in die lynstane gewen en hulle vinnige en gevaarlike agterspelers in besit gestel.


Vanaf 'n lynstaan het Pierre Danos, Franse skrumskakel die bal gekry en gebreek, vorentoe geskop en weer die bal gekry maar is gestuit naby die doellyn. By die volgende skrum is die Springbokke gestraf en Lacaze se strafskop was oor (0-3). Aangespoor deur die punte was dit eers Danos en toe Mommejat wat deurgebreek het maar Mickey Gerber het die situasie gered.


Toe was dit die Springbokke wat punte aangeteken het toe Jeremy Nel vanaf die losskakel posisie gebreek het en na Skene laat loop het. Skene het vir Lofty Fourie op vleuel die bal gegee wat mooi gehardloop het en vir Lacaze op heelagter geklop het en 'n mooi drie gaan druk het. Gerber het die vervyfskop oorgesit en dit was 5-3 vir die Springbokke.


Vanaf 'n vinnige skoppie na 'n strafskop het Barthe die bal gekry en feitlik deur die hele Springbokspan gehardloop en is eers naby die doellyn gestuit. Kort hiena het Fourie weer besit gekry en mooi gevorder maar hy is deur Marquesuzaa en Stener gekeer. Dit was dan ook halftyd met die telling op 5-3 vir die Springbokke.


Die Franse hane was vasbeslote en gedetermineerd om die toets te wen soos uitgebeeld word in die foto hieronder waar twee Franse spelers vir Abie Malan sommer uitvat.

Springbok rugby player Abie Malan is lifted from the ground during the second international in Johannesburg, 1958.
Vasbeslote Franse tel Malan op

TWEEDE HELFTE:


Na rustyd het dit gelyk of die Springbokke gaan wen soos wat hulle aangeval het en by twee geleenthede moes hulle punte gekry het. Eers het Jan Prinsloo die regter vleuel van die Springbokke te lank aan die bal houvas en die beweging is gefnuik. Daarna was hy so te sê los deur maar sy spoed het hom gekortwiek toe hy ingehaal is deur die Fransman Barthe wat hom van balaans af gebring het en alhoewel Prinsloo oor die doellyn geskuif het, het hy die bal verloor.


Hierna was dit Jeremy Nel wat amper deur was maar hy is oor die kantlyn gestamp deur Marquesuzaa en weer eens kon die Springbokke nie punte kry nie. Dit het dan ook gelyk of die gebeure aanleiding gegee het dat die Springbokke moed verloor het en vir die laaste twintig minute was dit net die Franse.


Eers het die bal vinnig uitgekom van 'n lynstaan wat die Franse gewen het. Die heelagter Lacaze het ontvang en 'n baie goeie skepskop oorgeklits (5-6). Nie lank hierna nie of dit was weer sulke tyd toe Martine die bal gekry het na 'n taktiese beweging en ook hy het sy skepskop oorgesit om dit 9-5 in die guns van Frankryk te maak. Die Springbokke het nog een laaste wanhopige poging aangewend om punte te kry maar daar was nie angel in die aanval nie en hulle moes toesien hoe hulle kanse en die reeks van hulle af wegglip. Op die eerste toer van Frankryk na Suid Afrika het hulle geskiedenis gemaak om die reeks van twee toetse te wen en ook die eerste reeks wat die Springbokke op tuis bodem verloor sedert 1896.





 

Recent Posts

See All
bottom of page