top of page

1955 - Groot opgewondenheid vir Robin Thompson se Britse Leeus in Suid Afrika

Updated: Nov 22, 2020

1955 se Britse Leeus van Robin Thompson was ongetwyfeld die mees gewildse Britse Eilande span wat Suid Afrika nog besoek het tot in daardie stadium. Dit was ook die eerste keer dat die Britte kom toer het as Britse Leeus nadat dit in 1950 amptelik die naam "Britse Leeus" aangeneem het en in rooi truie en wit kraag met die wapen van al vier Britse tuis-unies op die linker bors begin speel het.


Die span was gelaai met briljante sterre soos Cliff Morgan, Jeff Butterfield, Phil Davies, Bryn Meredith, Tony O'Reily en Jim Greenwood. Hulle was 'n vriendelike klomp wat orals waar hulle getoer het die harte van Suid Afrikaners gesteel het. Daar is deurgans skitterende rugby gesien deur die Leeus sowel as deur die Springbokke. Die toets reeks wat met 2-2 gedeel was is 'n bewys van hoe kompeterend die spel was aan beide kante.


Memorabilia of the British Lions tour of South Africa in 1955.
Aandenkings

The British Lions rugby touring team to South Africa in 1955.
Die Britse Leeus van 1955

FEITE:


  • Stephen Fry en Basie van Wyk het in hul tiende toets saamgespeel as flank-paar gedurende die eerste toets.

  • Die getal toeskouers vir die eerste toets op Ellispark was amptelik 90 000 maar daar is geskat dat dit nader aan 100 000 mense was, wat ook 'n wêreld rekord op daardie stadium was.

  • Die 45 punte wat gesamentlik in die eerste toets opgestel is, was ook 'n rekord. So ook was die Springbokke se gesamentlike punte in die vier toetse van 75 punte 'n rekord.

  • Springbok vleuel, Tom van Vollenhoven se drie drieë in die tweede toets het ook die van Jan Stegman en Boet McHardy geëwenaar, alhoewel syne die eerste tuis driekuns was.

  • Springbok skrumskakel van die reeks, Tommy Gentles, was die kleinste Springbok nog op 5' 3".

  • Die Junior Springbokke het twee toere binnelands onderneem en ook teen die Leeus gespeel. Heelwat lede het Springbokke geword in 1955 en 1956.


The official team photo of the touring British Lions in South Africa in 1955.
Die amptelike spanfoto van die Leeus



Ellispark with 90 000 spectators during the first test of 1955.
Ellispark met 90 000+ mense

(64) Suid Afrika, Saterdag 6 Augustus 1955

Ellispark, Johannesburg - Eerste Toets

Suid Afrika 22, Britse Leeus 23

Toeskouers (90 000)

Skeidsregter: Ralph Burmeister


Dit was die eerste keer dat die Britse Eilande span in Suid Afrika getoer het as "Britse Leeus" en dat hulle die nou bekende rooi trui met die wapen van die vier tuis-unies op gedra het.


The Springbok rugby team for the 1st test against the British Lions in 1955.
Springbokspan, 1ste toets, Ellispark


DIE OPWINDENDSTE, SPANNENDSTE EN SENUTERGENDSTE TOETS WAT NOG GESPEEL IS, WORD GEWEN DEUR DIE BRITSE LEEUS MET EEN PUNT



Match programme of the first test between South Africa and the British Lions in 1955.
Program

EERSTE HELFTE:


Daar het net 'n paar Springbokke oorgebly van die 1951-52 en 1953 reekse wat gekies was teen die Leeus vir die eerste toets. Veterane Chris Koch, Basie van Wyk, Salty du Rand en kaptein Stephen Fry het weer gespeel. Hulle was dan ook die kern van die voorspelers, maar die hele agterlyn was nuwelinge.


Die spanne het op die veld gestap onder begeleiding van 'n doedelsak wat gespeel was deur een van die Skotte van die Leeus Ernie Michie, wat nie in die toetsspan was nie. Die toetskoors het oorgeloop en tussen 90 000 en 100 000 toeskouers het die paweljoene volgesit, party op tydelike stellasies wat opgerig was en ander het tot teen die speelveld gesit.


Robin Thompson leads the British Lions alongside a bag-and-pipe player at Ellispark, 1955.
Thompson lei met 'n doedelsak

Mnr. Ralph Burmeister, die skeidsregter het sy fluitjie geblaas en in lekker sonskyn het die wedstryd van alle wedstryde begin. Die toets was agterna beskryf as die mees dramatiese, opwindendste en spannendste wedstryd wat daar nog in rugby op die internasionale arena gesien was.


Die Britse Leeus het eerste punte aangeteken nadat die Springbokke op die aanval was en veld verloor het. Die bal is vinnig van 'n lynstaan van Jeeps af na Morgan en toe na Davies. As gevolg van een van die Springbok senters wat te vroeg, te vinnig opgekom het op die verdediging, het daar 'n gaping ontstaan . Davies het vinnig na sy sentermaat Butterfield laat loop wat al half in die gaping was en alhoewel die bal effens agter hom aangegee was, het hy dit in sy spoed beheer en met Van der Schyff voor hom, op die regte oomblik na sy vleuel Pedlow laat loop wat in die hoek oor is vir die eerste drie (0-3).


Springbok winger, Theuns Briers is over for his first try against the British Lions in the first test of 1955.
Briers druk sy eerste drie

Springbok heelagter, Jack van der Schyff het hierna 'n strafskop van 45 treë gemaklik deur die pale gestuur (3-3). Toe het Van der Schyff en Ulyate die Britte weer terug gedryf met lang skoppe en in hulle eie gebied is die Leeus gestraf. Weer het Van der Schyff nie fout gemaak met die strafskop nie (6-3). Toe volg 'n drie wat vooraf beplan was vir die Springbokke. Vanaf 'n skrum wat die Springbokke effens geswaai het het Gentles gebreek en na Fry laat loop wat met spoed vanaf die ander kant van die skrum gekom het en toe hy voorgekeer word, het hy vir Theuns Briers gegee wat sy eerste van twee drieë gaan druk het wat deur Van der Schyff vervyf is (11-3). Daar was 'n geweldige gejuig onder die groot skare en 'n gevoel dat die toets gewen kan word was in die lug. Net toe dit lyk of die Springbokke die Leeus se baas was, toe kry hulle (die Leeus) weer punte half teen die verloop van die spel. Vanaf 'n skrum naby die middellyn was dit Cliff Morgan wat gebreek het en toe laat loop het na Davies en hy na Butterfield. Die Springbok verdediging het oorgeskuif na O'Reily maar Butterfield het binne toe gebreek en is verby Gentles om sy sterk lopie van veertig treë onder die pale af te rond. Cameron se vervyfskop was oor en rustyd het aangebreek met die telling 11-8.


TWEEDE HELFTE


Die volgende tien minute na rustyd het in 'n nagmêrrie ontaard vir die Springbokke want van 11-8 voor met rustyd, was die telling skielik 11-23 teen die Springbokke. Die groot skare se moed het gesak en niemand het gedink dat die telling ingehaal kon word nie. Wat dit nog meer merkwaardig maak is die feit dat die Leeus se Reg Higgins na net twee minute van die tweede helfte die veld moes verlaat met 'n knie besering.


Welch and British Lions flyhalf, Cliff Morgan
Cliff Morgan

Morgan se drie het so gekom. Vanaf 'n skrum ongeveer 20 treë van die Springbokke se doellyn het Morgan die bal gekry en met al die losvoorspelers en sy direkte opponent wat hom wou vaskeer, het hy buitekant toe geswenk en met vaartversnelling dwarsdeur gehardloop en onder die pale gaan druk. Heelagter Cameron het vervyf en dit was 11-13.


Tony O'Reilly, winger of the British Lions at a young age.
Tony O'Reilly

Twee minute later skop die Leeus die bal hoog en Van der Schyff huiwer en die bal land binne die kantlyn en spring binnekant toe waar Tony O'Reily die bal vat op volspoed en toe hy vasgevat word, rol die bal los en Greenwood is by, tel op en gaan in die hoek oor. Angus Cameron skop die bal uitstekend oor van die kantlyn af (11-18). Die Leeus het beheer gehad in die stadium en die derde drie het gevolg toe daar vorentoe geskop is en Van der Schyff nie die bal met sy voet kon beheer nie. O'Reilly was by en tel die rollende bal op en duik in die hoek oor. Weer skop Cameron die vervyfskop uit die hoek oor (11-23).



Sias Swart, Springbok winger against the British Lions in 1955.
Sias Swart

Na die drie vinnige drië deur die Leeus het almal gedink hier kom 'n groot telling teen die Springbokke, maar 'n bok wat vasgekeer is, is 'n gevaarlike ding. Die Bokke se stootkrag teen net sewe voorspelers het sy tol begin eis en al hoe meer balle is deur die Springbokke gewen. Naby die Britte se kwart gebied skop Gentles oor die skrum en Sias Swart wat in sy eerste en enigste toets speel, en wat ook die eerste speler van Suidwes Afrika word om vir die Springbokke gekies te word, kry die bal voor Cameron en hy hardloop deur vir sy drie (14-23).

Springbok prop forward Chris Koch scores a try against the British Lions of 1955.
Chris Koch duik oor

Die voorspelers was die Leeus oor en toe Chris Koch die bal uit 'n losgemaal kry, hardloop hy soos 'n agterspeler en bars deur laagvatte vir 'n mooi drie. Sy drie word ewe goed deur Van der Schyff vervyf (19-23). Die Springbokke was nou in volle beheer en die Leeus sien nie die bal nie. Paniek het by hulle ingetree en toe daar teen die einde kans kom, gebruik die Springbokke hulle agterlyn en met Van der Schyff ook in die lyn word Sinclair vasgevat. Die voorspelers is by en Stephen Fry kry die bal en gooi uit na Theuns Briers wat ooplê doellyn toe en pragtig gaan druk. Met die telling op 22-23 wag die belangrikste skop van sy lewe op Springbok heelagter, Jack van der Schyff. Danie Craven sê in sy boek, "Die Leeus Keil Ons OP", "Here, ek het U tot sover nie lastig geval nie, maar nou moet U help!".


Die reuse skare het still geword toe Van der Schyff die bal stel en terug tree. Die Leeus het nie eens gekyk toe hy skop en die bal lings verby die pale trek nie. Die eindfluitjie het toe geblaas en die spannendste oomblik in die ganse geskiedenis van Suid Afrikaanse rugby het to 'n einde gekom met Van der Schyff wat net sy kop laat sak het van teleurstelling.


Springbok fullback Jack van der Schyff turns in agony as his kick missed the target in the first test against the British Lions in 1955.
Jack van der Schyff se skop

VIDEO:

 

(65) Suid Afrika, Saterdag 20 Augustus 1955

Nuweland, Kaapstad - Tweede Toets

Suid Afrika 25, Britse Leeus 9

Toeskouers (46 000)

Skeidsregter: M.J. Slabber (Suid Afrika)



AGTER: Johan Claassen, Dawie Ackermann, Daan Retief. MIDDEL: Wilf Rosenberg, Jaap Bekker, Roy Dryburgh, Chris Koch, Theuns Briers, Bertus van der Merwe. SITTENDE: Salty du Rand, Boy Louw (Bestuurder), Stephen Fry (Kaptein), Danie Craven (Afrigter), Des Sinclair. VOOR: Clive Ulyate, Tommy Gentles, Tom van Vollenhoven.


A painting of the second test match at Newlands, Cape Town in 1955.
Skildery van die tweede toets

VAN VOLLENHOVEN BEHAAL 'N DRIEKUNS OP NUWELAND EN DIE SPRINGBOKKE MAAK DIT 1-1

Springbok rugby captain, Stephen Fry against the British Lions at Newlands, Cape Town in 1955.
Stephen Fry lei sy span op Nuweland


EERSTE HELFTE:


Die Springbokke het die eerste helfte teen die wind gespeel en besluit om meer met die voorspelers te speel en dan het losskakel Ulyate gebruik gemaak van slim skoppies wat die Britse Leeus kort-kort laat kleitrap het omdat die Leeus se senters so vlak gelê het. Teen die verloop van spel het Cameron die eerste punte aangeteken met 'n strafskop, maar dit was die Springbokke wat spel dikteer het (0-3).


The first of his hat-trick of tries against the British Lions at Newlands, 1955.
Van Vollenhoven se eerste drie

In die Springbokke se eie gebied was dit Stephen Fry en Tommy Gentles wat 'n beweging begin het om die skrum en die bal het beweeg tot by Sinclair wat dwars geskop het. Van die voorspelers af is die bal weer uit agterlyn toe en Sinclair het weer dwars geskop en terwyl drie Leeus die bal inwag, gryp Tom van Vollenhoven die bal voor O'Reilly se neus weg en hy trek onder die verdediging uit en alhoewel Cameron sy bes gedoen het kon hy vir die sneltrein nie keer nie en die Springbokke se eerste punte was op die bord (3-3). Kort voor rustyd het Cameron weer kans pale toe gehad maar sy skop was nie oor nie.


TWEEDE HELFTE:


Na ses minute van die tweede helfte was dit losskakel Clive Ulyate wat 'n grondskoppie tussen Morgan en Butterfield deurgestuur het en toe O'Reily die bal vat is hy uit die aarde geloop. Toe is die Springbok voorspelers by en hulle klim in om besit te kry en die bal kom weer agterlyn langs tot by Rosenberg wat na Fry laat loop. Fry gee die bal op die regte tyd vir Van Vollenhoven en hy trek weer oop hoekvlag toe en met 'n sierlike duikslag druk hy sy tweede drie met Greenwood te laat om hom te keer. Dryburgh kon nie vervyf nie. (6-3).

The second of a hattrick of tries against the British Lions in the second test in 1955.
Van Vollenhoven se tweede drie

Springbok winger, Tom van Vollenhoven in 1955.
Tom van Vollenhoven

Die Springbokke was toe in beheer vir die grootste gedeelte van die tweede helfte. Skaars drie minute na sy tweede drie, is dit weer sulke tyd. Gentles het die bal in 'n taktiese beweging aan Ackermann gegee en hy het mooi gevorder en toe vir Van Vollenhoven gegee wat eers vir Reid en O'Reily ontwyk het en toe aan die binnekant van Cameron deur is vir sy derde drie om sodoende sy driekuns in sy tweede toets te behaal. Ulyate het egter die maklikste van skoppe vebrou en die telling was 9-3.


Die Springbokke se sagmaak voorlangs taktiek het begin werk en hulle losvoorspelers was elke keer voor die Britte by die losballe. Hulle het ook die agterspelers mooi ondersteun. Agt minute later kry die Springbokke die bal uit 'n skrum tussen die Leeus se middellyn en kwartlyn en Sinclair breek tussen Butterfield en Davies deur en stuur vir Rosenberg weg. Rosenberg is reguit hoekvlag toe met Cameron weer te laat en Nuweland ontplof, al was die vervyfskop mis (12-3).


A wide view of Newlands during the test match between South Africa and the British Lions in 1955.
Spel in die Nuweland toets

Vanaf nog 'n skrum wat gewen word gaan die bal agterlyn langs en tussen Rosenberg en Sinclair voer hulle 'n fopskêr beweging uit wat vir Rosenberg laat deurbreek en sy uitgee na Dryburgh wat in die agterlyn gekom het, eindig met 'n drie onder die pale. Dryburgh het sy eie drie vervyf om die telling 17-3 te maak.


Weer is die Springbokke binne die Britse Leeus se gebied en vir die soveelste keer skop Dryburgh 'n strafskop mis. Beslis nie sy dag vir skoppe nie. Sowat agt minute daarna is die Springbokke weer binne die Leeus se kwartgebied met 'n losgemaal en toe Ulyate die bal kry, breek hy deur die verdediging en pyl op Cameron af en laat loop na Theuns Briers wat naby die hoekvlag gaan druk (20-3). Toe verslap die Springbokke effe en die Britte val aan en eers skop Cameron mis en toe kry Morgan die bal en beweeg na regs en trek die verdedigers op hom en gee toe 'n binne-aangee na Butterfield wat oorgaan vir sy drie. Cameron se skop is weer mis (20-6).


Van Vollenhoven tackles Tony O'Reily at Newlands in 1955.
Van Vollenhoven loop vir O'Reily

Daar was 'n lynstaan in die Leeus se gebied en hulle het vinnig ingegooi. Dawie Ackermann was by en 'n losbal is deur hom doellyn toe gedribbel en hy het dit agterna gesit en in dieselfde tyd het Jeeps hom vasgehou in 'n poging om 'n drie te vehoed maar Ackermann was eerste by die bal en het gedruk. Die skeidsregter wou 'n strafdrie toeken vir obstruksie maar het van plan verander toe Ackermann wel gedruk het. Dryburgh het die drie vervyf en dit was 25-6.


Die Britse Leeus het toe in beseringstyd 'n drie gekry toe Butterfield wegkom met die bal en vir Greenwood gee. Hy het toe na haker Bryn Meredith laat loop wat oor was vir 'n drie in die hoek wat nie vervyf kon word nie. Die eindfluitjie het geblaas en Suid Afrika se wen van 25-9 het verseker dat die reeks nog wawyd oop was op 1-1.



VIDEO - Tom van Vollenhoven se drieë op Nuweland.



 

(66) Suid Afrika, Saterdag 3 September 1955

Loftus Versfeld, Pretoria - Derde Toets

Suid Afrika 6, Britse Leeus 9

Toeskouers (44 000)

Skeidsregter: Ralph Burmeister (Suid Afrika)



The Springbok rugby team who played against the British Lions in the third test in Pretoria, 1955.
Springbokspan, 3de Toets, Pretoria

AGTER: Clive Ulyate, Jaap Bekker, Daan Retief, Johan Claassen, Dawie Ackermann, Roy Dryburgh, Bertus van der Merwe, Wilf Rosenberg. SITTENDE: Theuns Briers, Salty du Rand, Joe Nykamp (Bestuurder), Stephen Fry (Kaptein), Danie Craven (Afrigter), Chris Koch, Des Sinclair. VOOR: Tom van Vollenhoven, Popeye Strydom.


Springbok eightman Butch Lochner in 1955.

Popeye Strydom op skrumskakel was die enigste verandering toe hy vir Tommy Gentles vervang het. Butch Lochner is ter elfder ure uit die Kaap laat kom om die plek van Daan Retief te vat wie se been nie genoegsaam herstel het nie. Lochner moes toe sonder dat hy saam met die Springbokke geoefen het, vinnig ingelig word oor die spelpatroon wat gekies was vir die toets en hy moes maar probeer aanpas.


Veranderinge het ook vir die Leeus gekom. Baker in die plek van Cameron op heelagter, Tom Reid vir kaptein Robin Thompson wat nog op die krukkelys was, Russel Robins skuif na agsteman in die plek van Reid en Clem Thomas kom op flank in die plek van Robins.



The British Lions team for the third test against the Springboks at Pretoria, 1955.

British Lion Cliff Morgan and teammates takes the field before the third test in Pretoria, 1955.
Cliff Morgan lei sy spanmaats


SWAK SPEL AAN BEIDE KANTE - 'N KENMERK VAN DIE DERDE TOETS


Dit was die eerste internasionale toets wedstryd wat op Loftus Versfeld gespeel is en ongelukkig het die Springbokke die toets teen die Britse Leeus van 1955 hier verloor.


EERSTE HELFTE:


Die Springbokke het teen die wind gespeel maar dit was gou duidelik dat daat iets geskort het. Hulle het nie met vuur ingeklim soos op Nuweland nie en het lusteloos voorgekom. Die Britse Leeus was nie veel beter nie behalwe in die lynstane en skrums, maar die Leeus het meeste aanvalswerk gedoen met die Springbokke wat net nou-en-dan in die opponente se gebied gekom het. Die Springbok senters het rotsvas verdedig en toe Rosenberg vir Davies omdop is die bal opgetel en na Butterfield laat loop wat 'n skepskop oorgesit het (0-3). Dit het ook 'n einde aan 'n slordige eerste helfte gebring.


TWEEDE HELFTE:

Dickie Jeeps kicks the ball while Stephen Fry tries to prevent it during the test in Pretoria, 1955.
Jeeps skop met Fry in die lug

Almal het verwag dat die tweede helfte beter sou wees en met die son en wind van agter kon dinge net beter gaan, maar helaas, dit het nie gebeur nie. Die Britse Leeus se agterspelers het al die bal gehad maar het hulle telkens in rotsvaste verdediging vasgeloop. Daar was toe 'n stafskop aan die Leeus toegeken en heelagter Baker het geslaag en hulle het verder voorgeloop (0-6).


Die voorsprong was egter verminder toe Springbok heelagter Dryburgh self met 'n goeie strafskop geslaag het en die telling was 3-6. Daar was hier-en-daar opvlikkeringe waar aanvalle geloods is maar dit was van korte duur. Die Britte het wel baie geskop maar hulle het meer aanvalskanse gehad


British Lion Jeff Butterfield scores a try during the third test in Pretoria, 1955.
Butterfield se drie

Die Leeus was in die kwartgebied van die Springbokke en 'n aangee het verlore gegaan tussen die skakelpaar, maar Ulyate het wel die bal in die hande gekry. In plaas daarvan om te skop het hy begin hardloop en toe hy vasgevat word het hy die bal vir Dryburgh gegooi wat ook vasgevat was deur die Britte. Daar was bietjie paniek in die Bok agterlyn en die losbal is opgeraap en vir Butterfield laat loop wat oorgeduik het met Van Vollenhoven net te laat. Die vervyfskop was mis maar die Leeus was nou nog verder voor en die Springbokke sou twee keer punte moes aanteken om gelyk te kom (3-9).


Cliff Morgan shows his appreciation to a teammate Williams after the third test at Pretoria, 1955.
Morgan omhels vir Williams

Kort hierna het Roy Dryburgh 'n lang stafskop van net binne die Leeus se halfgebied oorgesit en dit was 6-9. Die Springbokke het nou meer aangeval en binne die Britse Leeus se gebied is Davies weer neergetrek maar weer is die Leeus by en Morgan begin 'n beweging tot diep binne Springbok gebied. Daarna het Morgan teen Bertus van der Merwe vasgeskop en alhoewel Ackermann oor geduik het, was hy onkant. Op die einde van die wedstryd kry die Bokke 'n skrum naby die Britte se pale. Daar is vooraf 'n plan uitgewerk, maar om een of ander rede het die plan skeefgeloop. Ulyate gee die teken aan Strydom dat hulle na regs gaan beweeg, maar Strydom gooi vir Rosenberg na lings, wat dit nie verwag nie en hy probeer 'n skepskop wat teen 'n Leeu vas is en 'n gulde kans is daarmee heen. Net hierna het die eindfluitjie geblaas met die Britse Leeus wat as oorwinnaars van die veld gestap het met 9-6.



FOTOBEELD:


 

(67) Suid Afrika, Saterdag 24 September 1955

Crusader Ground, Port Elizabeth - Vierde Toets

Suid Afrika 22, Britse Leeus 8

Toeskouers (37 000)

Skeidsregter: C.J. Ackermann (Suid Afrika)







DIT WAS MAAK OF BREEK IN DIE VIERDE TOETS OM DIE REEKS TE DEEL, SO 'N VERLOOR VIR DIE SPRINGBOKKE WAS BUITE DIE KWêSSIE


EERSTE HELFTE:


Die Britse Leeus het die loot gewen en besluit om eerste saam met die wind en son te speel. Hulle het dan ook van die begin af alles ingsit om die Springbokke onder druk te probeer plaas. Die Springbokke kon net nie uit hulle eie "25" kom nie en toe daar 'n skrum onder hulle pale toekeken was, het die Britte se kanse om punte te kry baie gunstig gelyk, maar 'n strafskop teen hulle het verligting vir die Springbokke gebring.


Bryn Meredith of the British Lions is caught by Du Rand with O'Reilly on the left, 1955.
Du Rand vat Meredith vas

Net hierna is die Leeus weer terug in die Springbokke se gebied en die bal beweeg al met die agterlyn langs van 'n skrum af tot by Tony O'Reilly. Hy gee vir Griffiths en beweeg buite om om weer te ontvang en los toe 'n dwarsskop wat in die middel van die veld land en agterna gesit word deur Greenwood en Gentles. Greenwood klop vir Gentles en is eerste by die bal om te gaan druk en Pedlow het die vervyfskop oorgesit (0-5).


Van die Springbokke se plan om eerste punte aan te teken het niks gekom nie en net vir 'n rukkie is die Springbokke in Britse gebied en toe moes hulle weer verdedig. Die Leeus het 'n strafskop gekry maar die skop was mis. Weer val die Leeus aan en slaan na lings maar word daar gestuit. Die Springbokke se agterlyn is deurmekaar maar die Britte is gou op hulle pos. In die losgemaal wat ontstaan het bemeester die Leeus en Jeeps kry die bal en die doellyn wink vir hom. Salty du Rand kom egter tot die Springbokke se redding toe hy die bal uit Jeeps se hande met sy knie stamp en sodoende keer dat die Leeus gaan druk.


Dr. Danie Craven sê in sy boek "Die Leeus Keil ons Op", dat hy heeltyd nog hoop vir die Springbokke gehad het in daardie stadium omdat die Springbokke goed was in die skrums en lynstane en hulle agterlyn goed verdedig het. Die volgende wat op punte uitgeloop het was beskryf deur Craven as iets wat toe gebeur het wat baie gelukkig was vir die Springbokke maar baie ongelukkig vir die Leeus.

Springbok winger Theuns Briers scores a try against the British Lions in 1955.
Theuns Briers druk

Gentles laat loop die bal na Ulyate wat 'n hoë skop na die hoek los waar die Leeus se Pedlow en Baker omdraai om die bal te kry, maar uit die bloute is dit Springbok vleuel Theuns Briers wat die bal uit die lug voor hulle neuse wegraap en in die hoek oorduik. Die vervyfskop van Dryburgh tref die regoppaal (3-5). Net hierna blaas die rustyd fluitjie.


TWEEDE HELFTE:


In die tweede helfte was dit die Springbokke wat stadig aan die oorhand begin kry het oor die Britse Leeus. In die eerste minuut was dit weer Ulyate wat hoek toe geskophet en weer het Briers die bal gekry vir sy tweede drie. Alhoewel die vervyfskop weer nie geslaagd was nie, het die Springbokke die eerste keer in die toets die voortou geneem met 6-5. Hierna is dit die Springbokke wat die bal lustig rondgooi en gedra deur die dawerende applous van die skare, Die Leeus lyk tam en is nie dieselfde span wat die toets met soveel entoesiasme begin het nie.


Springbok fly-half Clive Ulyate on his way to score against the British Lions in Port Elizabeth, 1955.
Clive Ulyate op pad na sy drie

Die Springbok pak stoot die Leeus terug en haak waar Gentles breek en 'n kort skoppie los en Fry die bal optel en vorder voordat hy vir Johan Claassen gee. Claassen bars deur 'n paar flou vasvatte en gee toe vir Ulyate wat van rigting verander en in die proses 'n paar grypende hande van die Leeus ontwyk en onder die pale gaan druk. Dryburgh se vervyfskop is oor en die telling skuif op na 11-5.


Springbok winger Tom van Vollenhoven in action, 1955.
Tom van Vollenhoven

Met die toeskouers wat hulle aanmoedig speel die Springbokke uithaler rugby. Bertus van der Merwe haak en Ulyate beweeg steelkant om waar hy vir Van Vollenhoven gee wat om sy opponent Griffiths hardloop en by die doellyn duik hy sierlik bo-oor Baker om sy drie te druk. Die skare raak mal en toeskouers saam met polisie omhels vir Vollie van pure blydskap. Dryburgh se skop is mis maar die telling is nou 'n gerieflike 14-5.


Na die afskop val die Springbokke weer aan en twee keer gaan drieë verlore weens hanteer foute maar toe kry Ulyate weer 'n skoon bal en stuur hom netjies deur die pale met 'n skepskop (17-5). Vir die eerste keer in die tweede helfte het die Britse Leeus die bal op die aanval en hulle agterlyn beweeg mooi en met Griffiths wat in die lyn inkom en vir O'Reilly gee, was daar geen keer aan die vinnige Ier nie. Hy was deur vir sy drie maar is ongelukkig in die proses beseer toe sy skouer uitgehak het en hy die veld moes verlaat (17-8).


British Lions winger Tony O'Reilly scores a try at Port Elizabeth in 1955.
Tony O'Reilly se drie

Nog is dit einde niet en toe Van Vollenhoven die bal onderskep tussen Morgan en Griffiths lê hy oop doellyn toe. Sy pad word toe verspêr maar hy gee uit aan Ackermann wat weer uitgee na Daan Retief en hy gaan by die pale oor vir sy drie. Dryburgh het die vervyfskop oorgesit om dit 22-8 te maak. Hierna was daar nog 'n Springbok beweging waar Retief weer gaan druk het maar die drie was nie deur die skeidsregtertoegeken nie. Die eindfluitjie het ook geblaas met die toeskouers wat op die veld gestorm het om hulle helde van die veld af te dra. Die oortuigende wyse waarop die Springbokke die toets gewen het en die reeks gered het, was nog beter as hulle vertoning in die tweede toets. Die reeks was dus gedeel met 2-2 in wat as 'n getroue weergawe bestempel kan word waar albei spanne ewe gelyk teen mekaar opgeweeg het.


Springbok eighthman Daan Retief scores his try in Port Elizabeth, 1955.
Daan Retief se drie

FOTOBEELD:



 


Recent Posts

See All
bottom of page