top of page

1949 - Springbokke klop die All Blacks 4-0

Updated: Apr 16, 2021

Die veelbesproke All Black toer van 1949 was agterna beskryf as 'n katastofe in Nieu Seeland nadat hulle geen toets kon wen nie. Die toerspan is aan die einde van die vorige seisoen al gekies en het na hul aankoms, drie weke in Hermanus geoefen voor die eerste wedstryd teen die Suidelike Universiteite. Toe die toerspan in Kaapstad aankom, was Suid Afrika besig met proef wedstryde in Pretoria en daar was toestemming gegee vir 'n paar All Blacks om dit by te woon.


Salty du Rand en Ryk van Schoor was van Rhodesië toe hulle gekies is vir die Springbokke. Suid Afrika het die eerste keer in sy geskiedenis, al die toets wedstryde tuis gewen. Okey Geffin se vyf strafskoppe in die eerste toets het Bennie Osler se rekord (14 punte) wat hy teen die All Blacks van 1928 opgestel het, oortref. Die 32 punte wat Geffin in die reeks aangeteken het, was ook 'n rekord vir tuis sowel as oorsese toetse vir Suid Afrika.


The All Black rugby touring team to South Africa in 1949.
All Blacks 1949
A poster of the All Black rugby team of 1949
Plakaat

DIE ALL BLACK TOERSPAN - 1949


 



Videogreep van die All Blacks se aankoms.


 

Daar is Springbok proewe gehou in Pretoria lank voor die eerste toets. Na afloop van die proewe is 'n lys met 32 name bekendgemaak. Sommige spelers het dit nie gemaak nie terwyl spelers wat nie op die lys was nie, wel gekies was.

The Springbok selectors in 1949, Mellish, Zeller, Kipling, Craven, Schreiner
Keurders: Mellish, Zeller, Kipling, Craven, Schreiner




Players portraits who became Springboks in 1949.
Springbokke van 1949

Omdat die hele Springbokspan nuut was en geen vorige toets ondervinding gehad het nie, was hulle 4-0 toets oorwinning merkwaardig teenoor die van Nieu Seeland wat wel in 1946 en 1947 teen Australië gespeel het waarvan 'n hele paar All Blacks gespeel het wat in die 1949 toerspan ingesluit was. Die Springbokspan het uiteraard nie "sterre" soos Bennie Osler, Gerry Brand, Japie krige en Bob Loubsher gehad nie, om net 'n paar te noem, maar het gou in 'n hegte eenheid ontwikkel onder die afrigting van Danie Craven.


Bob Scott the fullback of the 1949 All Blacks in South Africa.
Bob Scott - heelagter

Die All Blacks se stelskopper, Bob Scott, wat andersins 'n baie goeie heelagter was en as opvolger vir die beroemde George Nepia genoem was, het geweldig gesukkel met sy skoppe pale toe en dit het ook sy eie selfvertroue 'n knou gegee. Die skakelpaar van die All Blacks was moontlik hulle grootste swakpunt en daar kan die naam van Hennie Muller genoem word wat vanaf die agsteman posisie amok gesaai het onder die agterspelers van die All Blacks en so verhoed het dat hulle mooi aan die gang kon kom. In daardie tydpek was 'n losvoorspeler nie verplig om in die lynstaan te bly nie, hy kon verder uitskuif en dit het Muller kans gegee om vinnig by die opponente se losskakel en die res van die agterlyn te kom.

 

(51) Suid Afrika, Saterdag 16 Julie 1949

Nuweland, Kaapstad - Eerste Toets

Suid Afrika 15, Nieu Seeland 11

Toeskouers (42 000)




SPRINGBOK NAME: Jack van der Schyff, Buks Marais, Floors Duwenhage, Tjol Lategan, Cecil Moss, Hansie Brewis, Balie Wahl, Aaron "Okey" Geffin, Jorrie Jordaan, Hoppie van Jaarsveld, Fiks van der Merwe, Chris Koch, Felix du Plessis, Louis Strydom, Hennie Muller.




EERSTE HELFTE:



Rugby honger toeskouers het Nuweland volgepak en 42 000 mense het die eerste toets wedstryd op Suid Afrikaanse bodem gesien vir die eerste keer na die tweede wêreldoorlog. Dit was die All Blacks wat in perfekte weer die aanval’s werk gedoen het in die eerste vyftien minute. All Black vleuel, Henderson is ‘n slag by Buks Marais verby maar was gestuit deur Van der Schyff naby die hoekvlag. Die All Blacks was weer op die aanval en toe die Springbokke gestraf is, het heelagter Bob Scott geslaag met die strafskop om dit 3-0 in die guns van die All Blacks te maak. Weer het die All Blacks punte aangeteken toe skrumskakel Savage om die skrum gebreek het en vorentoe geskop het. Jack van der Schyff se skop is afgestorm deur Henderson wat toe gaan druk het met Scott wat die doelskop oorgesit het vir die toerspan om 8-0 voor te loop. Die All Blacks was beslis beter daaraan toe in die eerste gedeelte van die Toets en wanneer die Springbokke wel die bal gekry het, het hulle direk op Bob Scott geskop wat die bal met rente terug gestuur het en hulle in hul eie helfte vasgepen het.


Aaron "Okey" Geffin the Springbok rugby goalkicker in 1949.
Aaron "Okey" Geffin

Na twee-en-dertig minute is Grant onkant betrap en nadat Van der Schyff al met een doelskop misluk het, het kaptein Felix du Plessis die bal vir Ockie Geffin gegee om te skop. Geffin se skop was oor en dawerende applous het onder die Nuwelandse skare uitgebars met die telling nou op 8-3 vir die All Blacks. Daarna het altwee agterlyne die bal hanteer maar elke keer is belowende bewegings in die wiele gery deur hanteer foute. Daarna het die All Blacks aangeval met Scott in die lyn en Kearney se hoë skop is in die Springbokke se kwartgebied deur Lategan aangeslaan. Van die skrum af het losskakel Kearney ‘n skepskop oorgesit en die All Blacks was nou 11-3 voor.


TWEEDE HELFTE:


Hierna het Hennie Muller, wat uiteindelik ‘n groot invloed op die res van die reeks sou hê, Scott se skop afgestorm en na ‘n skrum is Grant weer gestraf vir obstruksie en Geffin het weer aangelê van buite die kwart gebied en weereens was sy strafskop suiwer om die telling 11-6 te maak. Daarna het beide agterlyne weer mooi hanteer en Henderson is gestuit net voor hy weer kon druk. Toe wen Bubbles Koch ‘n lynstaan en Brewis skop vir die hoekvlag en die All Blacks word weer gestraf naby hulle doellyn. Weer was dit Okey Geffin wat die bal versigtig gestel het en hom suiwer deur die pale gejaag het met sy kenmerkende hoogskop deur-swaai om die telling op 11-9 te staan te bring. Toe skop Jack van der Schyff die bal in die All Blacks se kwartgebied uit en van die volgende lynstaan is Hennie Muller amper deur. Die Springbokke het toe druk volgehou maar dis verlig vir die All Blacks toe flank Fiks van der Merwe onkant was by ‘n losskrum. Met ongeveer tien minute speeltyd oor, is die All Blacks weer gestraf buite hulle kwart-gebied en weer moes Geffin aanlê pale toe. Die skop was van uiterste belang vir die Springbokke want hulle sou dan voor wees, die eerste keer in die Toets, en Geffin het weereens geslaag met sy vierde poging pale toe en die telling was nou 12-11 vir die Springbokke. Daarna word Muller onkant betrap maar Scott se lang reguit stelskop is mis.


Okey Geffin turns after succeeding with his fifth penalty kick at Newlands, 1949.
Geffin se vyfde strafskop

Die All Blacks het toe sterk aangeval maar goeie verdediging van veral, Van Jaarsveld, Koch, Muller en Strydom het die aanslag gekeer. Hierna lei Muller ‘n Springbok aanval tot in die kwartgebied van die All Blacks waar Boggs toe gestraf is deur die skeidsregter reg voor die pale. Nodeloos om te sê, Geffin was suksesvol met sy vyfde poging en die hele Suid Afrika het fees-gevier met die oorwinning van 15-11 en die eerste Toets in die sakkie. Die All Blacks het vir groot gedeeltes van die wedstryd beter rugby gespeel en meer aangeval, maar elke keer is hulle gestuit deur die akkurate skoen van Geffin, wat eintlik eiehandig die Toets vir Suid Afrika gewen het. Die Springbokke kon nou die tweede toets met meer selfvertroue aanpak en die hele land was in rep en roer omdat hulle weer toetsrugby kon sien na so ‘n lang tydperk sedert die Britse Eilande laas hier getoer het in 1938. Groot krediet moet gaan aan die Springbokke wat almal nuwelinge was en mekaar eers moes vind en dis van die redes dat hulle op ‘n stadium 3-11 agter was. Die algemene gevoel was dat die Springbokke gelukkig was om die eerste toets te wen deur Geffin se goeie skopwerk.


Aaron "Okey" Geffin vertel self van sy skoppe op Nuweland:



 

(52) Suid Afrika, Saterdag 13 Augustus 1949

Ellispark, Johannesburg - Tweede Toets

Suid Afrika 12, Nieu Seeland 6

Toeskouers (71 000)



The Springbok rugby team for the second test match against the All Blacks, 1949.
Springbokspan, tweede toets

SPRINGBOK NAME: Jack van der Schyff, Buks Marais, Tjol Lategan, Ryk van Schoor, Cecil Moss, Hannes Brewis, Fonnie du Toit, Aaron "Okey" Geffin, Jorrie Jordaan, Chris Koch, Louis Strydom, Bubbles Koch, Felix du Plessis, Salty du Rand, Hennie Muller. Nuwelinge in oranje.


Ellispark rugby stadium in Johannesburg, 1949.
Ellispark, Johannesburg

EERSTE HELFTE:


Na die Springbokke se teleurstellende vertoning in die eerste toets waarin hulle geen drie kon druk nie, was vier veranderinge aangebring. Toetskoors was baie hoog soos afgelei kan word uit die rekord getal mense wat die eerste toets bygewoon het van 71 000. Die Springbokke het 'n baie beter vertoning gelewer in die tweede toets en almal was dit eens na die wedstryd dat hulle dit beslis verdien het.


Die Springbokke het baie meer bal gesien en hulle agterspelers kon wys hoe gevaarlik hulle kan wees. Spel het gewissel tussen die twee helftes van die veld vir die eerste klompie minute. Toe kry die All Blacks 'n stafskop binne die Springbokke se halfgebied en Bob Scott het nie fout gemaak nie (0-3). Hierna het hulle op die aanval gebly totdat Jack van der Schyff, hulle terug gedryf het met 'n lang buitelyn skop. Na die lynstaan was 'n skrum beveel waar die All Blacks gestaf was en Okey Geffin het sy sesde agtereenvolgende strafskop deur die pale gestuur (3-3).


Springbok rugby centre pairing of the 1950s, Ryk van Schoor and Tjol Lategan.
Ryk van Schoor en Tjol Lategan

Toe het Tjol Lategan mooi gebreek vir die Springbokke en oor Scott se kop geskop, maar Scott het vinnig omgedraai en die bal eerste gekry en toe Lategan hom loop was Kearney by om te red met 'n kantlyn skop. In die periode hiena het Geffin 'n stafskop gemis en Scott het twee misgeskop. Hierna het 'n drie amper gekom toe nuweling senter Ryk van Schoor mooi gebreek het maar in die wat hy geduik was het hy die bal na nog 'n nuweling, Salty du Rand laat loop. Salty het vir Muller gegee en hy vir Bubbles Koch wat net vingerpunte by die bal kon kry en so was die drie verlore.


Na die aanslaan het een van die mooiste drieë gekom en wat die groot skare mense van hulle stoele af gehad het. Daar is deur die jare baie oor die drie gepraat wat losskakel Hansie Brewis gedruk het. Dis dalk die gepaste oomblik om dit nou "lewendig" self te sien soos wat die rolprent kamera dit daardie Saterdag middag verfilm het. Kom ons kyk.





TWEEDE HELFTE:


In die tweede helfte het die Springbokke weer begin aanvalle loods met die voorspelers wat vorentoe gedribbel het en by die volgende losskrum het Salty du Rand die bal uitgehaal en Fonnie du Toit het dadelik vir Muller gegee wat ingesny het en toe vir Brewis gegee het wat weer vir Lategan gegee het. Lategan het gebreek met Van Schoor en Moss aan sy buitekant en gemaak of hy gaan uitgee en sodoende die verdediging buite toe te skuif. Tjol is toe daar deur die gaping om sy drie te gaan druk met die entoesiastiese skare waarvan party hom omhels het agter die pale, soveel so dat die polisie moes ingryp toe hulle hom nie wou los nie (9-3).


All Black fullback evades the Springbok flanker, Strydom at Ellispark in 1949.
Bob Scott ontduik vir Strydom

Die All Blacks op die aanval was binne die Springbokke se halfgebied toe hulle 'n stafskop kry maar die bal was kort en 'n Springbok het inderhaas probeer uitskop maar nie die kantlyn gehaal nie. Losskakel Jim Kearney het die bal ingewag en'n goeie skepskop deur die pale gestuur (9-6). Die groot skare het hul kele droog geskree toe die Springbokke weer afskop en kort daarna het Hannes Brewis die bal gekry en self 'n netjiese skepskop oorgesit (12-6). Dit was dan ook die eerste skepskop van die Springbokke wat drie punte getel het in plaas van vier soos voorheen, nadat die reëls verander is. Die All Blacks het hierna met 'n agterlyn beweging mooi gevorder totdat Meates op die kwartlyn van die Springbokke deur Van der Schyff uitgestamp is en hierna het die eindfluitjie geblaas. Die Springbokke was nou 2-0 voor in die reeks van vier toetse.


Die twee kapteins na afloop van die tweede toets. Felix du Plessis is na die derde toets weggelaat uit die Springbokspan en Fred Allen het homself nie verkiesbaar gestel vir die laaste twee toetse nie en ook sy uittrede na afloop van die toer aangekondig.



So het Paul Bothma van die SAUK destyds die deeltjie van die toets oor die radio beskryf:

 

(53) Suid Afrika, Saterdag 3 September 1949

Kingsmead, Durban - Derde Toets

Suid Afrika 9, Nieu Seeland 3

Toeskouers (30 000)



AGTER: Hannes Brewis, Floors Duwenhage, Chris Koch, Jack van der Schyff, Salty du Rand, Bubbles Koch, Tjol Lategan, Ryk van Schoor, Fonnie du Toit. SITTENDE: Jorrie Jordaan, Aaron "Okey" Geffin, Felix du Plessis (Kaptein), Danie Craven (Afrigter), Cecil Moss, Hennie Muller, Flip Geel. VOOR: Gamat.


SPRINGBOK NAME: Jack van der Schyff, Floors Duwenhage, Tjol Lategan, Ryk van Schoor, Cecil Moss, Hannes Brewis, Fonnie du Toit, Aaron "Okey" Geffin, Jorrie Jordaan, Chris Koch, Bubbles Koch, Flip Geel, Felix du Plessis, Salty du Rand, Hennie Muller. Nuwelinge in oranje.


EERSTE HELFTE:


Die derde toets wedstryd in Durban was teleurstellend want die Springbokke kon geen drie aanteken nie, en dit is wat die toeskouers wil hê. Daar sou nie soveel kritiek gewees het as daar 'n drie aangeteken kon word nie, maar weereens was dit Okey Geffin se skoen wat al die punte aangeteken het en waarvoor hy nou al bekendheid verwerf het. Vroeg in die wedstryd het Bob Scott kans gekry pale toe, maar het sy skop verbrou. Die All Blacks was meer op die aanval totdat Fonnie du Toit weggekom het en na Hennie Muller laat loop het wat die bal vêr tot binne die All Blacks se halfgebied uitgeskop het. Die All Blacks was toe gestraf en Geffin het geen fout gemaak nie (3-0).


Springbok winger Duwenhage at full cry against the All Blacks in Durban, 1949.
Duwenhage op volspoed

Weer het die All Blacks aangeval, maar toe kry die Springbokke kans van hul eie en die bal is van Du Toit na Brewis na Lategan wat gebreek het maar sy aansluiting by Van Schoor het verlore gegaan en die skare moes toe maar weer sitplek inneem. Die Springbok voorspelers het hiena vorentoe gedribbel en Scott het die bal gekry en uitgeskop, maar die skeidsregter het 'n stafskop beveel vir obstruksie. Weer het Geffin nader gekom en sy tweede stafskop oorgesit om dit 6-0 te maak in 'n kort tydjie waarin nie veel konstruktiewe spel gesien is nie. Hierna was dit die All Blacks op die aanval maar weer het Scott met 'n redelike maklike strafskop misluk. Toe kry Kearney die bal en los 'n hoë skop wat aangeslaan was en Elvidge het die bal weer in die hande gekry en vir Morrie Goddard oorgestuur vir 'n drie (6-3).


All Black centre Elvidge gets the ball against the Springboks in Durban, 1949.
Elvidge ontvang en Springbokke wag

Meates, die vleuel het 'n dwarsskop gelos, maar Van der Schyff het gered. Crowley, Elvidge en Henderson het almal probeer deurkom maar kon nie en toe mis Scott nog 'n strafskop. Op die halflyn het Lategan vir Goddard grond toe gebring en Van Schoor het opgetel en mooi gehardloop en vorentoe geskop maar Elvidge was daar met 'n skoonvang. Daarna het vleuel Duwenhage mooi gehardloop en toe na Muller aan sy binnekant gegee wat na sy voorspelers laat loop het maar die bal was aangeslaan en 'n sekere drie was daarmee heen.


Toe kom die All Black agterlyn met 'n mooi beweging net voor rustyd. Scott het 'n bal wat nie uitgeskop was nie gekry en 35 treë gevorder voor hy na Elvidge gegee het en hy het die vinnige Henderson in besit gestel. Hy het ook goed gevorder voordat hy na Goddard laat loop het en wat gelyk het na 'n drie is pragtig gestuit deur Duwenhage en Moss naby die doellyn. Rustyd het aangebreek met die telling op 6-3.


Aaron "Okey" Geffin kicking a penalty in the test match against New Zealand in 1949.
Aaron "Okey" Geffin skop pale toe

TWEEDE HELFTE:


Vroeg in die tweede helfte het Geffin sy derde strafskop oorgesit van voor die pale af om dit 9-3 te maak. Die Springbokke was nou in beheer maar al het hulle hoe hard probeer, kon hulle net nie deurkom om 'n drie te druk nie. Lategan en Moss het goed beweeg en toe het Brewis na binne laat loop aan die steelkant in plaas van na Moss en weer was 'n sekere drie daarmee heen toe 'n voorspeler die bal aangeslaan het.


Toe was dit weer Cecil Moss wat dwars geskop het waar Lategan die bal gekry het maar sy aangee het ook verlore geraak en nog 'n kans was daarmee heen. Brewis het daarna 'n All Black bal onderskep en toe vorentoe geskop met Scott voor hom, maar die All Blacks het gered. Met die Springbokke nog op die aanval het die eindfluitjie geblaas.

 

(53) Suid Afrika, Saterdag 17 September 1949

Crusaders Ground, Port Elizabeth - Vierde Toets

Suid Afrika 11, Nieu Seeland 8

Toeskouers (28 500)




SPRINGBOK NAME: Jack van der Schyff, Cecil Moss, Tjol Lategan, Ryk van Schoor, Carrots Geraghty, Hannes Brewis, Fonnie du Toit, Aaron "Okey" Geffin, Jorrie Jordaan, Chris Koch, Piet Malan, Bubbles Koch, Willem Barnard, Basil Kenyon, Hennie Muller. Nuwelinge in oranje.


EERSTE HELFTE:


Die All Blacks was vasbeslote om die laaste toets te wen en hulle was gou op die aanval. Daar moes geskrum word en toe 'n All Black die bal aanslaan was Hennie Muller by om dit vorentoe te skop. Daar was glo onkantspel deur die Springbokke en Bob Scott kon sy span vroeg laat voorloop het, maar hy het gemis (weereens). Hierna het Scott nog twee strafskoppe gemis, een waarvan Hansie Brewis mooi gered het met 'n buitelyn skop. Vanaf 'n skrum op die halflyn is die bal met die All Blacks se agterlyn afgestuur waar Scott ingekom het van heelagter af, maar Fonnie du Toit het onderskep en sy ore platgetrek doellyn toe. Hy is egter naby die doellyn ingehaal deur altwee vleuels van die All Blacks en sy kans was daarmee heen. Nadat Scott met twee skepskop pogings misluk het, was dit nuweling Basil Kenyon en Hennie Muller wat spel verder gevat het maar Scott het die bal uitgeskop.


Springbok centre Tjol Lategan tackles an All Black during the fourth test at Port Elizabeth, 1949.
Tjol Lategan loop 'n All Black

Toe het nog 'n nuweling, Piet Malan saam met Geffin en Brewis die bal mooi gedra en van die daaropvolgende skrum is die bal van Du Toit na Brewis wat toe na binne aangegee het en Hennie Muller het deurgesny maar hy is op die doellyn gestuit, van die toeskouers het gedink hy het gerduk. Hierna was dit Henderson wat dwars geskop het en Elvidge en Delamore was daar om vorentoe te skop. Agsteman Johnstone was by om die bal op te pik en oor te val vir sy drie (3-0). Rustyd het aangebreek met die toets wat enige kant toe kon gaan.


TWEEDE HELFTE:

All Black and Springbok players try to get to the ball during the fourth test at Port Elizabeth in 1949.
Dis 'n gespook om besit van die bal.

Onmiddelik na die begin van die tweede helfte is die All Blacks gestraf en Geffin het geen fout gemaak met die strafskop van so 40 treë af nie (3-3). Alhoewel die wedstryd van die een kant na die ander geswaai het, was dit die twee Springbok senters wat met sterk duikslae in die middelveld, uitgesonder kon word. Die All Blacks het nogtans nie terug gestaan nie en het by tye goeie spel gelewer in die tweede helfte.


Hierna het Scott weer by sy agterlyn aangesluit en vir Henderson weggestuur en toe Van der Schyff hom voorkeer is sy aangee aangeslaan en 'n sekere drie was verlore. Toe kom die Springbokke met mening terug en Chris Koch was prominent toe hy amper deur was en van die volgende 5-treë skrum het Fonnie du Toit deurgeglip en onder die pale gaan druk. Nodeloos om te sê was Geffin se vervyfskop oor (8-3). Delamore en Goddard het probeer deurkom maar kon nie die Springbokke se verdediging deurdring nie. Na 'n lynstaan halfpad tussen die middellyn en die All Blacks se kwartgebied het Brewis die bal gekry en vasgesteek en 'n goeie skepskop deur die pale gejaag (11-3).


Toe was dit Scott wat met 'n agterlyn beweging begin het en deur Meates verder gevat was maar Elvidge is geloop deur die Springbok verdedigers. Delamore die losskakel het toe 'n beweging begin wat 'n drie vir die All Blacks gebring het. Vanaf 'n skrum naby die Springbokke se doellyn het Delamore twee spelers getrek voor hy vir Elvidge gegee het wat verby Muller is en gaan druk het en die een kon Scott darem oorsit (11-8).


Die All Blacks het toe weer aangeval met alle mag maar sterk verdediging het gekeer dat hulle kon deurkom. Heelagter Jack van der Schyff het toe 'n geweldige strafskop vanaf naby sy halflyn en naby die kantlyn probeer en alhoewel die bal reguit koers gekies het pale toe het hy op die laaste nippertjie die regop-paal getref. Hierna het die eindfluitjie geblaas met die Springbokke waardige wenners van die reeks met 4-0.


FOTOS VAN DIE TOER:




bottom of page