top of page

1912-13 Billy Millar se Springbok toerspan vaar uitstekend in Britanje - Tweede Toer Oorsee

Updated: Apr 16, 2021

Suid Afrika se tweede toer oorsee was 'n groot sukses verhaal deurdat die Springbokspan van Billy Millar al vier toetse teen die Britse tuis unies gewen het. Uit die 27 wedstryde het hulle 24 gewen op'n toer van drie maande en sewe dae. Die Springbokke het die keer, anders as in 1906-07, vir Skotland maklik geklop en toe vir Ierland met 'n rekord getal van 38-0, 'n rekord wat gestaan het tot 1951-52 toe die Springbokke vir Skotland met 44-0 geklop het.

The springbok head trophy that was presented to the first team that could beat the Springbok rugby team on the 1912-13 tour of Britain.
Kaptein Billy Millar met die springbok aandenking.

Dit was dan ook op hierdie toer wat die tradisie begin is om 'n springbok kop wat opgestop was saam te neem en te oorhandig aan die eerste span wat die Springbokke kon klop. Die span van Newport het dit wel reggekry in die sewende wedstryd toe hulle die Springbokke met 9-3 geklop het en kaptein Billy Millar moes toe die aandenking aan Newport oorhandig.


Kaptein Billy Millar was in 1910 ook kaptein in twee van die drie toetse wat teen die Britse toerspan in Suid Afrika gespeel is. Millar was ook saam met Uncle Dobbin (onder-kaptein) en Dougie Morkel, spelers wat ook op Paul Roos se eerste toer na Britanje in 1906-07 was.


Al drie was ook saam met die Luyts, Richard en Freddie asook "Boy" Morkel die spelers wat ook in 1910 teen die Britte gespeel het. Daar was drie broers wat almal ook in van die toetse gespeel het, naamlik die Luyt broers, Richard, Freddie en John. Gerhard en Jackie Morkel was broers en "Boy" was 'n neef van hulle. Jan Stegman was 'n broer van Anton wat in Paul Roos se 1906-07 span was en Willie Krige was 'n broer van die beroemde Japie Krige.


Die keer het vier voorspelers en een agterspeler oor die 200 pond geweeg. Die Springbokke het vir die eerste keer op die beroemde Twickenham veld gespeel. Soos ook in 1906-07, het die Springbokke weer in wit truie gespeel teen Ierland omdat hulle truie ook groen was.


The Springbok touring rugby team of the British Isles in 1912-13.
Springbok Toerspan na Britanje, 1912-13

AGTER: Jacobus Meintjies, Arnold Night, Louis Louw, John Luyt, Gerhard Morkel. STAANDE: Freddie Luyt, Sep Ledger, Tom van Vuuren, Baby Schum, Boetie McHardy, Joe Francis, Jack Braine, Wally Mills, Richard Luyt, Ned Delaney. SITTENDE: Willie Krige, Tommy Thompson, Fanie Cronje, Jan Stegman, Billy Millar (Kaptein), Max Honnet (Bestuurder), Uncle Dobbin, Dougie Morkel, Boy Morkel, Apie van der Hoff. VOOR: Bai Wrentmore, Jack Immelman, John McCulloch, Jacky Morkel.

A poster of the Springbok rugby team in England, 1912-13 (1)
Springbok rugby team poster 1
A poster of the Springbok rugby team in England, 1912-13 (2)
Poster of Springbok rugby team in England
 

(18) Skotland, Saterdag 23 November 1912, Inverleith, Edinburgh

Suid Afrika 16, Skotland 0


Op die tweede toer na Britanje, was die Internasionale toetse in dieselfde volgorde gespeel as op die eerste toer van Paul Roos in 1906-07. Suid Afrika was gretig om hulle nederlaag teen Skotland op die vorige toer te wreek en drie spelers was ook deel van Paul Roos se span, naamlik, kaptein Billy Millar, Uncle Dobbin en Dougie Morkel.


Die stratigie wat die Springbokke uitgewerk het teen die Skotte het uitstekend gewerk en dit was om die Skotte voor aan te vat en met hul eie medisyne terug te betaal as wat die Skotte met Paul Roos se span gedoen het op die vorige toer. So vir die eerste gedeelte van die toets het die Springbokke net met hulle voorspelers gespeel en hul gevaarlike agterspelers selde gebruik. Die Skotse voorspelers was nie opgewasse teen die Springbok pak, wat swaarder en beter as die van 1906-07 was nie. Eers toe die Skotte se gô uit was voorlangs, het die Springbokke met hul agterlyn geslaan en vier prag drieë gaan druk waarvan twee verdoel was.


Die Skotte het in die begin alles probeer met hulle voorspelers, waar hulle gedink het hulle weer die oorhand oor die Springbokke sou hê en die Bokke moes by tye kwaai verdedig om hulle uit te hou. Na sowat 20 minute het die agterspelers van die Springbokke goeie bewegings begin en eers was Jan Stegman gevaarlik en toe was dit McHardy se dwarsskop wat net te vêr was. Hierna was dit 'n heen-en-weer stryd waar eers Sutherland mooi gehardloop het vir Skotland en toe het Dickson vorentoe geskop maar Richard Luyt het kom red maar sy skop poging oor die kop van Dickson was deur hom gevang. Jacky Morkel het die Skotte gepeper met hoë skoppe en toe hy weer een hoog op Dickson skop, het hy aangeslaan en McHardy was by om te gaan druk vir Suid Afrika (3-0).

Play from a rugby match that the Springboks played on tour in England, 1912-13
Springbok rugby 1912-13

In die tweede helfte het Suid Afrika se taktiek begin tel en na 'n briljante beweging na lings was hulle amper deur, maar toe gee Uncle Dobbin die bal vir Richard Luyt wat toe vir Jan Stegman gee en hy was deur vir sy eerste drie wat mooi deur Gerhard Morkel verdoel is (8-0). Toe mis Morkel 'n lang strafskop net-net, maar kort daarna was dit Freddie Luyt, wat uitstekend gespeel het, wat na Dobbin laat loop het, en toe met die agterlyn af na Jacky Morkel, na Richard Luyt en toe na Jan Stegman wat die beweging met sy tweede drie afgerond het (11-0).

The Springbok rugby kicker, Dougie Morkel practising his kicks on the 1912-13 tour of Britain.
Dougie Morkel

Vyf minute voor die einde, met die Skotte wat weer terug gekom het, het Suid Afrika sy laaste maar beste drie moontlik gedruk. Die bal is agterlyn langs na Stegman op die vleuel wat toe weer terug laat loop het binnetoe. Die bal is toe lustig rond gegooi en eers was dit Richard Luyt na Jacky Morkel toe na Freddie Luyt wat weer vir Boet McHardy op die ander vleuel gegee het. Toe hy voor gekeer word was Dobbin by wat toe 'n dwarsskop gelos het. Sy skop was toe in die hande gekry deur Dougie Morkel wat toe vir Boy Morkel op 'n 25 treë lopie na die doellyn toe weggestuur het. Die drie is gepas deur Dougie Morkel verdoel om die eindtelling op 16-0 te staan te bring en so was 1906-07 se verloor behoorlik gewreek.





The Springboks and Scottish rugby teams for the international rugby game in 1912-13
Springboks and Scotland Rugby Teams
 

(19) Ierland, Saterdag 30 November 1912, Landsdowne Road, Dublin

Suid Afrika 38, Ierland 0


Die Springbokke het die grootste telling nog tot op daardie stadium, teen Ierland opgestel toe hulle 'n weghol oorwinning van 38-0 aangeteken het waarvan Boetie McHardy en Jan Stegman elk drie drieë gedruk het. Toe hulle op die veld kom was die gras gevries van die koue, maar dit het die Springbokke nie gekeer nie.


Die Iere het twee keer met dribbel bewegings die bal tot binne die Springbokke se gebied geneem waar eers Gerhard Morkel en toe Richard Luyt gered het. In die kwartgebied van die Springbokke het Freddie Luyt die bal opgeraap voor die Ierse voorspelers en laat loop na Uncle Dobbin. Die bal is toe agterlyn af na Jacky Morkel, toe na Richard Luyt wat weer vir Jan Stegman op vleuel gegee het. Stegman kon nie gestuit word nie en hy is deur die hele Ierse span en ook die heelagter om 'n skitter drie te gaan druk. Sy drie het gekom na net vyf minute se spel.


Portrait of Springbok rugby player, Boetie McHardy.
Boetie McHardy

Hierna het dit gelyk of die Iere reggeruk het en hulle het die Springbokke in toom gehou tot so twaalf minute voor rustyd. Dis toe dat 'n tragedie hulle tref in die vorm van Boetie McHardy, wat vinnig drie drieë gaan druk het. Dit het hy reggekry deur 'n agterlyn wat

uitstekend gespeel en hanteer het asook sy eie vermoë om verdedigers te klop met swenk en afstamp bewegings waarteen die Iere nie antwoord gehad het nie. Halftyd was die Springbokke met 12-0 voor.

Portrait of Springbok rugby player, Jan Stegman.
Jan Stegman

Sewe minute na rustyd het Richard Luyt openinge gemaak vir Jacky Morkel wat deur was vir twee drieë waarvan die laaste een deur Gerhard Morkel verdoel was (20-0). Die voorspelers het die fondament gelê vir die agterspelers om met die bal te hardloop. Na 'n inskop het Tom van Vuuren die bal gekry en na Jan Stegman laat loop wat die bal onder die pale geplant het en dis was weer Gerhard Morkel wat die doelskop oorgesit het vir die Springbokke om 25-0 voor te loop. Luister na wat Jan Stegman self vertel het oor sy drie in die SAUK televisie program "Springbok Sage" wat deur Pierre Marais waargeneem is.


Vyftien minute voor die einde moes Richard Luyt die veld verlaat, maar dit het nie die Springbokke se gees gedemp nie want net daarna het kaptein Billy Millar self gaan druk wat weer deur Gerhard Morkel verdoel was (30-0). Daarna was dit Joe Francis wat deur was vir sy drie wat nie verdoel kon word nie (33-0). Die toestande wat beskryf kon word as "arctic" kon die Springbokke nie onder kry nie en net voor die einde was dit weer Stegman wat deur was vir sy derde drie nadat Uncle Dobbin die aanvoorwerk gedoen het en Gerhard Morkel weereens geslaag het met die doelskop. Die eindtelling van (38-0) was dan 'n rekord wat eers weer in 1951-52 gebreek sou word.

The Springbok and Irish rugby teams for the international match in 1912-13.
Rugby Teams
 

(20) Wallis, Saterdag 14 Desember 1912, Arms Park, Cardiff

Suid Afrika 3, Wallis 0

In swaar reën het die Springbokke in die eerste helfte saam met die wind gespeel. Dit was weer een van die helde teen Ierland, Boetie McHardy wat die Springbokke gered het, die keer met goeie verdediging waar hy twee moontlike drieë gekeer het net toe dit neusie verby gelyk het. Dit was die Walliesers wat begeesterd aangeval het en net rotsvaste verdediging deur die Springbokke het 'n drie gekeer.


Na omtrent veertien minute se spel het die Springbokke uit die greep van Wallis gekom en gevorder tot in Wallis se gebied. Dit was hier waar Wallis oortree het en Dougie Morkel het die strafdoel oorgesit (3-0). Hierna het die Springbokke op die aanval gebly en hulle agterlyn het die nat bal uitstekend hanteer. Toe was dit Wallis wat weggebreek het vanaf hulle eie gebied met Vile, Birt en Spiller wat mooi hanteer het. Die bal het Plummer bereik wat oopgelê het doellyn toe, maar McHardy het op die kruisverdediging oorgekom en toe Plummer vorentoe skop het McHardy dit oor die doodlyn geskop en 'n drie verhoed. Hierna het Wallis 'n strafdoel reg voor die pale gemis. Hierna was dit weer Suid Afrika met Dobbin en Stegman wat net geklop was toe die bal weer oor die Walliese doodlyn geskop was.

Action from a rugby match played by the Springboks on their tour of Britain in 1912-13.
Spel op toer

Na rustyd het Suid Afrika weer aangeval met die agterlyn maar 'n hanteerfout het 'n sekere drie verhoed. Toe was dit weer McHardy wat goed op loop gegaan het maar hy was deur die verdediging platgetrek. Toe het Birt en Geen die druk verlig deur die bal weg van die doellyn te dribbel. Weer was dit McHardy wat soos die wind gehardloop het net om die bal te verloor toe hy oor die doellyn gaan.


Die Wallisers het toe meer begin skop met die wind van agter en die bal laag gehou sodat dit oor die veld geskiet het. Van 'n aanval's posisie het Geen weggekom en vorentoe geskop oor die kop van Gerhard Morkel, die heelagter. Geen het die bal weer in die hande gekry en geduik vir 'n drie maar weer was McHardy by om te red toe hy sy voet voor die bal gesit het en Geen het opgespring en weer gedruk, maar die vlagman het beslis dat dit 'n inskop was.


Hierna het Thomas amper geslaag met 'n goeie skepskop poging maar toe was dit Thompson en Dougie Morkel wat spel tot binne Wallis se helfte geneem het. Die Springbokke het tot aan die einde die gebiedsvoordeel gehandhaaf waar Boetie McHardy weer amper deur was maar die Walliesers het gekeer. So het 'n toets ge-eindig wat enige kant toe kon gegaan het in die guns van Suid Afrika met 3-0. Dit kan wel gesê word dat was dit nie vir McHardy se goeie spel en varal sy verdediging nie, die Springbokke die toets kon verloor het.

The Springboks and Wales rugby teams that played an international match in 1912-13.
Springboks and Wales Rugby
 

(21) Engeland, Saterdag 4 Januarie, 1913, Twickenham, London

Suid Afrika 9, Engeland 3


Dit was Engeland wat van die begin af aangeval het en in beheer was en hulle briljante senter Ronnie Poulton het dwarsdeur die Springbokke gehardloop vir 'n baie goeie drie wat nie verdoel was nie (0-3). Tien minute later was dit weer Poulton wat die bal op die halflyn gekry het en met sy kurktrekker lopie het hy weer deur die verdediging gehardloop en 'n sekere drie is weereens net betyds gekeer toe Boetie McHardy weer oor gekom het op die dekverdediging en met 'n vol duikslag vir Poulton treë van die doellyn af plat geduik het. Die skare van Twickenham het op hulle voete gekom om die verdediging van McHardy applous te gee.


Kort hierna het Richard Luyt die bal onderskep tussen die Engelse senters en toe na Jacky Morkel laat loop wat 'n baie goeie drie gaan druk het. Dougie Morkel se skop was teen die regop paal (3-3). Die Engelse voorspelers het toe spel na Suid Afrika se halfgebied geneem waar meeste spel plaasgevind het totdat halftyd aangebreek het.

Action from a rugby match played by the Springboks on their tour of Britain in 1912-13.
Spel op toer

Na halftyd was dit die Springbokke wat 'n reeks aanvalle geloods het en Stegman was amper deur maar die finale uitgee is onderskep deur Pillman wat met 'n briljante lopie tot op die halflyn gevorder het. Dit was heelagter Gerhard Morkel wat die Engelse telkemale terug gedryf het met vêr kantlyn skoppe. Na veertien minute van die tweede helfte was Dougie Morkel suksesvol met 'n strafskop (6-3).


Van die daaropvolgende afskop het die Engelse gevaarlik aangeval en Brown het spel tot in die Springbokke se kwartgebied gevat waar McCulloch gered het. Van toe af het spel gewissel en dan was een span bo en dan weer die ander span. Toe het Jacky Morkel 'n dwarsskop gelos en Stegman was net geklop in sy agternasit deur Coates, maar hierna was die Springbokke die sterker span. Alhoewel Freddie Luyt toe beseer was en Dougie Morkel agter gaan help het, was dit die Springbokke se groter voorspelers wat die oorhand oor die Engelse gehad het en meestal op die aanval gebly het. Dit was toe dat Dougie Morkel weer kon pale toe mik met 'n strafskop wat hy deurgejaag het om die Springbokke met 9-3 te laat wen.

The Springboks and English rugby teams that played an international match on tour in 1912-13.
English and South African rugby teams
 

NOG FOTOS VAN DIE TOER:



bottom of page