top of page

1910 - Tom Smyth se Britse toerspan het Suid Afrika besoek met wisselvallige sukses.

Updated: Apr 16, 2021

Dit was die eerste keer wat'n Britse toerspan Suid Afrika besoek het en verteenwoordigend van al vier Britse tuis unies was, naamlik Engeland, Wallis, Skotland en Ierland. Die eerste keer wat die Britse span die bekende kenteken van al vier tuis unies op hul truie gedra het was met die toerspan se besoek aan Suid Afrika in 1924.

The British Isles rugby playing kit that was used between 1910 and 1938.

Gedurende die toer wat twee maande en ses-en-twintig dae geduur het, het hulle 24 wedstryde gespeel waarvan hulle net 13 kon wen en 8 verloor het. In die toetsreeks van drie, het die Britte een gewen en twee verloor.





The touring rugby team of the British Isles that toured South Africa in 1910.
British Isles Rugby Team


Die toerplan het 'n drukfout naamlik die eerste toets was in Johannesburg gespeel en nie in Kimberley nie.

 
The South African rugby team that played in the first international match in 1910 against Britain in Johannesburg.
South African Rugby Team

(15) Eerste Toets, Saterdag 6 Augustus 1910, Wanderers, Johannesburg

Suid Afrika 14, Britse Eilande 10


Die eerste toets van 1910 was op die Wanderers veld in Johannesburg gespeel en Suid Afrika het sommer dadelik aanvalle geloods en beide vleuels, Loubsher en Hahn was elk naby die doellyn gestuit. Net toe dit lyk of die Britte goed op dreef was, het hul voorspelers die bal verloor en die Springbokke het met 'n teenaanval gekom. Die bal is vêr vorentoe gedribbel en toe die bal opspring was die agterlyn daar om met mooi hand-tot-hand bewegings vir De Villiers weg te stuur vir sy drie (3-0). Hierna het die Britte se agterlyn die bal gekry en die senters Wood en Jones het die lyn reguit getrek voordat Forster 'n baie mooi drie gaan druk het (3-3).


Die spel voor rustyd was in beheer van die Britte en dit was net sterk verdediging deur die Springbokke wat punte verhoed het. Na rustyd het die spel vir 'n tyd rondom die middel van die veld plaasgevind terwyl dit gelyk het of die manne mekaar van voor af weer opsom. Ewe skielik was dit Dobbin wat gebreek het en vir Hahn weggestuur het wat weer naby die lyn gestuit was. Vanaf 'n lynstaan was dit Luyt wat bemeester het en 'n opening vir Morkel geskep het wat soos 'n springbok neergelê het doellyn toe vir sy drie (6-3).


De Villiers het twee keer 'n gaping geslaan om Suid Afrika op die aanval te plaas. Vanaf 'n skrum het Freddie Luyt die bal gekry en verdedigers ontduik om ook 'n mooi drie te gaan druk wat deur Morkel verdoel is vanuit 'n moeilike hoek (11-3). Die Britte het daarna weer punte gekry toe Jones 'n netjiese skepdoel oorgesit het (11-7). Hierna het Spoors en Wood vir Britanje deurgedribbel waar die Springbokke die bal nie kon beheer nie en Isherwood was byderhand om vir Spoors weg te stuur vir 'n drie (11-10). Die skare was toe luidkeels toe die Britte alles probeer het vir punte maar spel het van die een span na die ander verwissel. De Villiers en Loubsher het toe die skare op hulle voete gehad toe hulle byna deur was. Die spel het oopgemaak en Morkel wat agter was het die bal dwars geskop na Hahn wat die op volle vaart gekry het en deurgehardloop het vir sy drie (14-10).

 
The South African rugby team that played in the second international match in 1910 against Britain in Port Elizabeth.
South African Rugby Team


(16) Tweede Toets, Saterdag 27 Augustus 1910, Crusader Veld, Port Elizabeth

Suid Afrika 3, Britse Eilande 8



Die Britte het verdien om die tweede toets gemaklik met 8-3 te wen waarin Stevenson, Smith Webb en Jarman baie goed gespeel het en uitgestaan het. Nadat Hahn en Mills, die vleuels van Suid Afrika spel tot diep binne Britse gebied geneem het, het niemand gedink hulle sou verloor nie. Hanford het die druk vir die Britte verlos deur die bal deur te dribbel, maar Mills het kom red en toe dwars geskop. Die gevaarlike beweging was deur die Britte gestop wat toe self oorgeneem het en spel tot diep in die Springbokke se gebied geneem het. Hier het Isherwood die bal gekry en na Jones laat loop. Hy het deurgebreek en na Foster laat loop wat soos 'n vlakhaas afgesit het doellyn toe, maar gelukkig vir die Springbokke het Gideon Roos hom gestuit met 'n mooi lae duikslag.


Hierna Het die Springbokke met die agterlyn probeer deurbreek met veral Hahn en Mills wat aangeval het, maar rotsvaste verdediging van die Britte het gekeer dat hulle kon deurkom. Hierna het die Britte eers met hulle voorspelers en toe na die agterlyn die bal beweeg waar Pillman amper deur was en deur drie Springbokke gestuit was. Die Britte het goed gespeel in die stadium en die Springbokke se punte het eintlik teen die verloop van spel gekom. Eers het De Villiers, Luyt en Hahn spel verplaas tot in die opposisie se kwart gebied waar De Villiers weer gebreek het, laat loop het na Luyt wat toe vir Mills oorgestuur het vir die eerste drie (3-0) wat ook die halftyd telling was.


In die tweede helfte het Suid Afrika teen die wind gespeel en was dit hulle wat eerste aangeval het met Lombaard wat amper gedruk het. Toe het Isherwood laat loop na Pillman wat hoog geskop het saam met die wind en Allport kon nie die bal beheer nie en die bal het in die hande van Spoors gehop wat oor was vir sy drie (3-3). Hierna was dit weer Pillman wat uitstekend gebreek het om vir Neale oor te stuur vir sy drie wat deur Pillman verdoel is (8-3). Weer het die Britte sterk aangeval en Hancock was amper deur voordat Roos kom red het deur die bal oor die doodlyn te skop. Suid Afrika het weer probeer aanval maar met die hulp van die wind is hulle telkemale terug geskop deur die Britte wat 'n beter toets wedstryd gespeel het om te wen.

 
The South African rugby team that played in the third international match in 1910 against Britain in Cape Town.
South African Rugby Team

(17) Derde Toets, Saterdag, 3 September 1910, Nuweland, Kaapstad

Suid Afrika 21, Britse Eilande 5



A portrait of the Springbok rugby captain in 1910, Billy Millar.
Billy Millar, Springbok kaptein

Britanje het eerste op die veld gedraf onder luide applous en motor toeters. Doug Morkel het byna 'n strafskop vanaf die middellyn en naby die kantlyn oorgesit. Engeland het toe aangeval met Spoors en Pillman maar die bal is aangeslaan. Die Britte het toe aangeval totdat De Villiers weggebars het en vir Loubsher gegee het wat veldop geskop het vir sy voorspelers maar weer is die bal aangeslaan. Vanaf 'n skrum het die bal in die agterlyn af beweeg tussen Luyt en De Villiers maar Loubsher was op die hoekvlag uitgeduik. Die Springbokke het op die aanval gebly en was oor maar een van die voorspelers was onkant. Toe Luyt breek en vir Hahn wegstuur, is hy net betyds gestuit. Die Springbok voorspelers het toe vorentoe gedribel na die skrum geswaai was en Williams die Britse heelagter is in die proses sodanig beseer dat hy die veld moes verlaat.


Hierna was die Springbokke in beheer en Luyt het toe eers gemaak of hy vir De Villiers aan sy buitekant gaan gee, maar toe binnetoe gegee het na Roos wat rieme neergelê het doellyn toe vir sy drie wat deur Morkel verdoel is (5-0). Toe was dit Britanje wat in die Springbokke se gebied vorentoe geskop het deur Pillman en oor die kop van Allport, maar Allport was eerste by om te red. Weer het Suid Afrika aangeval en Luyt het sy voorspelers gevoer en tussen ses spelers met 'n oop doellyn, is die bal aangeslaan. Webb en Jarman het toe spel gevoer tot in die Springbokke se gebied en Baker was amper deur was dit nie vir 'n uitstekende stukkie verdediging van Allport wat die drie gekeer het nie.


Die tweede helfte het sensasioneel vir die Springbokke begin toe Luyt dwarsdeur die verdediging gebreek het na net twee minute se spel om te gaan druk. Die drie is ook deur Morkel verdoel en die telling was 10-0. Die skare se toejuiging was nog nie klaar nie toe De Villiers breek en net 'n vorentoe aangee het 'n drie verhoed. Die volgende skrum is deur die Britte geswaai en hulle voorspelers het met 'n dribbel beweging begin oor die veld. Heelagter Allport het egter die bal netjies opgetel, die voorspelers ontduik en 'n aanval begin. Hy het toe met systappe twee Britte geklop en toe die laaste verdediger hom vat het hy vorentoe geduik met man en al oor die lyn vir 'n uitstekende drie (13-0).


Doug Morkel het toe 'n moeilike strafdoel oorgeskop en dit was 16-0. Hierna het Van Ryneveld vir De Villiers oorgestuur vir 'n drie maar daar was obstruksie. Die Springbokke het toe effens verslap en die Britte het nuwe lewe gekry. Baker en Jones het weggebars maar 'n tekort aan onderseuning het 'n sekere drie verhoed. Daarna was dit weer Britanje met Jones wat gebreek het en vir Spoors oorgestuur het vir 'n welverdiende drie wat deur Pillman verdoel is (16-5). Hierna het De Villiers spel vorentoe gevat en van 'n losskrum het Reynecke die bal gekry en oorgestormram vir sy drie met 'n verdediger en al. Die drie is ook deur Morkel verdoel wat dan ook die eindtelling was (21-5).


bottom of page