top of page

1964 - Wallis kom haal 'n loesing

Updated: Mar 5, 2021

Wallis het hulle eerste oorsese toer na Suid Afrika onderneem as deel van die Suid Afrikaanse Rugby Raad se Jubilium Fees-Vieringe in Mei 1964. Van die vier wedstryde op toer waarvan een toets teen die Springbokke, kon hulle net twee teen Boland en Vrystaat wen, terwyl hulle teen Noord Transvaal en die Springbokke met redelike groot tellings verloor het.


FEITE:

  • Meer as tagtig ondersteuners uit Wallis onder wie twee tweede liga rugby klubs het spesiaal 'n vliegtuig gehuur om die toer mee te maak.

  • Onderweg na Suid Afrika het die Walliesers 'n wedstryd teen Oos-Afrika gespeel in Nairobi wat hulle met 26-8 gewen het.

  • Verskeie hooggeplaasde amptenare van die Walliese Rugby Unie is deur die Suid Afrikaanse Rugby Raad genooi om die toer as gaste by te woon.





 

1

(97) Suid Afrika, Saterdag, 23 Mei 1964

Kings Park, Durban - Enigste Toets

Suid Afrika 24, Wallis 3

Toeskouers (35 000)

Skeidsregter: G.K. Engelbrecht (Suid Afrika)






Springbok debutant rugby player, Gawie Carelse who played against Wales in Durban, 1964.
Gawie Carelse

Die enigste nuweling in die Springbokspan teen Wallis was Gawie Carelse wat vir Stompie van der Merwe op slot vervang het.


EERSTE HELFTE:


Voor 'n skare van so 35 000 op Kings Park in Durban het Suid Afrika sy grootste oorwinning nog oor Wallis behaal van 24-3. Die eerste helfte was baie gelykop wat spel aan beide kante betref en dit word ook in die rustyd telling van 3-3 weerspieël, maar na rustyd was dit 'n ander storie.


Van die eerste skrum af het Suid Afrika 'n vasskop gehaak en Wallis was gestraf. Frik du Preez se strafskop poging van binne sy eie halfgebied was kort. Vanaf hulle eie 10-treë lyn het die Springbokke gehardloop na 'n tikskoppie en Hopwood se aangee was vorentoe. Goeie kantlyn skoppe deur Rowlands en lynstaanwerk deur Price het die Walliesers op die aanval geplaas maar Oxlee het verligting gebring.


Springbok flyhalf, Keith Oxlee
Keith Oxlee

In die 12de minuut het Oxlee kans gekry om punte aan te teken van so 35 treë af maar sy skuins skop het voor die pale weggeswaai. In die 18de minuut was daar opwinding toe Gainsford die bal oor die Walliesers se agterlyn gelig het en hy en Watkins altwee geduik het vir die bal agter die doellyn, maar die skeidsregter het toe alreeds sy fluitjie geblaas.


Nelie Smith het toe die bal onder druk vasgehou en was gestraf. Bradshaw se sluins skop was skeef en Oxlee het uitgeskop. In die 26ste minuut het Watkins amper geslaag met 'n skepskop maar twee minute later het die Springbokke die eerste punte van die toets aangeteken. Eers het Avril Malan hoog gespring om onder 'n hoë skop van Wilson te kom en toe begin hardloop. Hy het na Dirksen laat loop wat weer vir Du Preez in besit gestel het. Toe kry Abie Malan die bal en gooi na Hannes Marais wat oorgeduik het, maar sy aangee was vorentoe. Vanaf die skrum was Gale gestraf en Oxlee het geen fout gemaak met sy strafskop voor die pale nie (3-0).


Lionel Wilson op heelagter was weereens rotsvas en toe Rowlands 'n skop op hom los, het hy die bal kalm voor die aanstormende voorspelers van Wallis gevat en mooi uitgeskop. Eers het Bradshaw met 'n strafskop en toe Watkins met 'n skepskop misluk maar in die 37ste minuut het Wallis gelyk getrek. Mof Myburgh was onkant betrap en Bradshaw se skuins skop van 35 treë wat die dwarswind goed gelees het om dit oor te stuur het die telling teen rustyd 3-3 gemaak.


TWEEDE HELFTE:


Die tweede helfte het begin met Gainsford wat aan die binnekant van Dawes verby is en vir Jannie Engelbrech weggestuur het. Watkins wie se verdediging uitstekend was in die toets, was by om die regter vleuel te stuit. Hierna was dit groot Gawie Carelse wat weggebars het maar hy was hard by die kantlyn uitgeslinger en het bietjie duislig opgestaan en voortgespeel.


Springbok fullback, Lionel Wilson
Lionel Wilson

Na 'n tydjie wat hulle moes verdedig, was dit Avril Malan wat die bal gekry het van Hopwood agter in die lynstaan en mooi weggebars het op 'n sterk lopie. Frik du Preez is vyf treë van die doellyn af gestuit. Toe het Gainsford weer aangeval met 'n kurktrekker lopie waar Malan en Du Preez weer tot naby die doellyn gevorder het voor die bal verloor is.


In die 18de minuut het Hopwood na lings geskop en Hodgson wat voor Dirksen by die bal was se skop kantlyn toe was nie uit nie. Wilson het die bal gevat naby die kantlyn en seker 50 treë van die pale af en vasgetrap en 'n allemintige skepskop oorgesit wat luidkeels deur die skare applous gegee is. Dit was Wilson se eerste skepskop in sy 18de internsionale wedstryd (6-3).



Skaars 'n minuut later het Engelbrecht vir Bebb in besit betrap en Frik du Preez het gekry en na Smith laat loop. Hy het op loop gegaan en met fop aangeë die verdediging geflous. Naby die doellyn was Hannes Marais by om sy aangee te vat en oor te duik met Rowlands te laat om hom te keer. Oxlee se vervyfskop was oor met 'n goeie skop (11-3).


Wallis was nou erg geskok en nog was dit nie die einde nie want in die 25ste minuut was dit weer sulke tyd. Tommy Bedford het 'n Walliese aangee onderskep so 15 treë van Wallis se doellyn af en alhoewel die bal verlore geraak het, het dit weer terug gekom aan Springbok kant vanaf die losskrum. Weer was Bedford by om vinnig op te tel en vir Smith te gee. Op sy beurt het Smith vir Hopwood gegee wat tussen die pale oor is vir sy drie wat deur Oxlee vervyf is (16-3).


Springbok eighthman Doug Hopwood scores a try against Wales in Durban, 1964.
Doug Hopwood druk sy drie

Wallis het egter nie gaan lê nie en Mantle het sterk gedryf naby die Springbok doellyn maar is deur Avril Malan neergetrek, wat saam met Du Preez reuse werk onder die voorspelers gedoen het. Die Springbokke was baie meer aanvallend en sou nog 'n drie gekry het as Engelbrecht nie uitgetrap het met 'n bedrieglike sterk lopie langs die kantlyn af nadat hy die bal van Hopwood ontvang het nie.


Springbok Dave Stewart has the ball in the backline against Wales during the only test of the tour in 1964.
Gebroke spel met Stewart in besit

Weer was dit 'n stormloop met Malan, Bedford en Hopwood wat die bal rondgegooi het wat gate in die verdediging gelaat het en Engelbrecht het weer oopgelê doellyn toe maar die laaste aangee was vorentoe. In die 37ste minuut het Oxlee nog 'n strafskop oorgesit van net buite die "25" van Wallis (19-3).


Wallis het nogsteeds probeer aanval en naby die einde is losskakel Watkins trouens oor die doellyn net om die bal in die proses te verloor. Suid Afrika het aangehou om die bal rond te gooi met aanvallende spel en in beseringstyd het hulle nog 'n laaste drie gekry.


Springbok captain Nelie Smith kicks ahead against Wales in Durban, 1964.
Kaptein Nelie Smith skop

Eers het John Gainsford die lyn half gebreek waarna Stewart die bal verder gedra het. Die voorspelers was by om te ondersteun en Avril Malan het vir Nelie Smith oorgestuur om onder die pale te gaan druk met Oxlee wat die vervyfskop oorgesit het (24-3). Hierna het die eindfluitie geblaas.


Dit was 'n baie bevrediginde vertoning deur die Springbokke na 'n middelmatige reeks teen Australië in 1963. Voor en agterspelers het nadat hulle hul voete gevind het, bewegings van hoogstaande gehalte gelewer wat met spoed uitgevoer was en waarby die Walliesers net nie kon kers vashou nie.


 

291 views0 comments

Recent Posts

See All
bottom of page