top of page

1960 - Skotland se eerste besoek aan S.A.

Updated: Dec 9, 2020

Dit was die eerste "kort" internasionale toer in Suid Afrika en ook die eerste keer dat Skotland in Suid Afrika kom toer het. Daar was net drie wedstryde op toer gespeel waaronder een toets. Nog eerstes is dat dit die eerste keer was dat 'n Rhodesiër as Springbok kaptein aangewys was, naamlik Des van Jaarsveld. Dit was ook die eerste toets wat op die Boet Erasmus Stadion gespeel was.


Toe Martiens Bekker gekies was vir die toets teen die Skotte, was 'n wêreld rekord daargestel deurdat vyf Springbokke uit een familie gekies was. Hulle was Jaap (rugby) 1951-52, 1953, 1955, 1956, Dolf (rugby) 1953, Martiens (rugby) 1960, Daan (boks) 1957, 1960, Corrie (atletiek), 1956, 1960.


Agt Springbokke vir die Skotland toets was gekies uit die Junior Springbokspan wat die vorige Saterdag ook op die Boet Erasmus Stadion gespeel het teen die Res van Suid Afrika. Hulle was Jannie Engelbrecht, John Gainsford, Robert Twigge, Dave Stewart, Mannetjies Gericke, Doug Holton, Peter Allen en Doug Hopwood.



The Junior Springbok rugby team to Argentina in 1959.
Junior Springbokspan na Argentinië, 1959




Des van Jaarsveldt the Springbok captain against Scotland in 1960.
Des van Jaarsveldt
The Scotland rugby team sheet and itinerary against South Africa, 1960.
Skotland se span en reisprogram

(76) Suid Afrika, Saterdag 30 April 1960

Boet Erasmus Stadion, Port Elizabeth - Toets

Suid Afrika 18, Skotland 10

Toeskouers (24 000)

Skeidsregter: E.A. Strasheim (Suid Afrika)




EERSTE HELFTE:


Die Springbokke nog aan die spanbou na die nederlae teen Nieu Seeland (1956) en Frankryk (1958) het wel die Skotte in Port Elizabeth gewen maar dit was vêr van oortuigend af. Die Skotte het die Springbokke en die skare geskok toe hulle binne die eerste paar minute van die toets met 5-0 voorgeloop het. Edwards die losvoorspeler van Skotland het dwars geskop en Ian Kirkpatrick het die bal voor sy pale gevang maar is in besit betrap. Hy het egter vinnig die bal na Jannie Engelbrecht gegooi wat misgevang het en Bruce die haker was by om onder die pale oor te gaan vir 'n skok-drie punte wat Smith vervyf het (0-5).


Bryan Shillinglaw, Scotland scrum half gets the ball away to Arthur Smith in Port Elizabeth, 1960.
Bryan Shillinglaw gee uit na Arthur Smith

Skotland was duidelik die beter span in die eerste vyf-en-twintig minute. Dit ten spyte van die feit dat hulle vroeg vir senter Stevenson verloor het met 'n besering. In die tyd het Springbok heelagter 'n dood-maklike strafskop reg voor die pale misgeskop nadat die Skotte se skrumskakel gestraf was. Stevenson het wel later in die eerste helfte weer op die veld verskyn. Die Skotte het almal verbaas met hulle durf en moed om goeie weerstand te bied teen die Springbokke wat verroes voorgekom het. Mens kan verstaan dat baie kombinasies nuut was en dat die Springbokke twee jaar gelede laas toets rugby gespeel het.


Robert Twigge, Springbok centre runs with the ball against Scotland, 1960.
Robert Twigge met die bal vir S.A.

Dit was die ses-en-twintigste minuut toe Mannetjies Gericke, die nuwe Springbok skrumskakel steelkant om gebreek het en die Skotse losvoorspelers onkant gevang het. Sy binne-aangee was in die hande van flank Hugo van Zyl, wat onder die pale oorgegaan het vir 'n drie wat deur Gerber vervyf is (5-5). John Gainsford het 'n paar keer mooi gebreek maar hanteerfoute het goeie bewegings in die wiele gery. Net voor rustyd het Grant van Skotland die bal verby heelagter Gerber geskop maar Gerber se spoed het hom gehelp om die situasie te red.


TWEEDE HELFTE:


Die Skotte het in die tweede helfte nog steeds goeie weerstand gebied en hul skrumskakel Shillinglaw het 'n paar keer by die skrum verby gebreek en die Bokke moes bontstaan om te keer. Na agtien minute was dit weer Gericke wat die Skotse losvoorspelers uitoorlê het met 'n skerp breek om die skrum en toe hy voorgekeer word, was Hugo van Zyl weer byderhand om 20 treë te hardloop vir sy tweede drie onder die pale. Gerber het ongelukkig nie sy skopskoene saam gebring nie en die maklike vervyfskop verbrou (8-5).


Tien minute voor die einde van die toets het Mannetjies Gericke seker gemaak dat die Springbokke meer gemaklik met die telling kon speel toe hy skerp gebreek het by Edwards verby en sowat 15 treë gehardloop het vir sy drie. Die keer was Gerber in die kol met die vervyfskop (13-5). Drie minute later was dit kaptein Des van Jaarsveldt wat 'n losbal opgeraap het en deurgedraf het vir sy drie ook agter die pale. Gerber se vervyfskop was oor en skielik was dit 18-5. Die Skotte het egter die laaste hou ingekry toe die Springbokke weereens 'n hanteerfout begaan het en Edwards en Bruce met 'n aanval gekom het en die vlugvoetige Shillinglaw verskeie duikslae ontduik het om vir Smith in staat te stel om sy drie te gaan druk onder die pale wat deur homself verfyf is om die eindtelling 18-10 in die guns van die Springbokke te maak.


 

352 views0 comments

Recent Posts

See All
bottom of page