Updated: Nov 29, 2020
Die derde besoek deur die Springbokke aan Australië en Nieu Seeland was nie so geslaagd nie en die span het baie terugslae en probleme ondervind. Van die faktore wat teen die Springbokke gewerk het was onder andere, die baie beserings wat opgedoen is en hiermee saam kan die slegte nat veld toestande genoem word. Die interpretasie van die reëls en die feit dat van die skeidsregters nie die ontkant-reël konsekwent toegepas het nie was van die ander faktore wat tot die Springbokke se ondergang gelei het.
Daar was soveel beserings op toer dat twee plaasvervangers uit Suid Afrika laat kom is naamlik Theuns Briers en James Starke en hulle het by die span aangesluit voor die eerste toets. Basie van Wyk het sy been gebreek voordat die toer amptelik begin het en hy kon geen wedstryd op toer speel nie (wat 'n tragedie).
Salty du Rand en Chris Koch het die rekord van Boy Louw en Gerry Brand geëwenaar deur in vyf internasionale reekse te speel.
Roy Dryburgh het die rekord van Attie van Heerden gebreek deur ses drieë in een wedstryd te druk naamlik teen Queensland ook in Australië.
Al drie die Springbok losskakels was ook provinsiale krieketspelers, naamlik, Clive Ulyate, Brian Pfaff en Peewee Howe.
Die keurders was: Frank Mellish (Voorsitter), Bill Zeller, Danie Craven, Basil Kenyon en Jan Lotz.




AGTER: Bertus van der Merwe, Daan Retief, Jaap Bekker, Melt Hanekom, Harry Newton Walker, Jeremy Nel, Butch Lochner, Tom van Vollenhoven, Clive Ulyate, Chris de Wilzem. STAANDE: Wilf Rosenberg, Piet du Toit, Jan Pickard, Johan Claassen, Chris de Nysschen, Dawie Ackermann, Chris Koch, Roy Dryburgh, Brian Pfaff. SITTENDE: Paul Johnstone, Johnny Buchler, Basie Viviers (Kaptein), Danie Craven (Bestuurder), Salty du Rand, Ian Kirkpatrick, Basie van Wyk. VOOR: Peewee Howe, Tommy Gentles, Pat Montini, Popeye Strydom, Jan du Preez.

AGTER: Wilf Rosenberg, Tom van Vollenhoven, Brian Pfaff, Jeremy Nel, Clive Ulyate, Paul Johnstone. DERDE RY: Roy Dryburgh, Ian Kirkpatrick, Daan Retief, Johan Claassen, Piet du Toit, Chris de Wilzem, Jan du Preez. TWEEDE RY: Butch Lochner, Melt Hanekom, Harry Newton Walker, Chris de Nysschen, Dawie Ackermann, Jan Pickard, Basie van Wyk, Bertus van der Merwe. SITTENDE: Chris Koch,Jaap Bekker, Danie Craven (Bestuurder), Basie Viviers (Kaptein), Dan de Villiers (Onder-Bestuurder), Salty du Rand, Johnny Buchler. VOOR: Peewee Howe, Tommy Gentles, Pat Montini, Popeye Strydom.


Dit was die eerste keer dat die Springbok rugbyspan per vliegtuig na enige land gereis het op 'n oorsese toer. Op alle vorige oorsese toere het hulle per skip gereis.

DIE AUSTRALIESE BEEN VAN DIE TOER

AGTER: Keith Cross, Nick Shehadie, Tony Miller, John Solomon (Afrigter), Garth Jones, Mac Hughes, Colin Forbes. SITTENDE: Jim Brown, John Thornett, Alan Cameron (Kaptein), Ross Shiel, Saxon White. VOOR: Rod Phelps, Cyril Burke, John O'Neill. INLAS: Jim Phipps.

AGTER: Butch Lochner, Daan Retief, Johan Claassen, Dawie Ackermann, Chris Koch, Jeremy Nel. SITTENDE: Paul Johnstone, Bertus van der Merwe, Jaap Bekker, Basie Viviers (Kaptein), Salty du Rand, Brian Pfaff, Pat Montini. VOOR: Tom van Vollenhoven, Popeye Strydom.
(68) Australië, Saterdag 26 Mei 1956
Sydney Krieket Gronde, Sydney - Eerste Toets
Suid Afrika 9, Australië 0
Toeskouers (36 000)
Skeidsregter: R. Vanderfield (Australië)
EERSTE HELFTE:
Om die eerste toets wedstryd na net twee weke op toer te speel en boonop party sleutelspelers nie kon gebruik nie as gevolg van beserings, was 'n hoë hekkie vir die Springbokke om oor te kom. Vier nuwe spelers het hulle debuut gemaak naamlik, Brian Pfaff, Pat Montini, Jeremy Nel en Basie Viviers, die kaptein. Daar was darem wel 'n paar ou hande ook in die span soos Chris Koch en Salty du Rand wat hulle sestiende toets gespeel het asook Jaap Bekker met sy tiende. Die Wallabies moes in wit truie speel omdat hul gebruiklike groen truie met die van die Springbokke sou gebots het. Dit was dieselfde tendens toe die Wallabies laas in Suid Afrika gespeel het in 1953 behalwe toe moes die Springbokke as gasheer land, in wit truie gespeel het.

Die Springbokke het teen 'n stewige wind in die eerste helfte gespeel maar vroeg vêr gevorder toe Van Vollenhoven mooi gehardloop het en vir Johnstone gegee het wat weer vir Ackermann gegee het. Die stewige flank het soos 'n vleuel afgesit doellyn toe maar sy laaste aangee na Lochner het verlore gegaan en 'n sekere drie was verbrou. Toe kom die Wallabies terug met 'n dribbelloop veldop en Van Vollenhoven moes red met 'n buitelyn skop. Brian Pfaff moes toe die veld verlaat met 'n besering.
Die Springbokke het meeste aanvalle gedoen en binne die Wallabies se gebied gebly vir lang rukke maar kon net nie deurkom nie. Vir die Springbokke het die besering's spook gery toe Pat Montini ook beseer was na een van sy mooi breekslaë op die Wallabies se "25". Hy kon gelukkig weer voortspeel, maar Pfaff was nog van die veld af. Voordat Pfaff uiteindelik weer op die veld verskyn het met sy knie verbind, het Australië twee keer amper punte aangeteken.

Die Springbokke was weer diep binne Australië se gebied toe Dawie Ackermann weer kans kry met die bal maar hy was op die hoekvlag uitgeduik wat beslis gelyk het na 'n gevaarlike hoogvat deur 'n Wallabie speler. Net toe dit lyk of daar geen telling voor rustyd gaan wees nie, kry Jeremy Nel die bal van Butch Lochner en met 'n pypkan (dummy) van hy die verdediging op die verkeerde voet en hy sny toe in en gaan druk naby die hoekvlag. Viviers kon nie slaag met die vervyfskop nie (3-0). Dit was dan ook die rustyd telling.
TWEEDE HELFTE:

Die Springbokke het die tweede helfte begin sonder Chris Koch wat behandeling ontvang het vir 'n knie besering terwyl Pfaff net 'n passasier was en as tweede heelagter rond gehuppel het. Binne die eerste twee minute het Australië op hulle "25" gefouteer en Basie Viviers het die waardevolle strafskop oorgesit (6-0). Die volgende punte het weer aan Suid Afrika behoort toe hulle vanuit hulle eie gebied 'n beweging begin het. Jeremy Nel het die bal oor die koppe gegooi na Lochner wat in die middel opgeduik het. Van Vollenhoven het toe ingesny en toe hy vasgevat word, het hy laat loop na Daan Retief en met die verdediging uitgedun het hy oopgelê doellyn toe. Met Phelps en O'Neill wat aan hom gehang het, het hy die doellyn gehaal en naby die hoekvlag oorgegaan vir sy welverdiende drie. Viviers kon nie slaag met die vervyfskop nie (9-0).
(69) Australië, Saterdag 2 Junie 1956
Uitstallings Gronde, Brisbane - Tweede Toets
Suid Afrika 9, Australië 0
Toeskouers (22 000)
Skeidsregter: T.W. Moore (Australië)

STAANDE: Butch Lochner, Daan Retief, Harry Newton Walker, Johan Claassen, Dawie Ackermann, Jeremy Nel, Roy Dryburgh, Johnny Buchler. SITTENDE: Tom van Vollenhoven, Bertus van der Merwe, Danie Craven (Bestuurder), Basie Viviers (Kaptein), Dan de Villiers (Onder-Bestuurder), Salty du Rand, Daan Bekker. VOOR: Pat Montini, Popeye Strydom.

EERSTE HELFTE:
Australië het verkies om eerste teen die wind te speel en toe die Springbokke vroeg onkant gaan was Roberts se skop skeef. Daar was vyf stafskoppe toegeken binne die eerste vyf minute. Die Wallabies se agterspelers se taktiek was om baie vlak te lê en sodoende die Springbok agterspelers min beweegruimte te gee. Die voorspeler pak van Australië het goed gestaan teen die Springbokke en hulle reputasie van gedugte teenstaanders teen die All Blacks gestand gedoen. Die losvoorspelers van Australië het die binne agterspelers van die Springbokke in toom gehou deur vinnig op te kom en die stadige bal van die Springbokke uit te buit.

Daar was groot opwinding vir Springbok ondersteuners toe Popeye Strydom om die skrum gebreek het en kort voor die doellyn neergetrek was. Daar was nie baie te kies tussen die twee spanne nie alhoewel die Springbokke tog gebiedsvoordeel geniet het. Spoed het ontbreek tussen die Springbok skakelpaar en dit het bygedra dat daar nie baie goeie agterlyn bewegings was nie. Basie Viviers, gewoonlik 'n heelagter, was in die belangrike losskakel posisie en miskien was dit 'n fout aangesien hy nie so vinnig sy agterlyn kon wegkry nie. Popeye Strydom het waarskynlik die tekortkoming gesien en op die regte tye eerder gebreek en hy het 'n uitstekende toets wedstryd gespeel.

Springbok flank, Daan Retief het 'n baie goeie wedstryd gehad, sy beste op toer sover. Hy het dikwels spel na die agterlyn gevat en ook baie goed by hulle aangesluit om te ondersteun. Sy eie drie het ook so gekom. Hy was by toe die Wallabies se Saxton White met die bal in besit betrap is binne sy kwartgebied en Retief het die bal afgevat en hy was oor vir sy drie nog voordat enige Wallabie by hom kon kom. Roy Dryburgh kon nie die vervyfskop oorsit nie (3-0). Net hierna het die rustyd fluitjie geblaas.
TWEEDE HELFTE:
Salty du Rand kon weer sy plek inneem nadat sy beseerde ribbes verbind was halftyd en die Springbokke was gou weer in die Wallabies se helfte maar kon nie deurkom nie. Basie Viviers kon ook nie met 'n betreklik maklike strafskop slaag nie. Daarna het Tom van Vollenhoven weggebars en Dryburgh, Ackermann en Retief het mooi hanteer en 'n drie het na 'n moontlikheid gelyk. Terwyl Retief oor die lyn gegaan het is die bal uit sy hande gegryp deur Hughes wat tot Australië se redding gekom het.

Weer het Suid Afrika aangeval en Montini het die rigting verander en aan die steelkant van 'n skrum om gehardloop om vir Dryburgh te gee wat naby die hoekvlag uitgestamp was. Dryburgh se kans het hierna gekom toe Strydom vanaf 'n skrum op sy eie tien-treë lyn gebreek het en vir Ackermann in besit gestel het. Ackermann het tot naby die doellyn gevorder en toe vir Dryburgh gegee wat naby die hoekvlag oor is vir sy drie. Basie Viviers het net-net met die vervyfskop gemis (6-0).
Net hierna het Popeye Strydom weer om die skrum gebreek maar 'n tekort aan ondersteuning het sy poging in die wiele gery. Strydom het meer as gewoonlik van die taktiek gebruik gemaak om te breek omdat sy agterlyn nie glad beweeg het wanneer hy wel na hulle laat loop het nie. Die Australiese agterlyn het 'n houvas op die Springbokke gehad. Suid Afrika het onverwags en al in beseringstyd die laaste punte aangeteken toe Basie Viviers die bal kry vanaf 'n skrum en aan Tom van Vollenhoven gee. Van Vollenhoven het vasgesteek en 'n lang skepskop deur die pale gejaag om die eindtelling 9-0 te maak.
DIE NIEU SEELANDSE BEEN VAN DIE TOER
Die hele Nieu Seeland het gewag vir die oomblik dat die Springbokke se vliegtuig moes land om die toer van alle toere te begin. Groot was die afwagting by almal oor die toer van 1956 want die neerlae van 1937 (reeks) en die 4-0 pak slae wat die All Blacks van Fred Allen in 1949 in Suid Afrika gekry het, moes gewreek word, ten alle koste. Die toer het nie goed begin in Nieu Seeland nie want die Springbokke het hulle heel eerste wedstryd teen Waikato verloor.
(70) Nieu Seeland, Saterdag 14 Julie 1956
Carisbrook, Dunedin - Eerste Toets
Suid Afrika 6, Nieu Seeland 10
Toeskouers (39 300)
Skeidsregter: F.G. M. Parkinson (Nieu Seeland)

AGTER: Clive Ulyate, Jeremy Nel, Daan Retief, Johan Claassen, Roy Dryburgh, Butch Lochner, Paul Johnstone. MIDDEL: Dawie Ackermann, Bertus van der Merwe, Salty du Rand (Kaptein), Jaap Bekker, Harry Newton Walker. VOOR: Jan du Preez, Popeye Strydom, Peewee Howe.

AGTER: Ponty Reid (reserwe), Denis Young (reserwe), Bill Gray, Mark Irwin, Don McIntosh, John Buxton, Morrie Dixon, Ron Jarden. MIDDEL: R.C. Stewart (keurder), Robin Archer, J.R. Watt (reserwe), Tiny White, Nev McEwan (reserwe), Tiny Hill, Peter Jones (reserwe), Ron Hemi, Ross Brown, J.L. Sullivan (keurder). SITTENDE: A.F. Marslin (keurder), Pat Walsh, Pat Vincent (kaptein), L.V. Carmine (Bestuurder), Bob Duff (onder-kaptein), Ian Clarke, T.C. Morrison (keurder).
Crown Studios Collection - Alexander Turnbull Library, Wellington, N.Z.
EERSTE HELFTE:
As daar ooit 'n toets wedstryd was wat Suid Afrika moes gewen het maar dit nie gedoen het nie, dan was dit hierdie eerste toets teen Nieu Seeland in 1956. Vir die grootste gedeelte van die wedstryd het die Springbokke die botoon gevoer. Vroeg in die wedstryd het Roy Dryburgh 'n lang strafskop probeer maar die bal het die regoppaal getref en terug gespring. Hy het egter geen fout gemaak toe die All Blacks na sewe minute onkant gegaan het in hulle eie "25" nie en sy strafskop het dit 3-0 gemaak.

Hierna het Dixon amper gaan druk toe hy 'n swak aangee van Ackermann na sy agterlyn optel en naby die doellyn gestuit is. Die All Blacks het aangeval en met hulle "up-and under" taktiek die Springbokke vasgepen in hulle eie gebied. Jarden het 'n sterk lopie ingekry en was amper deur as dit nie was vir goeie verdediging nie.
Naby aan rustyd het die Springbokke weer strafskoppe afgestaan en Dryburgh is in besit betrap in 'n los gemaal nadat Lochner se "merk" nie deur die skeidsregter gesien is nie en hy onderstebo geloop is. Tiny White het die los bal opgetel en deurgebars vir 'n drie wat deur Jarden vervyf is (3-5).
Net voor halftyd was die All Blacks weer op die aanval maar die Springbokke het terug geslaan en met 'n mooi beweging so goed gevorder dat 'n seker drie 'n moontlikheid was, maar die laaste aangee is deur die vinnige All Black vleuel Ron Jarden onderskep was ongehinderd deur gehardloop het en onder die pale gaan druk het en toe sy eie drie vervyf het om die All Blacks met rustyd met 10-3 te laat voorloop. Hierdie was 'n geweldige terugslag vir die Springbokke so naby aan rustyd.
Eers het Butch Lochner seergekry en alhoewel hy op die veld gebly het, was hy eintlik net 'n passasier. Net voor rustyd is Dawie Ackermann van die veld af gedra met 'n besering. Om die situasie nog verder te vererger, is Jan du Preez net na rustyd ook afgedra met 'n gebreekte been besering en die Springbokke het dus eintlik met net twaalf spelers gespeel.
TWEEDE HELFTE:
Die Springbokke met twee en 'n half man kort het soos 'n vol span gespeel en die All Blacks moes keer om nie punte af te staan nie. Intussen het Irwin van Nieu Seeland ook die veld verlaat met 'n besering. Clive Ulyate het die Springbokke op die aanval gehou met lang skoppe na die kantlyn. Paul Johnstone het een keer amper gedruk toe Walsh nie die bal onder beheer kon kry agter sy eie doellyn nie. Toe het Peewee Howe mooi gehardloop en is eers vyf treë van die All Blacks se doellyn uitgestamp.

Toe kom die mooiste drie van die toets. Na 'n volle agterlyn beweging was dit Springbok vleuel Paul Johnstone was die bal gekry het en toe die verdediging vir hom gaan, hy die bal terug aangegee het na Peewee Howe wat deur was en oorgeduik het vir sy drie. Dryburgh kon egter nie die drie vervyf nie (6-10). Die All Blacks het op 'n streep agter Howe gelê soos hulle probeer het om hom te keer.

Hierna het die All Blacks weer aangeval toe Archer vorentoe geskop het en Gray die bal op volspoed gekry het en op loop gegaan het. Hy het onder die verdediging uit gehardloop maar sy aangee na Jarden was vorentoe en alhoewel Jarden gaan druk het, is hulle terug geroep. Die laaste ruk voor die einde het altwee spanne desperaat probeer punte aanteken of verdedig maar Suid Afrika het sterk geëndig toe die All Blacks gereeld die kantlyn moes opsoek.
MEDIA VERSLAE:

Na die eerste toets was daar gemengde gevoelens in die media oor beide spanne. Die opskrif van "News Sports Special" was: "ALL BLACKS BEAT BOKS 10-6 - thirteen South Africans go down fighting". "Star-Sun" (Christchurch) skryf: Daar was twee redes hoekom Nieu Seeland gewen het, eerstens omdat hulle die twee kanse om drieë aan te teken ten volle benut het en omdat hulle die Springbok agterlyn gedwing het om skuins oor die veld te beweeg.
Die blad gee ook spesiale vermelding en lof aan Johan Claassen: "Hy is die grootste voorspeler in skrums, lynstane en losskrums wat op Nieu Seelandse velde gesien is".
Daar was ongeveer veertig duisend toeskouers wat op Carisbrook in Dunedin toegesak het en deur die nag in die koue gewag het en teen agtuur die Saterdag oggend, was daar reeds 15 000 toeskouers voor die hekke. Teen elfuur was daar 30 000 mense rondom die veld en toe die hekke om 12:30 toegemaak moes word, moes honderde toeskouers teleugesteld omdraai.
FOTOBEELD:
(71) Nieu Seeland, Saterdag 4 Augustus 1956
Athletic Park, Wellington - Tweede Toets
Suid Afrika 8, Nieu Seeland 3
Toeskouers (47 500)
Skeidsregter: F.G. M. Parkinson (Nieu Seeland)

AGTER: Clive Ulyate, Ian Kirkpatrick, James Starke, Butch Lochner, Johan Claassen, Danie Craven (Bestuurder), Jan Pickard, Jeremy Nel, Theuns Briers, Daan Retief. SITTENDE: Tommy Gentles, Chris Koch, Salty du Rand, Basie Viviers (Kaptein), Bertus van der Merwe, Jaap Bekker, Paul Johnstone. (Starke het nie gespeel nie).

Crown Studios Collection - Alexander Turnbull Library, Wellington, N.Z.



Mense het van heinde en vêrre gekom vir die tweede toets van die belangrike 1956 reeks teen Nieu Seeland in Wellington. Dit was bitter koud maar die winter's weer het nie die mense se entoesiasme gedemp nie. Buite die stadion, Athletic Park is daar gekamp en bed gemaak al die vorige aand sodat toeskouers wat die toets wou sien, van die eerstes deur die hekke kon gaan die Saterdag oggend. Onthou, daar was nie televisie nie, net radio en dis een van die groot redes vir die geweldige belangstelling wat daar by al die toetse was om die drama self te beleef.
EERSTE HELFTE:

Op 'n koue winderige dag het Suid Afrika eerste teen die wind gespeel en alhoewel die veld nat was van die vorige reëns was dit nie te modderig nie. Die All Blacks het ingeklim van meet af en met hulle nuwe taktiek van hoogskop en storm moes die Springbokke en Basie Viviers op heelagter bontstaan om al die gate toe te stop. Toe probeer Ron Jarden 'n strafskop van 'n maklike posisie op die Springbok kwartlyn, maar hy mis.
Die eerste punte het aan Nieu Seeland behoort toe Pat Walsh in die twaalfde minuut weer hoogskop en die Springbokke in die wind mistas. Senter Bill Gray was by om die bal te gryp en vir Ross Brown oor te stuur vir 'n drie wat Jarden weer nie kon vervyf nie (0-3). Daar was egter kalmte onder die Springbokke en Claassen, Du Rand en sy voorspelers het voorlangs die All Blacks laat les opsê. Maar eers na vieftien minute kom die Springbokke in die halfgebied van die All Blacks.

So byna kom Gentles deur maar word gekeer en Suid Afrika word gestraf. Lang skoppe saam met die wind help egter die All Blacks om weer in die Springbokke se gebied te kom. Vleuel Brown glip deur en gooi vir Dixon wat oorduik, maar sy aangee was vorentoe en die skeidsregter Mnr. Parkinson roep hulle terug.
Jarden het met nog twee strafskoppe pale toe misluk, een was redelik maklik. Die All Blacks het alhoewel hulle saam met 'n sterk wind gespeel het, nie genoegsaam punte opgebou in die eerste helfte om die Springbokke met vrees te vul nie. Redes vir hulle swak spel was dat die voorry gesukkel het teen die Springbokke, hul kanse saam met die wind het hulle met doellose skoppe weggegooi en die Springbokspan wat met mening ingeklim en verdedig het. So ook het skrumskakel en kaptein Vincent sy driekwarte stadig weggekry en dit het die vloei van spel belemmer. Dit was rustyd met die All Blacks net drie punte voor.
TWEEDE HELFTE:
Die bordjies word nou vervang en die Springbokke het nou die voordeel van die sterk wind van agter. Die stadige swak diens agter die All Black pak word ook nou behoorlik uitgebuit deur Butch Lochner wat die skakelpaar vasvat.

Kort na die begin van die tweede helfte is dit Clive Ulyate wat die bal naby die All Blacks se doellyn uitskop. Na die lynstaan ontstaan 'n losskrum en Gentles kry die bal en soos blits glip hy deur en besorg die bal aan Daan Retief, Springbok agsteman wat deur die All Blacks duik vir sy drie. Basie Viviers vervyf vanaf naby die kantlyn met sterk wind en al om dit 5-3 te maak.
Die Springbokke het van toe af aangeval en Paul Johnstone was oppad hoekvlag toe maar Brown het hom gestuit. In die sterk wind kon die Springbokke nie twee strafskoppe oorkry nie. Die All Blacks het aangeval met 'n hoë skop wat Tiny White in die hande gekry het maar die Springbokke het sy beweging gesmoor. Die All Blacks het toe oortree en Viviers het verligting gebring met 'n lang buitelyn skop.

Weer is die Springbokke op die aanval en weer breek klein Gentles en laat loop na Salty du Rand aan sy binnekant wat oorgaan en sy drie druk. Ongelukkig kon Viviers nie vir die Springbokke vervyf nie maar hulle was nou 8-3 voor.
Die All Blacks kry toe die bal en Dixon kom in die agterlyn en bewerkstellig 'n ekstra man oor. Die bal is in die hande van die vinnige Jarden wat ooplê doellyn toe, maar helaas word hy vasgekeer. Hy skop toe dwars vir sy voorspelers maar daar kom 'n strafskop teen hulle en 'n sekere drie gaan verlore.

Voor die einde van die toets is Jaap Bekker en Salty du Rand van die veld af met beserings. Jaap Bekker kon na die tyd 'n groot gedeelte van die toets nie onthou nie (sien video greep). Hy vertel dat dit gebeur het toe die All Blacks gereeld die skrum laat val het en toe het Bob Duff se skoen teen sy kop beland wat die bloed veroorsaak het. Net hierna het die eindfluitjie geblaas met Suid Afrika wat die belangrike tweede toets gewen het met 8-3.